Wo 16 Sept: Waar die Pad Begin

Lees Romeine 3:21-26

 “Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo” (23-26)

 Aan die buitewyke van Londen staan ’n bekende wit kruis op die rug van ’n hoogtetjie ingeplant. Een­dag het ’n seuntjie in die middestad, van sy ma ge­skei geraak en tussen die wemelende menigte en baie besighede, se onbekende strate, verdwaal. Hy was te klein om sy straatadres te ken. Sy alledaag­se naam het dit vir die polisieman, wat op hom af­gekom het, moeilik maak om sy mense op te spoor. “Waar woon jy, Seun?” vra die polisieman radeloos. “Oom,” antwoord hy snuiwend, “as oom my net by die wit kruis kan bring, sal ek my pad huis toe kry.”

 In hierdie verhaaltjie is ’n evangeliewoord, want die pad “huis toe” begin by die kruis. ’n Mens raak in die lewe verdwaal. ’n Mens se weg kan verskrik­lik verkeerd loop. Hoe word God se vaderhuis weer gekry? ’n Mens moet net by die kruis uitkom. Moe­nie die regte pad soek nie; soek die kruis. By Chris­tus se kruis vind die siel lig en vrede en koers. ’n Mens vind God as jy by Christus se kruis uitkom.

Elke bestemming het ’n beginpunt. Die ewige dood, die verdoemenis, het die mens se geboorte as beginpunt. ’n Mens raak nie langs die pad verlo­re nie. Ons begin ons lewe as verlore mense. “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het” (Ps.51:7). Daarom het Jesus vir Nikodemus gesê: “Dít verse­ker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3). Die ewige lewe, die hemel, as bestemming, se be­ ginpunt is wedergeboorte. Die beginpunt van hier­die pad hemel toe is maklik herkenbaar: Die kruis van Jesus is hierdie pad se beginpunt. Om aan God se koninkryk deel te hê, moet ’n mens se sondes weggeneem word. Sonde versper ons pad he­mel toe. Christus se kruisdood het ons sonde weg­ge­neem. Wanneer ons sondeskuld weggeneem is, kom woon die Heilige Gees in ons hart en maak ons Chris­ tus se lewe deelagtig. Dít is die ewige lewe wat ster­ker in ons groei, tot ons die dag die hemel binne­gaan.

Je­sus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hul­le” (Mat.19:14). Selfs voor die kindjie se geboorte moet ons vir die oudjie bid en so vroeg moontlik vir die oudjie van Jesus se liefde leer. Van vroeg af moet `n kindjie van die beginpad hemel toe, die kruis, leer. Een aand sit een van ons kleintjies, sy was toe 6 jaar oud, by Riekie en by my op die bed en ek lees ons Bybeldagstukkie. Net voor ek bid sê sy: “Oupa kan ek bid?” ‘Natuurlik, skat,” ant­woord ek met vreugde. Sy bid een sinnetjie: “Liewe Jesus, kom in my hartjie.” Ek het dit in my hart beaam en volgens Je­sus se belofte, is Hy nou in haar hart. Ons bid elke dag vir haar en die ander drie oudjies en die ouers, op die name, dat ons en hulle saam in die hemel sal wees.

Net soos ek is, geen hulp naby;
alleen u bloed gestort vir my;
Getrek tot u deurboorde sy –
o Lam van God, ek kom!

Net soos ek is, nooi U vir my,
vergewe, reinig en bevry;
Op u belofte steun ek bly –
O Lam van God, ek kom!

 “Here, vandag kom ek na u kruis toe en vertrou in U vir my redding.”