Lees Job 7: 1 – 4 en 42: 1 – 6
“So bring ek my maande deur met swaarkry, my nagte is net smart… (7:3). Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie… (42:3).”
Die dominee het ‘n vrou besoek wat ’n moeilike tyd van teleurstelling en beproewing deurgemaak het. Langs sy stoel het haar mandjie met haar naaldwerk gestaan. Hy tel ’n stuk naaldwerk op en kyk daarna. “Ek moet sê dis nie vir my eintlik mooi nie,” merk hy op. “Al die steke is dan deurmekaar.” Half geskok oor sy woorde, steek sy haar hand daarna toe uit. “Maar, Dominee, dis borduurwerk en u kyk na die verkeerde kant. Draai dit om. Die patroon is op die ander kant.” Hy glimlag. “Ek weet, suster,” antwoord hy sag. “Ek wil net hê, jy moet begryp, jy maak met God dieselfde fout. Hy is met ’n borduurwerk in jou lewe besig, maar jy sien net die deurmekaar en doellose steke aan hierdie kant. Die patroon is aan die ander kant. Hy berei jou vir sy ewige koninkryk voor.”
Die deurmekaar steke in sy lewe het Job ook verwar. Hy het gevoel, en gedink hy ervaar, dat God hom verlaat het. Al die tyd was God besig, om met groot aandag, in Job se lewe te werk. Meer as een keer het Dawid gedink God vergeet hom. “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here … Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? En al die tyd was God besig om hierdie uitverkore man van Hom vir die groot werk van koning en van voorsaad van die Messias gereed te maak. Petrus moedig die gelowiges ook so aan: “Verbly julle…al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word …sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus”(1Pet.1:6,7). Hieroor skryf dr. F. B. Meyer: “Do not be surprised if there should be matters in die Bible, in your own life, and in die Providential government of the world, which baffle your thought. Seek to be strengthened with might by his Spirit in the inner man. Let Christ dwell deep in your heart by faith. Take care to obey all his commandments and God will come into you and abide. He will give Himself to you and you will know Him as a little child knows its parent whom he loves and trusts and knows with its heart.”
“Here, vandag kyk ek by die deurmekaar steke verby.”