Sat 27 Des: Span jou Seile!

SKRIFGEDEELTE: Filippense 3:10

"Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan Sy lyding."

Ella Wheeler Wilcox het geskryf: "Een skip vaar oos en 'n ander vaar wes met die selfde winde wat waai. Waarheen jy vaar word bepaal deur hoe jy die seile span, en nie deur die winde nie. Die noodlot is soos die winde van die see, dit waai ons deur die lewe. Dit is hoe jy jou seil span wat die doel bepaal en nie die kalmte of struwelinge nie."

Het jy al ooit opgelet hoe dieselfde omstandighede een mens onderdruk en 'n ander aanspoor tot groter hoogtes? "warheen jy vaar word bepaal deur hoe jy die seile span, en nie deur die winde nie." Dit is duidelik dat Paulus sy seile moes span: "Al wat ek wens, is om Christus te ken." En hy het geweier om van koers af te dwaal of om 'n kompromis aan te gaan.

Intimiteit met God was Paulus se enigste doel. Is dit maklik om so 'n doel te bereik? Nee! Dit beteken dat jy nooit kan opgee nie en jouself baie tyd moet gee om dit te bereik. Jy kan nie Godvresendheid op 'n skedule plaas nie. Jy moet geestelike dissiplines soveel oefen dat hulle later gewoontes word. Jou verstand het tyd en ervaring nodig om hulle te assimileer. Soos enige nuwe gedrag moet hulle eers deurdink, aanvaar en aangepas word. Soos die tyd verbygaan sal sommige van hulle posvat en deel word van 'n konstante lewensstyl. As jy terugkyk op jou lewe sal jy agterkom dat jy wel verander het. Hoe? Jy het jou seile in 'n nuwe rigting gespan en word nie meer doelloos rondgewaai deur die winde van drange, omstandighede, gerief, openbare mening of eie belang nie. Om soos Christus te wees is 'n reis, nie 'n bestemming nie. Beplan dus vir 'n leeftyd van reis en maak seker dat jy dit geniet terwyl jy op pad is.

Woens 31 Des: Die Winnende Krag

Lees Lukas 6:27-31

“…doen goed aan mense deur wie julle gehaat word…”(27).

Dr. Stuart J. Holden was beïndruk deur die toegewyde Christenskap van ’n sersant in die Britse Weermag. Hy het hom gevra hoe hy tot bekering gekom het. “Voor ons Egipte toe gestuur is, was ons in Malta,” vertel die sersant aan dr. Holden. “Een van die manskappe in my afdeling het tot be­ke­ring gekom en hy het geen doekies omgedraai dat hy ’n volgeling van Jesus Christus is nie. Sy ab­so­lute toegewyde lewe, en wat ons gedink het ’n dwepery is, het ons almal ontstig en ons het hom daarvoor laat boet. Hy het volhard in sy navolging van Jesus. Een nag het ons natgereën en moeg gesukkel na ons barakke toe teruggekeer. Ek het kort van draad nog in my bed probeer kom toe hy, sowaar, eers by sy bed kniel en begin bid. Dit was vir my net een te veel. My stewels was swaar van die nat modder. Ek het eers my een stewel geneem en hom teen sy kop gekap en toe die ander stewel geneem en hom teen die ander kant van sy kop ge­slaan. Hy het sy kop net tussen sy skouers ingetrek en verder gebid. Ek het omgedraai, ingekruip en dade­lik aan die slaap geraak. Toe ek die volgende oggend wakker word, staan my twee stewels langs my bed, netjies skoongemaak en blink gepoleer. Dít was my manskap se reaksie op my nydigheid. Dit het my gebreek. Ek het met die kapelaan gaan praat en my hart vir die Here gegee. Daarna het ek vir my manskap gaan vertel en verkoning gevra vir my gedrag. Ek wens jy kon sy blydskap sien!”

