Lees Handelinge 26:9-18
“Ek het self gedink dat ek alles in my vermoë moes doen teen die Naam van Jesus van Nasaret…”(9)
Lew Wallace, skrywer van Ben Hur, was ’n agnostikus – iemand wat beweer ’n mens kan niks van God of die hiernamaals weet nie en kan slegs tasbare en sigbare verskynsels aanvaar. Hy het Jesus as ’n historiese figuur verwerp. Hy en die ander beroemde agnostikus, Robert C. Ingersoll, was intieme vriende.
Lew Wallace was goewerneur van Arizona. Na sy termyn verval het, het hy saam met sy vriend, Robert Ingersoll, na St.Louis teruggekeer. Toe die stad in sig kom, praat hulle oor die menigte kerktorings – ’n woud van kerktorings, het Wallace dit genoem – wat bokant die ander geboue uitrys. “Is dit nie ’n skande nie,” sê Ingersoll, “dat so baie, skynbaar intelligente mense, aanhou glo in die dwase leringe, wat onder daardie torings verkondig word.” Hy draai na Wallace toe met die woorde: “Lew, jy is ’n geleerde man en ’n denker. Hoekom versamel jy nie die nodige stof vir ’n boek wat sal bewys, die storie oor Jesus is vals, so ’n persoon het nooit geleef nie en die lering van die Nuwe Testament is ongegrond. So ’n boek sal ’n meesterwerk wees. Dit sal jou beroemd maak en die sogenaamde geloof in Christus, as Verlosser van die wêreld, die nek inslaan. Lew Wallace het dadelik belanggestel en hulle het die benadering tot so ’n belangrike werk bespreek. By sy aankoms in Indianapolis, sy tuisdorp, begin hy dadelik om elke bekende bron na te speur, om die materiaal vir sy boek bymekaar te maak. Na ’n paar jaar het hy alle moontlike gegewens oor die tydperk waarin Jesus sou geleef het, bymekaar gehad.
Hy het die boek begin skryf. Oor die vordering van die werk skryf hy so: “Na ek vier hoofstukke geskryf het, dring dit tot my deur: Jesus Christus is net so ’n werklike persoonlikheid as Socrates, Plato, Caesar en ander historiese persone. Ek het myself die vraag gevra: As Hy ’n werklike persoon was (en daar was by my geen twyfel daaroor nie) was Hy dan nie ook Seun van God en die Verlosser van die wêreld nie? Een nag het die oortuiging sekerheid geword. Ek het op my knieë geval en vir die eerste keer in my lewe gebid. Ek het God gevra om Homself aan my te openbaar, my sondes te vergewe en my te help om `n volgeling van Jesus Christus te word. Teen die oggend se kant het die lig van geloof in my hart deurgebreek. Ek het na my slaapkamer toe gegaan en vir my vrou vertel, ek het Jesus Christus, as my Here en Verlosser, aangeneem. “O, Lew!” het sy uitgeroep, ”vandat jy my vertel het, van die boek wat jy wou skryf, het ek gebid, jy moet Hom as jou Verlosser leer ken.” Die stof wat Lew Wallace so versamel het, het hy toe gebruik om die boek Ben Hur te skryf, om daardeur Christus se naam bekend te maak.
“Here, vandag bely ek U openlik as my Here en Verlosser .”