Do 24 Sept: 'n Gevaarlike Werktuig

Lees Psalm 43: 1 – 5

”Waarom is ek dan so neerslagtig en bekommerd? Ek moet my verwagting op God stel…” (5)

‘n Ou fabel vertel die storie, van die duiwel, wat eenkeer ‘n uit­verkoping van sy werktuie gehou het. Op ‘n tafel het hulle almal uitgestal en gemerk gelê – haat, na­ywer, wellus, woede, dronkenskap, hebsug – al die bekende werktuie waarmee Satan lewens ver­woes. Eenkant het ‘n klein, wigvormige apparaatjie gelê, oud en verslete, maar duurder as al die an­der. Iemand vra Satan hieroor uit, Hy verduidelik: “Hierdie gereedskappie se naam is Moede­­loosheid. Hy werk vir my beter as enigeen van die ander. Niemand weet dit is myne nie, maar as ek hom eers ingewig het, kan ek enige deur oopmaak.”

Die lewe is nie ‘n reguit en maklike straat, waar­langs ons ongehinderd kan voortreis nie. Dit is ’n doolhof van gangetjies en paadjies, waardeur ons ons weg moet soek – nou verdwaal ons, raak deurmekaar, beland in ‘n dood­loop­s­traat. Boonop het ons te doen met ons ak­tie­we vyand, die duiwel. “…julle teëstander, die duiwel … soek wie hy kan ver­slind (1 Pet.5:8); …sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef.6:11). Ons moede­loosheid, is sy oorwinning. Vertel u probleem vir God. God maak altyd vir ons ‘n deur oop. So­lank die ont­fer­mende God lewe en ons deur die Here Jesus Christus tot Hom toegang het, is daar vir ons, onder alle omstan­dighede, hoop. “Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte ge­gaan… sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God…Dit is Hy wat ons….gered het en ons weer sal red … Op Hom is ons hoop gevestig” (2 Kor.1:8-10). “Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel” (Ps.138:3).

Here, vandag vra ek U om vir my my weg te leer.”