Lees: 1 Korintiërs 6: 17, 18.
…en Ek sal julle aanneem, en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees.”
‘n Ryk, reisende handelaar, het vir sy enigste seun, ‘n groot fortuin nagelaat. Hy het hom as ‘n klein seuntjie, in die sorg van ‘n oom, in Indië, gelaat. Na sy ryk pa se dood, het die seun, na die baie jare in die vreemde, teruggekeer huis toe. Die skip waarop hy gereis het, het in ‘n storm beland en gesink. Dit is algemeen aanvaar die seun is gered, maar niks was seker nie. Weens die pa se skielike dood, is die groot nalatenskap in die hande van ‘n ou vriend gelaat. Sy opdrag was om baie seker te maak, dit is regtig die ryk man se seun, aan wie hy dit sal oorgedra. Ongeveer ‘n jaar na die rykman se dood, het drie jongmans opgedaag om die erfenis op te eis. Dit was dae toe identiteitsbewyse nog onbekend was. Hoe nou gemaak? Hoe kon die vriend seker maak wie die regte erfgenaam is? Hy het ‘n goeie plan beraam. Hy gee vir elkeen van die drie aanspraakmakers ‘n pyl en boog en stel ‘n skildery van die pa, ‘n ent verder as teiken op. “Goed,” sê die ou vriend, “laat ons nou sien wie kom naaste aan sy hart.” Die eerste jongman skiet, net effens hoog. Die tweede een skiet, presies in die oorlede pa se hart. Die derde een neem die pyl en boog, kyk na die man se prent, mik, laat sak dan sy arms en bars in trane uit. Hy kan nie met ‘n pyl en boog skiet, na die man wat hy so lief gehad het en wat sy lewe deur vir hom so goed was nie. Die voog is tevrede met sy proefneming, hy sit sy arms om die huilende seun en verwelkom hom as sy vriend se seun en regmatige erfgenaam van sy eiendom.
As ons God se eie kinders geword het deur geloof in die Here Jesus Christus en die wedergeboorte wat die Heilige Gees in ons harte werk, is ons versigtig om God te bedroef. Iemand wat sommer maklik sonde doen, lieg, vloek, egbreuk pleeg, die Here se Naam links en regs gebruik, teen ander vyandig is, moet in sy hart vra: Is ek regtig ‘n kind van God? Het ek regtig deel in die hemelse koninkryk? “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind van God en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is” (1 Joh.5:1).
“Here, vandag wil ek God, my Vader, nie bedroef nie.”