Di 4 Aug: Gevaarlik om te jok

Lees Efesiërs 4: 25 – 32

 “Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat…” (25).

Alice het beloof om vir die kerk se vrouediens­ver­kope ‘n koek te bak, maar sy het vergeet. Die koek wat sy die aand in der haas bak, val plat en sy weet sy kan dit nie só ingee nie. Iéts moet in die middel kom en dan kan sy dit, met versiersuiker, tot iets moois opbou. Maar wat? Sy soek die huis deur. In die badkamerkas kry sy ‘n pak nu­we toi­letrolle. Sy neem een en wikkel dit in die middel van die plat koek in en bou dit pragtig op met die versiersui­ker. Die eindproduk lyk wonderlik en sy gryp haar jas en jaag met die koek kerk toe. Terug by die huis gee sy haar dogter, Jodie, opdrag om genoeg geld te neem, dadelik kerk toe te haas en die koek terug te koop al kos dit wat. Jodie kom terug met die nuus, vertel pastor Bill in die storie wat Neil Verwey van Ja­pan vir my gestuur het, dat die koek al verkoop was toe sy by die verkoping kom. Alice is buite haarself van skok. Die volgende middag word sy na ‘n brugpartytjie toe genooi. Na die spel, bedien die gas­vrou tee en koek. Alice is verbyster toe háár koek uit die kombuis, tafel toe gebring word. Sy beur uit haar stoel uit om die gasvrou te keer en te vertel wat gebeur het, maar een van die ander gaste spring haar voor: “Wat ‘n fantas­tie­se koek!”, roep sy. Alice sak terug in haar stoel, toe die gasvrou met ‘n warm, waarderende stem ant­woord: “Dankie! Ek het dit sélf gebak.”

 Dié vrou se jok het haar ongetwyfeld groot verleënt­heid op die hals gehaal, en ek dink Alice het toe ook tjoep­­stil gebly. Die waar­heid is soms moeilik en vir die oom­blik ‘n verleënt­heid, maar op die duur is dit die veilige pad en geseënde pad. Som­­mig jok­voorvalle is komies, maar die afloop is altyd tra­gies, want Jesus noem Satan die vader van die leuen: “…die dui­wel…is ‘n leuenaar…die vader van die leuen” (Joh.8:44).

 In Handelinge 4:32 – 5:11, kort na die uitstorting van die Heilige Gees, het ons die treu­rige storie van Ana­nias en Saffira, wat ons leer hoe ‘n leuen en oneerlik­heid God bedroef en vertoorn. Onder die krag van die Heilige Gees was daar so ‘n gesindheid van me­dedeelsaamheid onder die Chris­tene dat hulle hul goed met mekaar gedeel het. “…’n sekere man, Ana­nias en sy vrou, Saffira, (het) ‘n eiendom verkoop. Met die medewete van sy vrou het hy van die verkoopprys…ag­ ter­gehou en net ‘n gedeelte vir Pe­trus gegee. Petrus sê vir hom: ‘Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg? Wat het jou besiel om dit te doen?’ …Ananias het dood neer­geval.” Is daar onskeid tussen `n growwe, God­onterende leuen en `n onskuldige, klein leun­tjie? Ek glo nie. Die veilige weg, wat God behaag en Hom eer bring, is as sy kinders die pad van waarheid loop.

“Here, vandag wil ek stiptelik die waarheid praat.”