Wo 26 Aug: Die Hand van Sy Pa

Lees Psalm 16: 5 – 8

“Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is sal ek nie struikel nie”(8).

Ek het eenkeer in ’n geselskap gesit, terwyl ’n klein seuntjie, in sy spel, heen en weer oor die mat hardloop. Die hoek van die tafel, amper in die middel van die vloer, was net so hoog as die seuntjie se kop. ’n Skerp hoek. Elke keer as die kind rakelings met sy koppie by uitsteek tafelhoek verby hardloop, hou ek my asem op. Sy pa het die gevaar ook gesien. Hy het nie die kind se spel belet nie. Hy het ook nie die gevaarlike tafel verskuif nie. Hy het sy hand oor die hoek gesit en ons het met die geselskap voort­gegaan. Ook nie lank nie, of, wat ons almal voorsien het, gebeur. Meneertjie hardloop met sy koppie teen die gevaarlike tafelhoek vas. Maar dit is nie die tafelhoek wat hom tref nie. Hy kry nie seer nie. Hy land op sy boudjies, en lag. Sy kop­pie het nie teen die tafelhoek nie, maar teen sy pa se sagte hand gestamp. So handel ons Hemelse Vader ook met ons. Ons gaan voort met ons lewe, die gevaarlike elemente bly om ons, maar ons Vader beskerm ons teen die leed wat dit ons kon aandoen.

“Here, vandag vertrou ek op u alsiende Oog, wat my gevaar sien, en u almatige Hand, wat dit toemaak.