Lees Joh.14:8-14
“As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen”(14)
Dr. Wilbur Chapman moes eens, in ’n tyd van groot persoonlike droefheid in sy lewe, ’n lang reis na die verre Weste van Amerika onderneem. Een van sy ouderlinge, ’n miljoenêr, het hom voor sy vertrek gaan groet. Hy het vir dr. Chapman ’n gete-kende tjek gegee, maar nie die bedrag ingeskryf nie. “Beteken dit ek kan enige bedrag wat ek wil hier inskryf?” vra die verbaasde dr. Chapman. “Ja, ek het nie geweet hoeveel jy vir jou rit en ander uitgawes mag nodig hê nie,” antwoord die ryk ouderling. Dankbaar neem hy die tjek. Hy het dit nooit gebruik nie, maar die tjek het hom ’n diep gemoedsrus gegee. Hy het geweet, indien hy iewers in moeilikheid sou beland, het hy miljoene tot sy beskikking, en hy het `n maklike en betroubare manier byderhand om dit te bekom.
Ons het ook ’n getekende tjek ontvang: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus”(Fil.4:19). “Wat julle ookal in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.”(Joh.14:13).
Die die Here Jesus het voor Hy teruggegaan het hemel toe, vir sy dissipels en elkeen wat later sou glo, op aarde, ’n onbeperkte rykdom agterlaat. Die getekende tjek wat Jesus gegee het: “wat julle in my Naam vra”, is betroubaar. Ons kan Jesus vertrou en die rykdom is beskikbaar. Dit is ook byderhand en maklik bekombaar: “vra.” Ons sê dit met ons lippe en ons hart in gebed vir Jesus. Dit dui ook nie net op geld en ander aardse waardes nie. Dit beteken ook geestelike rykdom. Hierdie gebed gee die Here Jesus vir sy dissipels vir hul aardse behoeftes, maar ook om hul geestelike lewe te verryk en om sy koninkryk se belange te bevorder. Ons mag groot dinge vra. Ons mag ook onbenullige dinge vra. “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid…(as) iemand siek is… moet hulle gelowig bid…Die gebed van die gelowige (regverdige Ou Vertaling) het ’n kragtige uitwerking”(Jak.5:13-16). Dit is ’n onbeskryflike voorreg wat Jesus in ons hande gee.
Laat ons, soos die Heilige Gees ons dit leer en vir ons vrymoedigheid gee, hierdie gebedsvoorreg gebruik. Jesus het bedoel sy dissipels moet dit gebruik. Hy sê dit meer as een keer. Hy herhaal dit bv. weer in Johannes 14:14; 15:7 en 16; 16:23 en 24 en ook ander plekke in die Bybel.
“Here, vandag kom gebruik ek hierdie groot voorreg.”