Dit is hierdie oorwinning van goedheid in antwoord op kwaad, waarmee Christene ander se har­te kan wen. As die Christen ander se onbe­skoft­heid in dieselfde munt terugbetaal, verloor sy getuie­nis krag. Dit is hoe Paulus en Silas in die tronk van Filippi die tronkbewaarder se hart gewen het. Met rûe stukkende geslaan, sing hulle lofliedere. Jesus het aan die kruis vir sy vyande gebid. Hy het ons geleer: draai die ander wang, antwoord haat met liefde, bevoordeel jou vyand. Dit verg meer as net menslike ordentlikheid en verdraagsaamheid om só ’n kwaliteit lewe te kan uitleef. Slegs as die Heilige Gees die le­we van Christus in ons openbaar kan ons hierdie soort Christenskap uitleef. Dit vra ’n “baie naby aan die Here bly” soort lewe.

“Here, vandag wil ek naby aan U kom, sodat ek u eie liefde in my gedrag teenoor ander kan betoon.”

Dins 30 Des: Oomblik Na Oomblik

SKRIFDEEL: Lees Jesaja 12:1-6

“Die Here my God is my krag en my beskerming. Hy is my redder” (2).

Die lied “Simply trusting every day” het vir die eerste keer as ’n gedig in ‘n koerant verskyn. Iemand het dit aan die evangelis D. L. Moody gegee. Hy het dit gelees en was tevrede dat dit leerstellig korrek is en tot geestelike seën vir mense kan wees. Op sy versoek het die sanger, Ira D. Sankey, die lied getoonset en by geleenthede gesing.

Die woorde “elke dag” het na ’n effense lang tyd geklink en die lied is verander na:“I need Thee eve­ry hour”. Dit het deur die Borstal Seunsinstituutkoor baie bekend geword. Tydens die wêreldskou in Chicago is die lied, “I need Thee every hour”, dik-wels by samekomste gesing. Henry Varley, ’n Ame­ri­kaanse evangelis, het teenoor sy vriend, maj. Whittle, die opmerking gemaak: “Ek het die Here nie net elke uur nodig nie. Ek het Hom elke oomblik in my lewe nodig.” Maj. Whittle het hierna ’n lied geskryf waarvan die koortjie, wat na elke vers herhaal word, baie bekend geword het:

Moment by moment I’m kept in His love;

Moment by moment I’ve life from above,

Looking to Jesus till glory doth shine;

Moment by moment, O Lord, I am Thine.

Die gedurige teenwoordigheid en hulp van die Here word in die Here se Woord aan ons belowe: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Moe­nie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (Jes.41:10). Jesus belowe sy gedurige teenwoor­dig­heid aan sy dissipels (en daarom ook aan ons): “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mat.28:20).

“Here, vandag wil ek terugleun in u arms en in my hart u vrede hê.”

Ma 29 Des: Binne Elkeen se Vermoë

SKRIFDEEL: Lukas 10:25-37

“Hy het na hom toe gegaan…hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg toe geneem…” (34)

Op ’n koue wintermiddag in Londen sit ’n ou man naby die hoek van ‘n straat op sy lae stoeltjie en bedel. Met vingers, blou van die koue, probeer hy sukkelende op ’n goedkoop viool speel. Die vals klanke trek min aandag. Min geldstukkies beland in sy omgekeerde hoed. Die ysige wind dryf die men­se vinnig na hulle bestemming toe. Twee welge­kle­de mans steek by die ou man vas. Die een man spreek hom in gebroke Engels, met ’n vreemde ak­sent, aan: “Jy kry maar min in, nè? Niemand wil gee nie, nê? Kom ons máák hulle gee.” Hy neem die viool by die verbaasde ou man en stem dit in. Toe die strykstok oor die snare streel, is dit of daar le­we in die viool kom. Soet klanke, vol musiek, stroom uit. Mense kom tot stilstand, bly staan en luister. ’n Skare vergader. Die straathoek verander in ’n konsertverhoog. Die ou man se hoed word rond­gestuur. Dit word swaar van al die muntstukke. Die vreemdeling gee die hoed vol geld en die viool aan die ou man terug. Die ou man is oorstelp van vreugde en opwinding. “Dankie! Dankie!” prewel die ou. “Wie is u, Meneer?” Die man glimlag. “My naam is Paga­nini.”

