Lees Markus 2:13-17
“Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het” (15).
Die beroemde dirigent van die Londense Simfonieorkes, ’n dekade of wat gelede, Pierre Monteus, soek een aand saam met sy gesin, by ’n motel, oornagverblyf. Nog voor hy iets kan sê, sê ’n vrou wat by die deur, van die ontvangslokaal, staan: “Jammer, ons het geen akkommodasie nie.” ’n Jong meisie, langs haar, fluister vir haar iets. Haar hele houding verander. Sy maak ’n effense kniebuiging en sê hartlik: “Ekskuus, Meneer. Ek het nie geweet u is íemand nie. Sekerlik het ek vir ú plek.” Monteus se gesig word strak en koud. Hy buig stram. Kortaf sê hy: “Dame, elkéén is íemand.”
Só, het Jesus, álmal behandel. Hy het nooit op gewone en geringe mense neergesien nie. Vir Jesus was elkéén belangrik: ’n Iemand. Toe die vrou met die bloedvloeiing, die soom van sy kleed aangeraak het, het Hy gesê: “Iemand het My aangeraak” (Luk.8:46). Min mense het so ’n lae lewensvlak bereik as die Samaritaanse vrou. “Sy dissipels was verbaas dat Hy met ’n vrou praat” (Joh.4:17). Die vrou wat in die daad van egbreuk uitgevang is (Joh.8), het haar in ’n vernederde posisie bevind. Voor almal aangekla, kies Jesus haar kant. Hy bly by haar, toe haar aanklaers padgee, na Jesus dié een wat sonder sonde is, uitdaag om haar te stenig. Jesus spreek haar vry: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”
Jesus se verwelkoming is baie ruim. Niémand is by Jesus onwelkom nie: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink…” (Joh.7:37). Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, Ek sal julle rus gee….Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie…” (Mat.10:28).
“Here, vandag is ek by U welkom met my hartsbehoefte.”