Di 21 Julie: Vir Elke Persoon

Lees Johannes 20:15-25

“Simon, seun van Johannes, het jy my baie lief…? Volg jy my!” (15,22)

’n Man wat lief was vir visvang, neem met voor­be­dag­te rade een Saterdagmiddag sy visgerei en ry af na die groot dorpsdam toe. Langs die wye waterkant van die dam sit van sy hengel-maats reeds op hulle uitsoekplekke met die hoek in die water. Hy kry sy vis­stok reg, sit aas aan die hoek en gooi in. Toe gaan sit hy in sy seilstoel en laat sy gedagtes loop. Hy het ’n probleem met sy geestelike lewe. Die verhouding tus­sen die Christen en die Here is vir hom nie duidelik nie. Vroeër die week het hy gelees hoe Jesus, saam met sy dissipels langs die see, tussen die visnette en vis wat hulle gevang het, gesit het en hulle vrae be­ant­woord het. Dít is wat hy vandag by viswater kom soek: ’n antwoord. Sy probleem was: hoe kan die Here hóm, as enkeling tussen miljoene mense op aarde, persoon­lik ken, hóm persoonlik liefhê en hom persóónlik roep. Hy glo al die evangeliewaarhede: God het die mens lief en het sy eniggebore Seun as ’n offer vir die wêreld se sonde gegee. Hy glo Jesus se opstanding en hy glo die koms van die Heilige Gees na hierdie wêreld toe, ná Jesus se hemelvaart. Hy glo dat iemand wat in Christus as Verlosser glo, na sy dood hemel toe sal gaan. Maar die stok in sy wiel was: hoe ken die Here hom persóónlik en hoe het die Here hóm persoonlik lief, gelyktydig met die miljoene ander mense in die wêreld.

`n Dominee het eens verduidelik, God se liefde, deur Christus en deur die werking van die Heilige Gees, gaan uit na elke mens toe. Dit is net soos die lig en warmte van die son, deur die atmosfeer gedra, na elke mens toe uitstraal. Elke mens voel die warmte van die son op sy vel en elke mens loop in die lig van die son se lig. Dit het egter nie sy diepste behoefte beantwoord nie. Hy voel die son se warmte op sy lyf en sien die son se lig met sy oë, maar dit is steeds as deel van ’n geheel, van ’n menigte. Hoe kan hy dit verstaan en glo en weet: die Here ken hóm en het hóm lief. Terwyl hy so peins en nie eers opmerk hy het ’n byt nie, sak die son laer af aan die westerkim. Vanwaar die son aan die wes­ter­hemel hang, weerkaats ’n baan lig oor die spieël­gladde watervlak, direk van die son af, na hom toe. Hy staan op en stap ’n paar tree laer af. Die baan lig volg hom en kom weer direk na hom toe. Hy stap na ’n an­der visserman toe en terwyl hy met hom gesels, kyk hy na die son se weerkaatsing op die water. Dit kom reguit na hom toe. Uit ervaring weet hy, elkeen van die manne, wat langs die waterkant versprei sit, die son ook so na húlle elkeen persoonlik toe sien straal. ’n Groot blydskap kom in sy hart. ’n Een­vou­dige natuurverskynsel het vir hom die antwoord op sy vraag gebring. God ken hom persoonlik en Hy kom in Christus Jesus, deur die werking van die Heilige Gees, direk na hom persoonlik toe. In die diepte van sy hart fluiser hy: “My Vader, my Here, en my God.”

“Here, vandag is dit my blydskap dat U my ken ken en my liefhet.”