Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7
“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding (2).
Die Punchestownwedren is verby. Skares keer per trein en die boot, wat tussen Ierland en Engeland vaar, van die beroemde Engelse wedren af terug huis toe. Onder hulle is ’n Engelsman, Vincent, wat in Indië rykdom verwerf het en nou in sy vaderland woon. Hy het haastig gemaak na die Kingstownhawe toe, maar net vyf minute te laat gekom om die boot te haal. Hy sal die nag in Dublin moet oorbly. Met homself opgeskeep, en sonder ’n plan hoe om die aand deur te bring, gaan hy ’n entjie stap. Bokant die deur van ’n skouburg sien hy die name: “D. L. Moody en Ira D. Sankey”. Hy wonder watter toneelgeselskap dit is. Hy stap in. Die plek is propvol. Op die verhoog is mense met gewone klere aan. ’n Man is besig om met ’n sterk, mooi stem woorde te sing wat hy nog nooit gehoor het nie. Hy staan vasgenael en luister na die refrein wat na elke vers herhaal word:
Daar was nege en neëntig veilig terug,
Wat skuil in ’n rustige oord.
Maar een wat dwaal op die berg se rug,
ver weg van die veil’ge poort.
Na die man op die verhoog klaar gesing het, gaan mnr. Vincent sit. ’n Ander man, op die verhoog,staan nou op en begin uit die Bybel lees en hy preek. Vincent is toe nie die volgende dag huis toe is nie. Aand na aand gaan hy, soos hy uitgevind het, na Moody en Sankey, luister. Een aand staan hy ook op en volg ‘n skaar mense wat na die kamer gaan wat opsy gesit is vir persoonlike navrae. Mnr. Moody kom langs hom kom sit en vra eenvoudig: “Mr. Vincent, do you believe,Jesus Christ died for you?” “I do believe it.” antwoord hy. “Then thank Him,” sê Moody. Mnr. Vincent het die aand ’n nuwe mens huis toe gegaan.
Die Here het ’n afspraak met ons. Verloop van omstandighede beskik, dat ons op die plek van ons afspraak, beland. Ons herken God se afspraak met ons, as God se roeping deur die evangelie, deurklink na ons hart toe. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is…dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek (Rom.8:28-30). God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here (1 Kor.1:9)”. Die oomblik wanneer ons hierdie roeping beantwoord deur in die Here te glo en Hom as ons Verlosser aan te neem, word dit die dag van ons redding. “Iemand wat aan Christus behoort is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (2 Kor.5:17). Die Heilige Gees skep in ons die nuwe lewe as ons in Christus vertrou.
“Here, vandag luister ek as U my roep.”