Do 27 Aug: Iemand

Lees Markus 2:13-17

“Baie tollenaars en sondaars was saam met Hom en sy dissipels aan tafel, want daar was baie van hulle wat Hom gereeld gevolg het” (15).

Die be­roem­­de dirigent van die Londense Simfo­nie­orkes, ’n dekade of wat gelede, Pierre Monteus, soek een aand saam met sy gesin, by ’n motel, oor­nag­verblyf. Nog voor hy iets kan sê, sê ’n vrou wat by die deur, van die ontvangs­lokaal, staan: “Jam­mer, ons het geen ak­kom­moda­sie nie.” ’n Jong meisie, langs haar, fluis­ter vir haar iets. Haar hele hou­ding veran­der. Sy maak ’n effense kniebuiging en sê hartlik: “Ek­skuus, Meneer. Ek het nie geweet u is íemand nie. Sekerlik het ek vir ú plek.” Monteus se gesig word strak en koud. Hy buig stram. Kortaf sê hy: “Dame, elkéén is íemand.”

Só, het Jesus, álmal behandel. Hy het nooit op gewone en geringe mense neergesien nie. Vir Je­sus was elkéén belangrik: ’n Iemand. Toe die vrou met die bloedvloeiing, die soom van sy kleed aan­geraak het, het Hy gesê: “Iemand het My aan­geraak” (Luk.8:46). Min mense het so ’n lae lewens­vlak bereik as die Samaritaanse vrou. “Sy dissipels was verbaas dat Hy met ’n vrou praat” (Joh.4:17). Die vrou wat in die daad van eg­breuk uitgevang is (Joh.8), het haar in ’n verne­der­de posi­sie bevind. Voor al­mal aangekla, kies Jesus haar kant. Hy bly by haar, toe haar aan­kla­ers pad­gee, na Jesus dié een wat sonder sonde is, uitdaag om haar te stenig. Je­sus spreek haar vry: “Ek veroor­deel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”

Jesus se verwelkoming is baie ruim. Niémand is by Jesus onwelkom nie: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink…” (Joh.7:37). Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, Ek sal julle rus gee….Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie…” (Mat.10:28).

“Here, vandag is ek by U welkom met my hartsbehoefte.”