Lees Openbaring 3:14-23
“Daarom raai ek julle aan om by My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word…”(18)
Twee beroemde mense in Amerika het in dieselfde jaar, 1899, gesterf: die ongelowige vrydenker kol. Robert Ingersoll en die wêreldevangelis Dwight L. Moody. Ingersoll se dood was baie skielik. Sy vrou en dogter het sy liggaam wanhopig vasgeklou. ‘n Dagblad het geskryf: “The scene at the crematorium was enough to make the heart of anyone ache.” Ingersoll het by geleentheid op die verhoog, na ‘n lesing, sy horlosie uitgehaal en gesê: “Ek gee God vyf minute om my, oor wat ek van hom gesê het, plat te slaan.”
Moody se dood weer was in elke opsig triomfantlik. Die oggend van sy dood het sy seun, wat by hom langs die bed gesit het, gehoor hy sê: “Die aarde verdwyn, die hemel gaan oop. God roep.” Die ander lede van die gesin is geroep. Hulle hoor hom toe sê: “Daar is geen vallei nie. Dit is heerlikheid. Dit is saligheid..” Sy dogter begin bid dat haar pa weer gesond sal word. Hy keer haar : “Nee, Emma. Moenie. God roep my. Dit is my kroningsdag. Ek het so uitgesien daarna.” En so het hy God se teenwoordigheid binnegegaan. Sy begrafnis is deur oorwinnende vreugde gekenmerk.
Dít is ‘n uur wat elkeen van ons, sonder uitsondering, gaan beleef: Die uur, wanneer ons, uit hierdie lewe, oorgaan, ewigheid toe. Ons sterwensuur. Die belangrikste uur van ons ganse lewe. Een faktor is dan belangrik: Bedék die Here Jesus se versoeningsbloed my lewe se sondes, en hét ek uit Christus se opstanding, deur geloof, die ewige lewe ontvang? Ander prestasies, besittings, waardes verval in daardie belangrikste uur. Dit sal vir my, óf ‘n uur van onuitspreeklike verskrikking, óf ‘n uur van onuitspreeklike heerlikheid wees. Dit hang af van die antwoord op dié belangrike vraag: Het ek iewers in my lewe die Here Jesus as my persoonlike Verlosser aangeneem?
“Here, vandag maak ek hierdie saak uit. Ek neem U aan om my Verlosser te wees. Kom woon in my hart.”