Lees 1 Tessalonisense 5: 12 – 28
“Mag God wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak…Hy sal dit ook doen, want Hy…is getrou” (23,24).
’n Vrou het vir haar leraar gevra: “Wat beteken toewyding eintlik?” Die dominee het ’n skoon vel papier en ’n pen na haar toe uitgehou. “Teken jou naam onderaan hierdie skoon vel papier.” Sy was huiwerig. “Is dit nie gevaarlik, om ’n mens se naam, sommer so, onderaan ’n skoon vel papier te teken nie. Iemand kan op die papier dinge skryf wat jou bind.” “Dis reg,” antwoord die dominee met ’n glimlag. “Jy verstaan dit baie goed. Toewyding beteken jy teken jou naam en sê vir die Here: ‘U kan enigiets wat U wil bokant my naam inskryf.’”
Toewyding beteken dus, eerstens, vertroue in God. ’n Weet, God sal niks van my vra wat my sal benadeel nie. Ook ’n weet, as die pad ru en stamperig raak, al is dit nie die lekkerste pad vir my nie, is dit die voordeligste pad. So het Josef die Here se pad leer ken toe dit deur Farao se tronk na die troon toe gelei het. Die toegewyde hart sê in die lig of in die donker: “laat u wil geskied, Here,” want hy weet sy Hemelse Vader dra sy belange op sy hart. Psalm 119:57 (Lewende Bybel): ”Here, ek het besluit dis vir my die belangrikste in die lewe om te maak soos U gesê het.” Die veiligste plek vir enige mens, is in die holte van God se hand.
Tweedens beteken toewyding: ’n verlange, ja, ’n gretigheid, om te doen wat God wil hê ek moet doen. Dit is die gesindheid in Christus se hart wat die Heilige Gees in my hart opwek: “Om u wil te doen, my God, is my een begeerte (Ou Vertaling): “Ek het lus, o my God, om U welbehae te doen)” (Ps.40:9).
Derdens is toewyding die reaksie van ’n hart wat vol bewondering vir die Here Jesus Christus is. Hy is die beste vriend, die vernaamste leidsman, dié Een wie se goedkeuring vir my belangrik is. Dit was elke keer die reaksie wanneer Jesus vir een van sy dissipels groot en wonderlik geword het. “Toe roep Natanael uit: ‘Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!’”(Joh.1:49) “En Tomas sê vir Hom: ‘My Here en my God!’” (Joh.20:28). Johannes skryf oor Hom: “… ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe” (1 Joh.1:1). As ons baie met die Here Jesus omgaan deur gebed en met die Woord, verhef die Heilige Gees sy eer en heerlikheid in ons hart.
Vierdens is toewyding dan die voorneme van ons hart en die woorde van ons lippe wat ons in gebed teenoor Hom uitspreek, om onsself soos ’n offer aan Hom te gee. “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is…laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aaneemlik en volmaak is” (Rom.12:1,2).
“Here, vandag gee ek my lewe aan U as ’n offer om deur U gebruik te word soos U wil.”