SKRIFDEEL Jesaja 1: 18 – 20
“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here” (18).
Tydens die Tweede Wêreldoorlog bevry genl. Mannerheim se magte ’n dorp, wat deur die Rooimagte beset was. Sewe van die Russiese krygsgevangenes sou die volgende oggend tereggestel word. Hulle is in die kelder van die stadsaal gevange gehou. In die gange staan die Duitse troepe op wag. Dronk van oorwinning koggel en terg die Duitsers die Russe. Die Russe hamer vloekend met hul bloeiende vuiste teen die mure en deure. Sommige roep skreeuend na hul vroue en kinders. Opeens begin een van die Russe, Koskinen, sing. Hy het van die begin af, gedwee met hangskouers, op ’n bank gesit, ’n toonbeeld van uiterste wanhoop. Hy sing stamelend, maar algaande word sy stem sterker, tot hy sy lied sterk en duidelik uitsing. In die kelder word dit doodstil. Almal luister na die vreemde lied in sulke omstandighede!
Veilig in Jesus arme, sag aan sy bors gesus,
Daar in sy liefdeskadu vind my siel eens rus.
Hoor! ’n Lied van engele, wat sing oor soete vree,
Dit klink oor glorievelde, oor die jaspis see.
Oor en oor sing Koskinen sy lied sonder enige versteuring. Een van die ander Russe breek weg na hom toe. “Waar kry jy dit?” skreeu hy. “Wil jy ons sag maak?” Koskinen kyk na die man en sy oë vul met trane. “Ek het dit by die Heilsleër gehoor – drie weke gelede. Die lied het my ondergekry. My ma se God, het nou ook my God geword. Laasnag het ek wakker gelê en ek het geweet ek moet die Saligmaker vind. Ek het gebid soos ek van kleintyd af onthou. Ek het Jesus gevra om my te red, want ek kon nie met my soort lewe ewigheid toe gaan nie. Baie Bybeltekse, uit my kleintyd, het teruggekom na my toe. Ek weet God het my gevat.” Verstom luister sy makkers en die Duitse wagte.
“Jy is reg, Koskinen, as ek ook net genade kan kry!” roep die Rus wanhopig uit. “My hande is so vol bloed en môre sterf ek. Ek weet nou daar is ’n hel.” Hy sak neer op sy knieë by Koskinen. “Bid vir my, Kameraad!” Die twee Russe bid met hulle koppe naby mekaar. Nie ’n lang gebed nie, maar dit is asof ’n deur na die hemel self oopgaan. Die haat in die harte smelt weg. Vieruur die oggend is al sewe Russe op hulle knieë. Van die Duitse soldate staan oor hul geweerkolwe gebuig en bid. Teen dagbreek gesels die manne met mekaar, oor geestelike dinge. Ou vergete liedere word gesing. Van die Duitsers sing saam.
Toe slaan die toringklok sesuur. Tyd vir die teregstelling. Hoe graag wou die Duitse offisiere die vonnis ophef. Maar dit was nie moontlik nie. Die Russe vra om ongeboeid, met onbedekte gesigte, voor die vuurpeleton te staan. Nog een keer wil hulle Koskinen se lied sing. Dit word toegelaat. Met opgehewe gesigte, arms omhoog gestrek, sing die Russe: “Sag in Jesus arme, sag aan sy bors gesus…..” Die laaste woorde sterf weg. Geweerskote klap. Dis op aarde verby. Die Duitse offisier in bevel, het later hieroor gesê: “Wat in die ander manne se harte gebeur het, weet ek nie, maar van daardie oggend af was ek ’n nuwe man, ’n volgeling van Jesus Christus.”
Die dág toe die Here Jesus gekruisig is, het die hemel se liefde en redding, ook op ‘n oordeelstoneel afgedaal. Langs die bloeiende liggaam van Jesus het ’n veroordeelde misdadiger geroep: “Dink aan my, Here!” Hy het dadelik die belofte van vergifnis en vrede ontvang: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Niemand se toestand was nog ooit te desperaat om nie deur God bereik en gered te word nie.
“Here, vandag, uit die omstandighede waarin ek my bevind, roep ek tot U: ‘Red my!’”.