Lees 2 Korintiërs 6:3-10
“…as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd…”(10).
’n Jong meisie van 20-jaar oud het aan rugmurgontsteking siek gelê. Sy het geweet dit is ongeneeslik en sy gaan die lewe as ‘n kroniese invalide tegemoet. Sy was ’n Christin en het in haar beproewing naby aan die Here geleef en het deur haar beproewing nader aan die Here gekom. ’n Vriendin het haar besoek en diep begaan oor die meisie se ongelukkige toestand, in medelydende toon gesê: “Ja, beproewing kleur alles in ’n mens se lewe.” “Dit is waar,” antwoord die siek meisie opgewek, “maar ek gaan self die kleur kies.”
Die prediker C. H. Spurgeon, wat self aan breinkanker gely het, het gesê beproewing het die beste meubels in sy lewenshuis ingebring. Die voordeel wat hy uit voorspoed geput het, kan hy op ’n pennie rangskik, maar die voordeel en genade wat sy beproewing vir sy siel gebring het, is onberekenbaar.
Teëspoed, lyding en beproewing is ’n pynlike proses van die lewe, maar die mens se innerlike lewe word daardeur gelouter. “En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof , en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom.5:2-5). Sonder God se genade in ons lewens, deur die inwoning van die Heilige Gees, wat in ons geloof en hoop werk, breek beproewing ’n mens stukkend en maak van jou ’n verbitterde mens.
Die Here Jesus het as mens in sy eie Persoon self gely en swaargekry. Hy het ons lyding sy eie saak gemaak. As ons Hom ken en met Hom gemeenskap het, word Hy ons lewe se ondersteunende krag. Uit Hom put ons, deur die inwerking van die Heilige Gees, geduld en moed en blydskap. “Hy het self ondervind wat dit is om te ly…Ons Hoofpriester kan ons swakhede verstaan, want Hy het presies dieselfde versoekinge as ons gehad…”(Heb.2:18 & 4:15 Lewende .Bybel). Die lydende Christen ervaar en openbaar ’n lewensblydskap wat nie uit menslike krag kom nie.
“Here, vandag vra ek geloof en blydskap om in die dinge wat my laat swaarkry te oorwin.