Lees 1 Johannes 4: 7 – 21
“Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê …God is liefde …”(9,16).
Reeds as jongman was regter Warren Candler ’n slim advokaat. Op ’n keer moes hy ’n man waa vir moord aangekla was, verdedig. Daar was versagtende omstandighede en adv. Candler het dit ten volle benut om sy kliënt se saak voor die jurie te bepleit. Die aangeklaagde se bejaarde ouers was ook in die hofsaal teenwoordig. Adv. Candler het die jurielede se meegevoel opgewek deur herhaalde verwysings na die godvresende ouerpaar. Die aangeklaagde is vrygespreek. Warren Candler was ’n Christen en na die hofsaak het hy ernstig met die jongman gepraat. Hy word ’n nuwe kans gegee, om voortaan reg te lewe. Hy moet sy vertroue in God stel om hom te lei en te bewaar.
Na verloop van etlike jare is die man weer aangekla. Die aanklag was weer moord. Sy vorige advokaat, was hierdie keer, die regter. Die jongman het ontspanne in die beskuldigingsbank gestaan. Sy vriend was sy regter! So het hy gedink, selfs na die jurie hom skuldig bevind het. Regter Candler sê vir hom: “Met jou eerste verhoor was ek jou advokaat. Ek het jou losgepleit en jou ’n nuwe geleentheid vir die lewe gegee. Vandag is ek jou regter.” Toe kom die skokkende draai. “Die jurieuiitspraak verplig my, om jou die doosvonnis te gee.”
Die Bybel leer dat Christus ons voorspraak is. “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Hy die ons Advokaat. Die Bybel leer ook, Christus Jesus sal ons Regter wees. “(Hy) roep al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur `n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan” (Hand.17:30,31). Warren Candler het sy vorige kliënt geken. Jesus ken ook almal vir wie Hy die straf vir hulle sondes gedra het en wat in sy versoening redding gesoek het . Húlle sal as vrygespreektes verbygaan. Hy ken ook dié wat nie sy versoening wou aanvaar nie en gevolglik self vir hulle sondes die straf moet dra. Hulle sal veroordeel word. “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit., Al die volke sal voor Hom bymnekar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei…die koning sal vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom …die koninkryk is …vir julle voorberei, Neem dit as erfenis in besit…’Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van my af…na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is…’” Baie sal teen hierdie uitspraak van die Here protesteer. “Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie…’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af…’”(Mat.7:21-23)
“Here, vandag noem ek my naam voor U en ek bely dat ek in U as my Verlosser vertrou.”