Lees Kolossense 4: 2 – 6
“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet
weet hoe julle elkeen behoort te antwoord”(6)
Die noordewind en die son het eenkeer gestry, wie van hulle twee die sterkste was.
Hulle het ooreengekom, dat die een wat kon regkry om ’n reisiger se klere van
hom af te stroop, die sterkste sou wees. Die noordewind sou eerste probeer. Met al
sy krag storm die wind op die man af en probeer sy klere van hom afpluk. Sy jas
fladder, sy serp gryp hy met sy een hand ternouernood vas, voor die wind dit
wegwaai, met sy ander hand druk hy sy hoed vas. So algaande kry hy sy klere onder
beheer en woel dit stywer om sy lyf vas. Toe is dit die son se beurt. Die sontrale
skyn warm op die man neer. Na die wind hom so verwaai het, is dit vir hom baie
aangenaam. Die son skyn warmer en die man wikkel sy serp los. Daarna trek hy sy
jas uit. Toe sy baadjie. Hy rol sy moue op, knoop sy hemp oop. Sy hoed stoot hy op
sy agterkop. Die son het met sy vriendelike warmte, reggekry wat die wind nie met
sy geweld nie kon regkry nie.
Veroordeling van ’n ander, verwyte, twis en stryd laat die ander persoon homself
net meer en meer verdedig, op sy standpunte staan, aggressief raak. Met
vriendelikheid en liefde word ’n andereen gewen.
So leer die Here ons in sy Woord ook. ’n Paar wenke uit Spreuke!
“Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee” (Spr.10:12). “Praat sonder
om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê”
(Spr.12:18). “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede
ontvlam” (Spr.15:1). “’n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde sodat hy
ander kan leer” (Spr.16:23). “Wie ‘n verkeerde optrede teenoor homself
verontagsaam, soek goeie verhoudinge; wie ‘n saak bly ophaal, bring verwydering
tussen vriende” (Spr.17:9). “Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas
en kom in die skande” (Spr.18:13). “Met geduld kan iemand in ‘n magsposisie tot
ander insigte gebring word; met ‘n versigtige benadering word weerstand
afgebreek”(Spr.25:15). “Die knap vrou is baie werd…as sy praat, is dit met
wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde” (Spr.31:10,26).
“Here, vandag leer ek om sag teenoor ander op te tree.”