Ma 10 Aug: Genade Herleef

SKRIFDEEL Jesaja 1: 18 – 20

“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here” (18).

Tydens die Tweede Wêreldoorlog bevry genl. Man­­­ner­­­heim se magte ’n dorp, wat deur die Rooi­magte be­set was. Sewe van die Russiese krygs­ge­vang­enes sou die volgende oggend tereggestel word. Hulle is in die kel­der van die stadsaal ge­van­ge gehou. In die gange staan die Duitse troepe op wag. Dronk van oorwinning koggel en terg die Duit­sers die Russe. Die Russe hamer vloekend met hul bloei­­ende vuiste teen die mure en deure. Som­mige roep skreeuend na hul vroue en kinders. Op­eens be­gin een van die Russe, Koskinen, sing. Hy het van die begin af, gedwee met hang­skouers, op ’n bank gesit, ’n toonbeeld van uiterste wan­hoop. Hy sing stamelend, maar al­gaan­de word sy stem ster­ker, tot hy sy lied sterk en duidelik uit­sing. In die kelder word dit doodstil. Al­mal luister na die vreem­de lied in sulke omstandighede!

Veilig in Jesus arme, sag aan sy bors gesus,

Daar in sy liefdeskadu vind my siel eens rus.

Hoor! ’n Lied van engele, wat sing oor soete vree,

Dit klink oor glorievelde, oor die jaspis see.

Oor en oor sing Koskinen sy lied sonder enige ver­­­steuring. Een van die ander Russe breek weg na hom toe. “Waar kry jy dit?” skreeu hy. “Wil jy ons sag maak?” Koskinen kyk na die man en sy oë vul met trane. “Ek het dit by die Heilsleër gehoor – drie weke gelede. Die lied het my ondergekry. My ma se God, het nou ook my God geword. Laasnag het ek wakker gelê en ek het geweet ek moet die Salig­ma­ker vind. Ek het gebid soos ek van klein­tyd af onthou. Ek het Jesus gevra om my te red, want ek kon nie met my soort lewe ewigheid toe gaan nie. Baie Bybeltekse, uit my kleintyd, het te­rug­gekom na my toe. Ek weet God het my gevat.” Verstom luister sy makkers en die Duitse wagte.

“Jy is reg, Koskinen, as ek ook net genade kan kry!” roep die Rus wanhopig uit. “My hande is so vol bloed en môre sterf ek. Ek weet nou daar is ’n hel.” Hy sak neer op sy knieë by Koskinen. “Bid vir my, Ka­me­raad!” Die twee Russe bid met hulle kop­pe naby mekaar. Nie ’n lang gebed nie, maar dit is asof ’n deur na die hemel self oopgaan. Die haat in die harte smelt weg. Vieruur die og­gend is al sewe Russe op hulle knieë. Van die Duit­se soldate staan oor hul ge­weer­kolwe gebuig en bid. Teen dagbreek gesels die manne met mekaar, oor geestelike dinge. Ou ver­gete liedere word gesing. Van die Duitsers sing saam.

Toe slaan die toringklok sesuur. Tyd vir die tereg­stelling. Hoe graag wou die Duitse offisiere die vonnis ophef. Maar dit was nie moontlik nie. Die Russe vra om ongeboeid, met onbedekte ge­sig­te, voor die vuur­pe­le­ton te staan. Nog een keer wil hulle Kos­ki­nen se lied sing. Dit word toegelaat. Met opgehewe gesigte, arms omhoog gestrek, sing die Russe: “Sag in Jesus arme, sag aan sy bors gesus…..” Die laaste woorde sterf weg. Geweersko­te klap. Dis op aarde verby. Die Duitse of­fi­sier in bevel, het later hieroor gesê: “Wat in die ander man­ne se harte gebeur het, weet ek nie, maar van daardie oggend af was ek ’n nuwe man, ’n vol­­ge­ling van Jesus Christus.”

Die dág toe die Here Je­sus gekruisig is, het die hemel se liefde en redding, ook op ‘n oor­deels­to­neel af­gedaal. Langs die bloeiende liggaam van Je­sus het ’n veroordeelde misdadiger geroep: “Dink aan my, Here!” Hy het dadelik die belofte van vergifnis en vrede ontvang: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Niemand se toe­stand was nog ooit te desperaat om nie deur God bereik en gered te word nie.

“Here, vandag, uit die omstandighede waarin ek my bevind, roep ek tot U: ‘Red my!’”.