Lees Markus 10: 13 – 16
‘Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie” (16)
’n Ongelowige man het baie siek in sy bed gelê. Hy het nie in God geglo nie en wóú nie in God glo nie. Om sy ongeloof te versterk en sy vrees vir die ewigheid weg te neem, het hy teen die muur, waar hy dit gedurig kon sien, ’n spreuk opgeplak: “God is nowhere”. Sy dogter¬tjie het in die kamer gekom. “Lees vir my daardie woorde,” sê hy vir haar. Gedienstig begin sy al spellende lees: “G-o-d God, is is, now now, here here. Pappa dit sê: God is nou hier.” Die man luister verbysterd en diep geraak. Lig daal oor hom. Hoop spring in sy hart op en hy bid die ou beproefde sondaarsgebed: “O God, wees my sondaar genadig!” Vir hierdie man het redding gekom uit die eenvoud van sy kindjie se geloof.
Anders was dit met die dogtertjie van ’n godvresende regter. Sy, weer, was baie siek en dit was nie seker dat sy sou lewe nie. Die bedroefde pa het by haar bedjie gesit en haar handjie in sy groot hand vasgehou. Sy hart het na sy kind toe uitgegaan. “My kindjie, is jy nie bang om na God toe te gaan nie?” vra hy tederlik. “Nee, Pappa,” antwoord sy dadelik. “Ek is nie bang nie. Ek weet God is lief vir my. En Jesus is ook daar. Hy sal al my stoutigheid goedpraat en alles wat ek goed gedoen het weer vir God vertel.” “…as ons sondig – ons het Jesus Christus…as ons voorspraak by die Vader (1 Joh.2:1). Wat is nou ons gevolgtrekking…God is vir ons…Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red…Hy is uit die dood opgewek…Hy sit aan die rgterhand van God, Hy pleit vir ons (Rom.9:31-34).” Waarlik, hoe wyd oop staan die deur van genade en redding na God toe!.
“Here, vandag kom ek in by die deur, wat so wyd oop staan vir my.”