Wo 29 Julie: Oorwinning oor Kwaad

Lees Romeine 12: 9 – 21

“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (21).

Die Western Recorder vertel die verhaal van twee skoolseuns. Hulle was maats. Hulle het saam gespeel en saam geleer. Die een se naam was George Washington, wat die Verenigde State van Amerika se eerste president geword het. Die ander een was Peter Miller. Hy het ’n predikant geword. Washington het in Philadelphia gewoon en Miller op Ephrata, ’n dorpie honderd kilometer van die hoofstad af. Eerw. Peter Miller moes vir jare die vervolging en vyandigheid van ’n man met die naam, Michael Wittman, verdra. Wittman het alles in sy vermoë gedoen om die dienskneg van die Here se lewe te versuur. Hy het hom eenkeer persoonlik aangerand; die kerkgebou beskadig; selfs in die openbaar teen Eerw. Miller en sy getuienis vir Christus te velde getrek. Op ’n dag was Wittman betrokke by ’n verraderlike korrupsie­voorval. Hy is in hegtenis geneem en tot die dood veroordeel. Toe Rev. Miller daarvan hoor, het hy die honderd kilometer Philadelphia toe gestap om vir die lewe van sy jarelange vyand te gaan pleit. “Wel, Peter, wat kan ek vir my ou skoolmaat doen?” vra Pres. Washington met groot vriendelikheid. “Terwille van ons ou vriendskap, George, kom ek pleit vir die lewe van die verraaier, Wittman.” “Nee, Peter, hierdie saak is te donker en lelik. Ek kan selfs nie vir jóú jou vriend se lewe spaar nie.” “My vriénd! Ag, George, hy is die bitterste vyand wat ek ooit gehad het.” Hy vertel vir die president wat hy vir twintig jaar van Wittman moes verduur. “Dit plaas die saak in totaal ander lig,” antwoord Washington. Ek kon nie vir jou jou vriend se lewe spaar nie, maar ek sal, op jou versoek, jou vyand vryspreek.” Drie dae later het die dominee en sy jare lange vyand die honderd kilometer terugtog saam aangepak. Sy vryspraak het Wittman eers verbyster en toe verteder. Op die staptog saam met Peter Miller het Michael Witt­man kragdadig tot bekering gekom. Peter Miller het hom, die eerste Sondag na hulle tuiskoms, gedoop en hy het lidmaat van die kerk geword.

“Here, vandag wil ek met liefde vir U getuig.”