Do 6 Aug: Die Prys van Liefde

Lees Romeine 3: 21 – 26

“Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo” (25).

‘n Inboorlingvrou was met haar kindjie onderweg toe ‘n bosbrand hulle oorval. Alleen sou sy die brand kon ontkom, maar sy wou nie haar kind ag­terlaat en alleen vlug nie. Die brand het hulle inge­haal. Steeds het sy met die kindjie op haar rug voor die vuur uitgevlug. Toe sy besef hulle gaan nie die vuur ontvlug nie, het sy met haar blote hande ‘n holte in die sagte grond gegrawe en haar kindjie daar­in neergelê. Toe het sy bo-oor haar kind gaan lê, om hom teen die vlamme te beskerm.

Nadat die brand uitgewoed het, het brand­slaners haar dood in die holte gevind. Die kind is le­wend onder haar uitgehaal. ‘n Gelowige man, wat by was, toe sy gevind is, het bewoë en eerbiedig gesê: “Dit is liefde. Vandag verstaan ek, soos nooit tevore nie, wat Jesus vir my gedoen het. Hy het sy liggaam tussen my en die ewige vuur geplaas. Hy het gesterf dat ek kon lewe.” Dit is ‘n geseënde moment, wanneer ons begrip van die betekenis van die Here Jesus se kruisdood, deur woorde of deur ‘n insident wat ons aanskou, verdiep word. “Jesus Chris­tus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ‘t ware aan die kruis kon sien hang!” (Gal.3:1).

“Here, vandag verlang ek om te verstaan wat U vir my gedoen het.”