Ma 27 Julie: Versorging

Lees Matteus 6:25-34

 “Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het”(32)

Die “Toronto Glove” het ’n paar jaar gelede ’n merk­waardige verhaal oor God se sorg vir sy kinders vertel. John Brentz, ’n vriend van Marten Luther, was ook een van die getroue verkondigers van die evangelie tydens die Hervorming. Hierdeur het hy Karel V van Spanje, kei­ser van die Heilige Romeinse Ryk en vader van die Inkwisisie, wat duisende na die brandstapel gestuur het, se haat op sy hoof gehaal. Brentz het gehoor ’n Spaan­se Kavallerie is op pad om hom te vang. Hy het hom­self op sy God gewerp vir beskerming in hierdie uur van groot nood. In sy hart het ’n gedagte opgewel, wat hy ge­glo het die Here se leiding was: “Neem ’n brood en gaan na die bodeel van die dorp, gaan in by ’n oop deur en versteek jou in die solder.” Hy het vir veertien dae in die pakhuis se solder geskuil, terwyl die keisier se soek­tog na hom voortgeduur het. Die enkele brood sou hom nie vir veertien dae kon voed nie; maar dag vir dag het ’n hen by die solderkamertjie ingekom en, sonder om te kekkel, ’n eier gelê. Die daaglikse vars eier het hom ge­voed. Die vyftiende dag het die hen nie opgedaag nie. Aan die stemme in die straat het hy gehoor: “Hulle is uit­eindelik weg.” Toe het hy uit sy wegkruipplek uit­ge­kom en betroubare vriende gaan opsoek.

Vir Israel het manna uit die hemel geval. Vir Elia het die kraaie brood by die riviertjie Krit gebring. Die Here Jesus het gesê: “Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie…Let op hoe groei die veldlelies: hulle maak nie klere nie…hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie… julle moet julle dus nie bekommer nie…”(Mat6:26-31). Ons kan ons sorge met vrymoedigheid na God toe neem. In Christus is Hy ons Vader en so sorg Hy vir ons. “As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen…(Joh 14:14). So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra (Joh.15:16).”

“Here, vandag kom vra ek hulp in my nood.”