Lees Lukas 16:10-13
“…en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik” (10)
’n Groep vriende in Engeland het besluit om vir Sir Wilfred Grenfell ’n motorboot
Labrador toe te stuur, sodat hy vinniger tussen die omliggende eilande kon be
weeg. Hy kon sy noodsaaklike dokterswerk dan makliker en gouer in daardie
behoeftige, koue en afgesondere wêreld verrig. Toe die motorboot aan die dankbare
dokter afgelewer is, het hy dit sommer dieselfde aand nog in gebruik geneem. ’n
Oproep het van een van die eilande af gekom: ’n vrou is besig om te sterf. Dit was
’n mistige, ongure aand, maar Sir Grenfell het besluit, hy gaan dit waag om met sy
nuwe motorboot uit te vaar. Hy was ’n vaardige bootvaarder en die kragtige boot
was met ’n kompas toegerus. Hy sou sy pad deur die digte mis kon vind. Na baie ure
in die stormagtige see, het hy geweet hy het verdwaal. Die vrou het gevolglik
gesterf. Dr. Grenfell self het byna die lewe gelaat. Die boot se toerusting is
ondersoek. Daar was fout met die kompas. Die oorsaak van die foutiewe kompas, is
terug gevoer na ’n onverantwoordelike ambagsman in Liverpool, waar die boot gebou
is. In plaas van net koperskroewe te gebruik, het hy ook ‘n enkele staalskroef in
die kompas gebruik. Die enkele staalskroef het die kompasnaald net genoeg van
koers af getrek, om die kompas ondoeltreffend te maak.
Dit was op die oog af ’n klein foutjie, maar dit het ’n ernstige en droewige
gevolg gehad. Ons weet nie hoekom die man so ’n fout gemaak het nie. Het hy nie
van beter geweet nie? Was hy dalk so haastig om klaar te kry dat hy ontsien het om
die regte skroef te gaan soek? Was hy bloot net sorgeloos en lui? Wat die rede
ookal was, die gevolg kon nie reggemaak word nie. Hoe versigtig moet ons wees met
ons woorde, houding, gedrag om nie deur ’n klein onbedagsaamheid iemand se kompas
van koers af te trek nie! In die groot saak van ons daaglikse lewensgedrag het ons
God se raad en leiding nodig, om uit genade met ’n versigtige hart die regte dinge
te doen. “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou
raad gee en my oog oor jou hou” (Psalm 32:8).
Wilbur Chapman het geskryf: “Die reël wat my lewe rig is dit: Enigiets wat my
visioen van Christus verdof, of my begeerte vir Bybelstudie wegneem, of my
gebedslewe verdring, of my werk vir Christus ’n las maak, is vir my verkeerd en
ek moet my daarvan wegkeer.
“Here, ek wil vandag versigtig wees en met elke tree in u weg bly.”