Do 23 Junie: Die Regte Manier

Lees Eksodus 23:1-9 Lewende Bybel.

“As jy ’n weggeloopte bees of donkie teëkom wat behoort aan iemand wat jou vyand is, bring dit terug na hom toe” (4)

In ’n Europese dorp het twee haarkappers, To­ny, `n Italianer en Ivan, `n Rus, naby mekaar sake ge­doen. Weens die goeie klandisie in die dorp, het hulle mekaar nie doelbewus geopponeer nie. Een week was daar skielik ’n groot toename in Tony se besigheid. Hy hoor toe die Rus is siek en sy haar­kap­perswinkel sal vir die res van die week toe wees. Die Sateragaand het Tony weer tot laat moes werk om almal, sy eie kliënte en dié van Ivan, se hare gesny te kry. Die Sondag trek Tony sy beste klere aan, neem die geld wat hy bowe en behalwe sy gewone ure gemaak het en besoek sy opponent. “Bietjie kontant vir jou, Ivan,” en daar­mee gooi hy banknote en muntstukke in die ver­baas­de Rus se hande. “Jou kliënte se geld wat by my beland het. Word gou gesond!” Daarmee groet hy en vertrek. Daarna het Tony en Ivan hul haar­kapperwinkels steeds apart bedryf, maar hulle was vriende en het mekaar gehelp waar hulle kon.

Dit is die lewensgedrag wat die Here Jesus ons kom leer het. Van die Ou Testament af, deur tot in die Nuwe Testament, is dit die lewenspatroon wat die Here by ons soek. God se wet het twee dele, weet ons. Op die skrifgeleerde se vraag: “Wat is die heel grootste gebod? (Mk.12:28)”, het Jesus geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart…en…Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Mk. 12:30,31).”

By talle geleenthede word, in die Skrif, liefde beklemtoon: “…doen goed aan die men­se deur wie julle gehaat word …behandel ander mense soos julle self behandel wil word…gee, en vir julle sal gegee word:’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word” (Luk.6:27,31,38). “Spoor hulle aan om goed te doen,om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam” ( Tim.6:18).

“Here, vandag wil ek u goedheid aan ander oordra.”