Lees Matteus 7: 13, 14
“… die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal”(14).
Na David Livingstone se dood het welaf en invloedryke ondersteuners en
bewonderaars van sy sendingwerk in Afrika, dadelik begin reël om sy liggaam terug
te bring Engeland toe. Met die stadige vervoergeriewe was dit ’n tydsame onder
neming. Hy is in 1874 in die Wesminster Abby in Londen begrawe. Die dag met sy
begrafnis het duisende mense die strate waarlangs die stoet sou beweeg,
volgestaan om ’n laaste eer aan hom te bewys. Tussen die skare het ’n boemelaar
gestaan: vuil, klere flenters, hare en baard lank en deurmekaar. Hy het droewig
gestaan en huil. Uiteindelik het iemand hom aan die ou man gesteur. “Wat makeer,
ouman? Hoekom huil jy so vreeslik?” Snikkend antwoord die ou man: “Ek en Davie het
saam grootgeword. Ons het saam skoolgegaan. Ons was in dieselfde klas. Ons het
saam op ’n skoolbank gesit. Saam gewerk. En toe het hy sy pad gekies. En kyk wat
kry hy vandag. Almal ken hom en eer hom. Ek het ook my pad gekies, en wat kry ék
vandag? Ek is onbekend, verwaarloos, eerloos. Ek het niks om na uit te sien nie;
as net ’n dronkaardsgraf.”
As David Livingstone met sy eertydse vriend kon praat, sou hy seker vir hom ’n
wonderlike uitredding kon voorhou. Die uitredding wat die evangelie van die
Here Jesus Christus gee aan iemand wat die pad van die verlore seun geloop het.
Dit is hierdie wonderlike boodskap van redding wat Livingstone sendingveld toe
laat gaan het. Hy sou vir hom kon sê: “God het jou ook lief. Hy het sy enig-ste
Seun ook vir jou sonde laat sterwe. Vlug met jou sonde en verlore lewe na Hom toe.
Hy het gesê: ‘Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie…’” (Joh.6:37). Kom
begin ’n nuwe lewe saam met die Here Jesus.”
“Here, vandag bring ek myself na U toe. Maak my skoon en nuut.”