Lees 2 Konings 5: 9 – 14
“…as die profeet iets moeiliks van u verwag het sou u dit nie gedoen het nie? (13).
’n Ywerige predikant hou vir die manne in ’n myn `n etensuurdiens. Na die kort diens, neem die skofvoorman hom na die skaghyser toe. Terwyl hulle stap, sê die voorman: “Dominee, jy het goed en duidelik gepreek. Maar jy maak bekering darem net te maklik. Jy sê mens moet net die Here vrá: ‘Red my, asseblief.’ ’n Mens moet mos darem iets van jou kant af ook doen.” “Dankie, broertjie,” antwoord die dominee, maar hy reageer nie op die man se beswaar nie. Hulle stap ’n rukkie in stilte aan. “Dis darem ’n diep myn hierdie van julle,” merk die dominee op. Die myner vertel geesdriftig hoe diep die myn is. “Hoe gaan ek weer hier uitkom, jong?” vra die dominee met ’n senuweeagtige laggie. “Ag, nee, maklik, Dominee. Hier is ons nou juis by die hyser. Hy neem u sommer in ’n japtrap boontoe.” Hy druk die knoppie by die hyser se ingang en die hyserdeur skuif oop. “Stap net in, Dominee. Ek sal die regte knoppie vir ons druk.” Die dominee skud sy kop. “Nee, jong, ek weet darem nie. Dit klink vir my darem net te maklik. Is hier nie ’n leer of trappe waarmee ek liewer kan uitklim nie?” Die voorman kyk verstom na die dominee. “Genade, nee, Dominee! Dis mos onmoontlik om hier van onder af, uit te klim boontoe! Nee, u hoef nie onrustig te wees nie. Stap net in en ry boontoe!” Die dominee kyk die man in die oë. “Broertjie, ons verlore toestand is dieper as hierdie myn. Die Here Jesus het alles wat vir ons verlossing nodig was, gedoen met sy kruisdood en opstanding. Nou sê jy dit is te maklik, om sonder om self iets by te dra, die Here se redding net aan te neem. Wil jy dan met ’n leer probeer opklim na God toe, in plaas van net te vra: ‘Here, red my?’”
Die boodskap van die Here se woord is, die Here Jesus Christus het ‘n volkome verlossing bewerk. “Jesus…het gesê: ‘Dit is volbring! Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas”(Joh.19:30). “…Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring…Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak” (Heb.10:12,14). Hierdie verlossing wat God aan die mensdom gegee het, is ’n gawe, ’n geskenk, wat aangeneem moet word. Dit is ’n dubbele geskenk: die wegneem van ons sondeskuld en die gee van die nuwe lewe in ons hart.: “…God ons Redder (het) gewys hoe…lief Hy ons mense het. Hy het ons gered, maar dit was nie omdat ons vooraf iets gedoen het wat reg was nie; dit was omdat Hy vir ons jammer was. Hy het ons gered toe Hy ons sondes afgewas en ons ’n nuwe geboorte gegee het, toe die Heilige Gees ons nuut gemaak het.” Tit.3:4 (Lew.Byb.). Glo dit en neem dit aan: “En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet” (Opb.22:17).
“Here, vandag glo ek en ek vra: ‘Red U my, asseblief.’”