Lees Romeine 3:21-26
“Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit
verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus
Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir
dié wat glo” (23-26)
Aan die buitewyke van Londen staan ’n bekende wit kruis op die rug van ’n
hoogtetjie ingeplant. Eendag het ’n seuntjie in die middestad, van sy ma geskei
geraak en tussen die wemelende menigte en baie besighede, se onbekende strate,
verdwaal. Hy was te klein om sy straatadres te ken. Sy alledaagse naam het dit
vir die polisieman, wat op hom afgekom het, moeilik maak om sy mense op te spoor.
“Waar woon jy, Seun?” vra die polisieman radeloos. “Oom,” antwoord hy snuiwend,
“as oom my net by die wit kruis kan bring, sal ek my pad huis toe kry.”
In hierdie verhaaltjie is ’n evangeliewoord, want die pad “huis toe” begin by die
kruis. ’n Mens raak in die lewe verdwaal. ’n Mens se weg kan verskriklik verkeerd
loop. Hoe word God se vaderhuis weer gekry? ’n Mens moet net by die kruis uitkom.
Moenie die regte pad soek nie; soek die kruis. By Christus se kruis vind die
siel lig en vrede en koers. ’n Mens vind God as jy by Christus se kruis uitkom.
Elke bestemming het ’n beginpunt. Die ewige dood, die verdoemenis, het die mens se
geboorte as beginpunt. ’n Mens raak nie langs die pad verlore nie. Ons begin ons
lewe as verlore mense. “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe
my moeder swanger geword het” (Ps.51:7). Daarom het Jesus vir Nikodemus gesê: “Dít
verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van
God nie sien nie” (Joh.3:3). Die ewige lewe, die hemel, as bestemming, se be
ginpunt is wedergeboorte. Die beginpunt van hierdie pad hemel toe is maklik
herkenbaar: Die kruis van Jesus is hierdie pad se beginpunt. Om aan God se
koninkryk deel te hê, moet ’n mens se sondes weggeneem word. Sonde versper ons pad
hemel toe. Christus se kruisdood het ons sonde weggeneem. Wanneer ons
sondeskuld weggeneem is, kom woon die Heilige Gees in ons hart en maak ons Chris
tus se lewe deelagtig. Dít is die ewige lewe wat sterker in ons groei, tot ons
die dag die hemel binnegaan.
Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My
toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle”
(Mat.19:14). Selfs voor die kindjie se geboorte moet ons vir die oudjie bid en so
vroeg moontlik vir die oudjie van Jesus se liefde leer. Van vroeg af moet `n
kindjie van die beginpad hemel toe, die kruis, leer. Een aand sit een van ons
kleintjies, sy was toe 6 jaar oud, by Riekie en by my op die bed en ek lees ons
Bybeldagstukkie. Net voor ek bid sê sy: “Oupa kan ek bid?” ‘Natuurlik, skat,”
antwoord ek met vreugde. Sy bid een sinnetjie: “Liewe Jesus, kom in my hartjie.”
Ek het dit in my hart beaam en volgens Jesus se belofte, is Hy nou in haar hart.
Ons bid elke dag vir haar en die ander drie oudjies en die ouers, op die name, dat
ons en hulle saam in die hemel sal wees.
Net soos ek is, geen hulp naby;
alleen u bloed gestort vir my;
Getrek tot u deurboorde sy –
o Lam van God, ek kom!
Net soos ek is, nooi U vir my,
vergewe, reinig en bevry;
Op u belofte steun ek bly –
O Lam van God, ek kom!
“Here, vandag kom ek na u kruis toe en vertrou in U vir my redding.”