Ma 31 Aug: Die Sterfuur

Lees Openbaring 3:14-23

“Daarom raai ek julle aan om by My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word…”(18)

Twee beroemde mense in Amerika het in die­self­de jaar, 1899, gesterf: die ongelowige vry­denker kol. Robert Ingersoll en die wêreldevan­­ge­lis Dwight L. Moody. Ingersoll se dood was baie skielik. Sy vrou en dogter het sy liggaam wan­­hopig vasgeklou. ‘n Dagblad het geskryf: “The scene at the crematorium was enough to make the heart of anyone ache.” Ingersoll het by ge­leent­heid op die verhoog, na ‘n lesing, sy horlosie uitgehaal en gesê: “Ek gee God vyf minute om my, oor wat ek van hom gesê het, plat te slaan.”

Moody se dood weer was in elke opsig tri­omfantlik. Die oggend van sy dood het sy seun, wat by hom langs die bed gesit het, gehoor hy sê: “Die aarde verdwyn, die hemel gaan oop. God roep.” Die ander lede van die gesin is geroep. Hul­le hoor hom toe sê: “Daar is geen vallei nie. Dit is heerlikheid. Dit is saligheid..” Sy dogter begin bid dat haar pa weer gesond sal word. Hy keer haar : “Nee, Emma. Moenie. God roep my. Dit is my kro­nings­dag. Ek het so uitgesien daarna.” En so het hy God se teenwoordigheid binnegegaan. Sy be­grafnis is deur oorwinnende vreugde gekenmerk.

Dít is ‘n uur wat elkeen van ons, sonder uit­sondering, gaan beleef: Die uur, wanneer ons, uit hier­die lewe, oor­gaan, ewigheid toe. Ons ster­wens­uur. Die belangrikste uur van ons ganse lewe. Een fak­tor is dan belangrik: Bedék die Here Jesus se ver­soe­ningsbloed my lewe se sondes, en hét ek uit Christus se opstanding, deur geloof, die ewige le­we ontvang? Ander pres­ta­sies, besittings, waar­des verval in daardie belangrikste uur. Dit sal vir my, óf ‘n uur van onuitspreeklike verskrikking, óf ‘n uur van onuitspreeklike heerlik­heid wees. Dit hang af van die antwoord op dié belangrike vraag: Het ek iewers in my lewe die Here Jesus as my persoonlike Verlosser aangeneem?

“Here, vandag maak ek hierdie saak uit. Ek neem U aan om my Verlosser te wees. Kom woon in my hart.”