Lees Lukas 18: 9 – 14
“Maar die tollenaar het…bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my,sondaar, genadig.’” (13)
’n Skilder wou van die verlore seun `n skildery maak. Hy het oral na ’n geskikte model gesoek: in die kranksinnige gestig, die tronk, die armetuistes. Die regte figuur, soos hy dit vir hom ingedink het, kon hy net nie kry nie. Op ’n dag kry hy sy man op straat. Hy sê vir die boemelaar, hy wil hom skilder en hy sal hom goed betaal. Hy moet die komende Vrydagoggend, na sy ateljee toe kom om geskilder te word. Die bedelaar is gretig gewillig en te vinde daarvoor. Die bestemde dag daag die boemelaar nie op nie, maar ’n netjies geklede man lui die deurklokkie. “U het met my ’n afspraak,” sê die man vir die skilder. Die skilder weet nie daarvan nie. “Ek het jou nog nooit voorheen gesien nie,” sê hy vir die man. “U het duidelik gesê tienuur vanoggend,” hou die man vol. Die skilder skud sy kop. “Jy verwar my met ’n ander kunstenaar. Ek het met ’n boemelaar ’n afspraak vir tienuur.” “Maar, dis juis ek,” roep die netjiese man verlig uit. “Jy?” “Ja, ek!” “Wat het jy dan nou met jouself aangevang?” “Ek het gedink as ek geskilder gaan word, moet ek myself darem bietjie netjies maak.” “Dan kan ek jou nie meer gebruik nie. Ek wou jou hê net soos jy was,” sug die skilder.
Dit is hoe die Here ons by Hom wil ontvang. Net soos ons is: met al ons mislukkings, struikelinge, sondige begeertes, verkeerde gedagtes, slegte gewoontes – net soos ons regtig is. Dit is die mens wat die Here kan red. Iemand wat homself, by geleentheid darem ’n bietjie kan opknap, kan nie deur die Here gered word nie. Hy red sondaars. Hy maak vuil lewens binne en buite skoon. Hy maak gebroke karakters weer heel. Dit is die tollenaar wat homself, soos hy is, uitgelewer het, wat gered kon word, nie die Fariseër wat homself by die Here aangeprys het nie. “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol” (Jes.1:18). Jesus ken ons deur en deur, maar Hy wil uit ons eie mond hoor hoe ons regtig is. Dit is wonderlike nuus dat ons openlik met al ons mislukkings na Hom kan kom vir redding.
“Here, vandag kom ek net soos ek is na U toe.”