Lees Hebreërs 4:12-13
“Die woord van God is lewend en kragtig, skerper as enige swaard…” (12)
Die Switserse prediker, dr. Caesar Malan, reis eens saam met ’n ongelowige man, in dieselfde treinkompartement, Parys toe. Hy het die beroemde dr. Malan geken en hy verspeel nie tyd om met hom oor die Bybel en Christenskap te redeneer nie. Op élkeen van die ongelowige man se argumente, antwoord dr. Malan deur ’n Bybelteks korrek aan te haal. Nie een keer spreek hy ’n eie opinie uit, óf probeer hy die teks verklaar nie. Uiteindelik roep die man moedeloos uit, “Maar ek glo nie die Bybel nie! Wat help dit dat jy dit vir my aanhaal.?” Hierop antwoord die Switserse doktor: “Toe sê Hy vir hulle…julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe” (Joh.8:24).
Tién jaar later ontvang dr. Malan eendag ’n brief van Parys af. Dit is van die man van die treinrit. Hy herinner dr. Malan aan die gesprek wat hulle op die trein gehad het. Hy skryf: “U het die swaard van die Gees gebruik en my deursteek. Elke keer as ek die swaardlem probeer wegkeer het, het u my net nog ’n steek gegee, Ek het besef: ek veg nie met u nie, ek veg met God.”
Dit is hoe Jesus Satan weerstaan het: Elke keer het Hy gesê: “Daar staan geskrywe…Daar staan geskrywe… Daar staan geskrywe…” (Mat. 4:4, 7 en 10). Paulus sê ons moet die wapenrusting van God aantrek: “… (julle) moet altyd geloof as skild in die hand hê…en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God” (Ef.6:16,17). Vir geloof het ons die woord van God nodig. Ons kan net glo, as ons weet wat God sê. En ons kan net weet wat God sê, as ons die Bybel ken. Ons moet weet wat God in sy Woord sê, om ons geloofsgrond te behou én om ons geestelike lewe en God se koninkryk uit te brei. Om die woord van God te ken is ’n verstandsaktiwiteit. Ons moet weet waar staan die woorde in die Bybel. Ons moet die woorde ook ken. Die beste is om dit korrek (soos dr. Malan) uit die kop te ken. Om God se woord reg en vrugbaar en oorwinnend te ken, is ook ’n geestelike aktiwiteit. Dit gaan met gebed gepaard. Oor die opneem van die swaard en skild van geloof en ook die ander elemente van ons wapenrusting vermaan Paulus ons: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees” (Ef.6:14-17). Sonder gebed faal ons beste pogings. Sterkgemaak in ons gedurige en herhaalde gebedsomgang met God, gaan ons goed gewapen met die kennis van die woord vorentoe. “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon…” (Kol.3:16). As ’n teks u tref, doen gerus die moeite om dit uit die kop te leer. Oral waar ’n mens beweeg, is dit ’n handige wapen om in die hand te hê.
“Here, vandag wil ek u woord in hart en hoof ken.”