Lees Jesaja 55: 1 – 6
“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe…”(1)
’n Dorstige handelsreisiger stap ’n Amerikaanse hotelportaal binne. In die hoek is ’n meganiese fontein, `n reuse glaskan, vol helder skoon water, tussen welige varings. Bokant die fontein hang ’n uitnodiging: “Buig en drink”. Hy stap soontoe, hou `n skoon glas onder die kraantjie en en steek sy ander hand uit om dit oop te draai, maar die kraantjie het nie `n handvatsel nie. Hy soek of hy ’n drukknoppie of skakelaar kan sien. Niks. Hy lees weer die uitnodiging bokant die fontein. Met ’n verleë glimlaggie buig hy versigtig vorentoe. Nog ’n bietjie; nog ’n bietjie – en regtig, heerlike koue water begin vloei. Die fontein word deur ’n elektroniese “oog” beheer. Sodra die buigende liggaam by die “oog” verby beweeg, vloei die water uit die kan se kraan.
Die Bybel gebruik oorvloedig die beeld van water om geestelike lewe te beskryf. “…wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” (Joh.6:35). “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink”! (Joh.7:37). Elkeen…wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.” (Joh.4:14). “…die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei…” (Openb.7:17). “En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openb.22:17). Om by die water te kom wat die Here Jesus gee, hoef ’n mens nie moeisaam op te klim boontoe nie. Fonteinwater word bereik wanneer ’n mens laag buig, kniel. ’n Mens moet nie eers iets lofwaardigs doen, om die ewige lewe wat die Heilige Gees in die hart gee, te ontvang nie. In gebed vra ons en die Here Jesus gee vir ons, die lewende water van die ewige lewe.
“Here, vandag buig ek en drink die water wat U gee.”