Wo 22 Julie: Die Plaasvervanger

Lees Romeine 5: 1 – 11

“Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (8).

’n Man is opgeroep om in Napoleon I se leër front toe te gaan , vertel die groot prediker van `n eeu gelede, Dwight L. Moody. Weens huislike om-standighede kon hy nie gaan nie. `n Naby vriend het aangebied om in sy plek te gaan. Die leër het sy vriend, in sy plek, aanvaar. Die geveg het plaas­ge­vind en die vriend het gesneuwel. Na verloop van tyd is die man weer opgeroep. Hy het geweier om te gaan. “Julle kan my nie oproep front toe nie. Ek is dood. Ek het reeds in ’n geveg gesneuwel,” het hy hom verweer. “Jy is seker van jou sinne af,” het die werwingsoffisier geskreeu. “Ek weet jou plaas­vervanger is geskiet toe jy eintlik daar moes wees. Maar jy is nog ver van geskiet af.” Die man hou by sy standpunt. “Hy het in my plek gegaan. Hy het in my plek gesterf.” Die saak is na Napo­leon toe verwys. Hy het dit oorweeg en die man gelyk gegee. Die keiser het die leerstelling van plaasvervanging verstaan.

Plaasvervanging is die belangrike grondsteen van die evangelie van Christus. Reeds in die wet van Mo­ses, by die aanbieding van offerdiere, is dit geleer en is die terrein voorberei vir die redding wat deur Christus sou kom. “Die man moet dan sy hand op die kop van die dier sit, en die Here sal die dier aanvaar as ’n offer wat doodgemaak word in plaas van die man, om vir sy sonde te vergoed” (Lev.1:3 Lewende Bybel). Paulus beklemtoon ook hier­die beginsel in 1 Thessalonisense 5:10: “God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. Hy het terwille van ons gesterwe sodat ons… saam met Hom kan lewe.” Ons wat sonde gedoen het, word vergewe en gered omdat Jesus in ons plek doodgemaak is.

“Here, vandag sien ek uit na die ewige lewe, omdat U in my plek, vir my sonde, doodgemaak is.”