Vry 31 Julie: Die Winnende Krag

Lees Lukas 6: 27 – 31

“…doen goed aan mense deur wie julle gehaat word…” (27).

Dr. Stuart J. Holden was beïndruk deur die toe­gewyde Christenskap van ’n sersant in die Britse Weer­mag. Hy het hom gevra hoe hy tot bekering ge­kom het. “Voor ons Egipte toe gestuur is, was ons in Malta,” ver­tel die sersant. “Een van die manskappe in my afdeling het tot be­ke­ring gekom en hy het geen doekies om­gedraai, dat hy ’n volgeling van Jesus Christus is nie. Sy ab­so­lute toegewyde lewe, en wat ons gedink het ’n dwe­pery is, het ons almal ontstig en ons het hom daar­voor laat boet. Hy het hom nie daaraan gesteur nie. Een nag het ons, natgereën en moeg gesukkel, na ons barakke toe teruggekeer. Ek het kort van draad nog in my bed probeer kom, toe hy, sowaar, eers by sy bed kniel en begin bid. Dit was vir my net een te veel. My stewels was swaar van die nat modder. Ek het eers my een stewel geneem en hom teen sy kop gekap en toe die ander stewel geneem en hom teen die ander kant van sy kop geslaan. Hy het sy kop net tussen sy skou­ers inge­trek en verder gebid. Ek het omgedraai, in­ge­kruip en dadelik aan die slaap geraak. Toe ek die vol­gen­de oggend wakker word, staan my twee stewels langs my bed, netjies skoongemaak en blink ge­po­leer. Dít was my manskap se reaksie op my ny­digheid. Dit het my gebreek. Ek het met die ka­pelaan gaan praat en my hart vir die Here gegee. Daar­na het ek vir my man­skap gaan vertel en verskoning gevra vir my gedrag. Ek wens jy kon sy blydskap sien!”

Dit is hierdie oorwinning van goed­heid in antwoord op kwaad, waarmee Chris­te­ne ander se harte kan wen. As die Christen ander se onbeskoftheid in dieselfde munt terugbe­taal, verloor sy getuienis krag. Dit is hoe Pau­lus en Silas in die tronk van Filippi die tronk­be­waar­der se hart gewen het. Met rûe stukkende geslaan, sing hulle lofliedere. Jesus het aan die kruis vir sy vyande gebid. Hy het ons geleer: draai die ander wang, ant­woord haat met liefde, bevoordeel jou vy­and. Dit verg meer as net menslike ordentlik­heid en verdraagsaam­heid om só ’n kwaliteit lewe te kan uitleef. Slegs as die Heilige Gees die lewe van Christus in ons openbaar kan ons hierdie soort Christenskap uitleef. Dit vra ’n “baie naby aan die Here bly” soort lewe.

“Here, vandag wil ek van naby aan U, met u liefde in my, teenoor ander optree.”