Lees Openbaring 22: 11 – 21
“Jesus sê … ‘Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het” (12).
Die beroemde avonturier en ontdekkingsreisiger, Shackelton, is deur hewige ys en die swak toestand, van sy boot, gestuit in sy poging om die Suidpool te bereik. Hy moes noodgedwonge van sy manne op Elephant Island agterlaat. Hy het belowe om vir hulle terug te kom. Daarna het hy so goed hy kon sy weg omgewerk na Suid-Geogia toe en ’n poging aangewend om sy manne te bereik, maar hy het gefaal. Hy het nog ’n keer probeer, maar weer gefaal. Die ys was tussen hom en die eiland. Hy kon vir homself nie rus vind, voor hy sy manne na veiligheid gebring het nie. Hoewel sy boot, Yaliho, nie geskik was vir so ’n vaart nie en die naderende winterseisoen van die Suidpool dit gevaarlik gemaak het, het hy, teen alle raad in, tog weer probeer om die eiland te bereik. Vreemd genoeg was daar daardie dag, ’n smal straatjie water tussen die see en die eiland. Hy het met sy boot in die waterbaan ingejaag, sy manne aanboord gekry en net voor die ys die waterstrook weer toegestoot het, uit die gevaar uitgejaag. Dit het alles in ’n halfuur se tyd gebeur.
Na die opgewondheid bedaar het, draai Shackleton na een van die manne toe met die woorde: “Julle het nie geweet ons kom vandag nie. Hoe was julle dan gepak en gereed om opgelaai te word?” Die man antwoord (ek gee sy eie woorde in Engels): “See, Boss, sarge Wilde, never gave up hope and whenever the sea was all clear of ice he rolled up his sleeping bag and said: ‘Roll up your sleeping bags, boys: the boss may come today.’”
Dit moet ook ons houding wees oor die wederkoms van Christus: “Hy mag vandag kom; wees gereed!” So het Jesus dit vir sy dissipels (en ons) voorgeskryf: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie … dit is soos ‘n man wat ver weggegaan het en sy huis in beheer van slawe gelaat het … julle weet nie wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie … sodat hy julle nie aan die slaap kry nie” (Markus 13:34-36).
Eeu na eeu gaan verby en in elke eeu klink die prediking van Jesus se wederkoms op, maar steeds het dit nie gebeur nie. Dit is maklik om te verflou in ons verwagting van sy koms. Ons moet mekaar gedurig aanmoedig om elke dag vir sy koms gereed te wees: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie… Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand ver-lore gaan nie…die dag van die Here sal so onverwags soos ’n dief kom…leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor…ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” (2 Pet.3:8-13).
Dink ú Jesus kan dalk hiérdie week kom? En indien Hy wel sou kom, is u gereed om Hom te ontmoet? Maar die Bybel leer ons om ons verwagting korter te stel: Hy mag dalk vandag kom? Die belangrike saak is, ons moet sonder onderbreking, gedurig gereed wees, indien Hy skielik en onverwags kom.