Lees Kolossense 3:12 – 17
“En wat julle ookal sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus…” (Kol.2:17)
Ou Bust-Me-Up, was ‘n lomp en lelike sleepboot, wat tussen Londen en Portsmouth, gewerk het. Hy kon nooit in ‘n hawe inkom sonder om teen een of ander boot te stamp en skade te veroorsaak nie. Daarom was die boot se naam, Bust-Me-Up. Een dag kom die boot pylreguit die hawe ingeseil en word netjies vasgemeer, sonder om teen ‘n enkele boot te stamp. ‘n Matroos wat op die kaai staan, kan nie help om uit te roep nie: “Wat het met jou gebeur, Bust-Me-Up?” Een van die boot se bemanning leun oor die reling en skreeu terug: “Nuwe kaptein gekry!” Dit was die geheim van die nuwe gedrag.
‘n Mens kan baie onbedagsaam teenoor mense optree, selfs onbeskof wees en hulle seermaak. Dit kan opsetlik wees, as die hart nog ver van die Here af is. Of dit kan ook gebeur dat die dinge uitglip, voor ‘n mens goed gedink of jouself onder beheer gekry het,. Wanneer Christus die beheer in die lewe oorneem, verander ‘n mens se gedrag. Self is nie meer aan die stuur nie. Jesus het die kapteinskap oorgeneem en die lewensgedrag verander toenemend. Iets van Jesus se nederigheid en vriendelikheid kom in so ‘n lewe te voorskyn. “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie”(Rom.13:14)
“Here, vandag gee ek die beheer van my lewe in u hande oor.”