Di 1 Sept: Vandag Naby

Lees Matteus 6:9-15

 “Ons Vader wat in die hemel is … gee ons vandag …”

’n Sendeling het in die teenwoordigheid van ’n aantal inboorlinge sy telefoon gebruik. Hulle het ver­baas geluister toe hy die werking van die tele­foon verduidelik. Hy kan direk met iemand, wat ver is, praat, asof die persoon naby hom is. Toe vra een: “Waar is die wonderlike ding gemaak?” Die sendeling antwoord: “Engeland.” Die swartman skud sy kop. “Dis jammer, want dan kan ons dit nie gebruik nie. Die ding sal nie ons taal verstaan nie. En ons kan nie Engels praat nie.” Hierop bel die sendeling ’n vriend van hom, wat die inboorlinge se taal kan praat. Hy gee die telefoon vir die swartman om self te praat. Verstom luister hy hoe die ander persoon in sy eie taal met hom praat: “Hy praat ook ons taal! Hy is naby!” roep hy uit. Hierdie insident het die sendeling geleentheid gegee om vir hulle te vertel hoe God, as ons bid, ons taal verstaan, en hoe ons ons daaglikse behoeftes aan God kan vertel.

Die aanvang van die gebed wat Jesus sy dis­sipels leer bid het, maak dit dadelik vir ons maklik om te bid. “Ons Vader…” ’n Vader verstaan sy kinders se taal: die lippetaal en die harttaal. Jesus het ons geleer om vir ’n paar “elke dag”- behoeftes te bid: vandag se kos; vandag se oortredings; ander se oortredings vandag aan ons; vandag se versoekings; vandag se aanvalle van die Bose. Ons kan vrymoedig so bid, omdat die Here Jesus dit vir ons in die mond lê. Hy het vir ons die weg na God toe oopgemaak. “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee…Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees” (Joh.16:23,24). En die Heilige Gees, wat Jesus belowe het, leer ons hoe en wat ons moet bid. “…die Gees van die waarheid (sal) …by julle bly en in julle wees… Hy sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het”(Joh.14:17,26). “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God vir die gelowiges” (Rom.8:26,27). Om­dat Hy alomteenwoordig is, hoor Hy ons; omdat Hy ons lief het, luister Hy na ons; omdat Hy almagtig is, kan Hy gee wat ons vra.

“Here, vandag vra ek vrymoedig daaglikse behoeftes van U.”