Lees Romeine 13: 11 – 14
“… dit… is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is” (11)
Na ’n treinongeluk in Engeland, het een van die slagoffers in sy sak, ’n assuransiekoepon van twee duisend pond (in 1983-ongeveer R3 500 werd) gehad. ’n Groot hulp vir ’n gesin waarvan die broodwinner so skielik dood is. Ongelukkig het hy dit nie geteken nie. Dit was dus nie geldig nie.
Om die dokumentjie te teken sou die man net ’n sekonde of twee geneem het. Maar hy het dit nie geteken nie. ’n Gedrang by die toonbank het hom moontlik verhinder om dit dadelik te teken. Die aankoms van die trein het hom moontlik haastig gemaak en hy het besluit om dit op die trein te teken. Drukte in die passasierswa het dit dalk vir hom moeilik gemaak. Dalk het hy nie dadelik ’n pen beskikbaar gehad nie. Talle goeie redes kon hom verhinder het om te teken – wat egter saak gemaak het, was, hy hét dit nie geteken nie. Hy kon – maar hy hét nie.
’n Betydse handeling kan ’n ongelukkige verloop van sake voorkom. Doen wat nodig is betyds. ’n Mens kan dit liewer te voortydig doen! Die bitterste verwyt bly egter die versuim om betyds, die saak van ’n mens se persoonlike saligheid af te handel.
In die lig van God se groot verlossingsaanbod, pleit Paulus, by die Korintiërs, om die saak van hulle verlossing nie te versuim nie: “Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees…Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2 Kor.5:20.) Hierdie saak vra dadelike aandag.
“Here, vandag maak ek die saak van my verhouding met U my eerste belang.”