Dit was ge­rieflik binne Paganini se vermoë om die nodige taak, wat totaal buite die ou man se vermoë was, te verrig. Ons het elkeen ver­moëns wat aan ander ont­breek. Ons kry ook ge­leent­hede om vir ander dié dinge te doen wat vir hulle nodig is, maar wat hulle nie kan vermag nie. Dit is soos ’n dank­offer aan God, wat vir ons ons ga­wes gegee het, as ons vrywillig en hartlik vir iemand ’n onmoontlike knoop deurhaak. “Ek was oë vir die blindes en voete vir die kreupeles…” (Job 29:15).

“Here, vandag hou ek my oë oop vir ’n geleentheid om iemand te help met die gawes wat U aan my gegee het.”

Vry 26 Des: Ons Kosbare Bybel

SKRIFDEEL: Romeine 10:13-21

“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (v17 Ou Vertaling).

Vyf honderd jaar gelede was dit in Engeland ’n mis­daad om ’n Bybel te besit. Gelukkig het ons in ons land nog nooit so ’n belewenis gehad nie! Die Bybel kon nog altyd vryelik gelees word. Tog het ’n paar man­ne in Engeland, gewaag om ten spyte van die verbanning van die Bybel, die Bybel in gewone men­se se hande te plaas. Sulke soort mense het die Bybel ook aan ons besorg.

Een van hulle was William Tyndale. Hy het hom­self aan God met ‘n eed verbind om in élke gewone mens se hande ’n Bybel te plaas. Sy bekende woor­de was: “Every ploughboy should know the Scrip­tures.” Hy is uit Engeland verban om nooit weer terug te keer nie. Op die Europese vasteland het hy jare gewerk om die Bybel in Engels te vertaal. Sy eerste Engelse Nuwe Testament is in 1525 gedruk. Met die behulp van vriende het hy duisende Bybels Enge­land ingesmokkel. Hy is in hegtenis geneem en in ’n koue sel in Vilvorde, België opgesluit. Daarna is hy op ’n brandstapel verbrand. William Tyndale het, in na­volging van sy Meester, sy lewe gegee om vir ons die Bybel te gee. Sy laaste woorde was: “O Lord, open Thou the King of Engeland’s eyes.” Sy gebed is sodanig beantwoord dat die tradisionele Engelse Bybel die “King James Version” genoem word.

Die toegang van die evangelie in hierdie wêreld word heftig deur Satan weerstaan. Deur die krag van die Heilige Gees oorwin Christus se koninkryk en die evangelie het sy loop. Die uitbreiding van God se koninkryk het egter ’n hoë prys. Ons dank God vir manne en vroue wat in die wêreld se geskiedenis, bereid was om die hoogste prys, hul lewe, te betaal om die evangelie uit te dra. Dit spreek ons eie hart aan? Wat maak ons met hierdie groot skat wat na ons toe oorgedra is? Satan kon die verpreiding van die Here se woord nie keer nie. Nou doen hy, vir hom, die tweede beste ding: hy keer dat mense hulle Bybel lees! Hoe slaag hy by u daarmee? Lees die Here se woord. Oordink sy woord. As ons met oop oë en oop hart die Bybel lees, groei ons in ons kennis van God se koninkryk en ons groei in ons geestelike lewe. Uit die Woord, deur die Heilige Gees se werking, leer ons die Here Jesus ken. “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:18 Ou Vertaling).

“Here, vandag dank ek U vir my Bybel en ek wil u Woord lees en oordink en onthou.”

Do 25 Des: Ook in 'n Stal

Lees Lukas 2:8-20

“Vandag is daar vir julle die … Verlosser gebore, Christus die Here… julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê” (10-12).

Een oggend word ’n boemelaar in ’n vreemde soort bed wakker. Hoe hy daar gekom het, weet hy nie, want hy was die vorige aand weer dronk. Buite is dit koud, ’n Europese koue, maar hy lê lekker, sag en warm. Ook ’n ongewone seën vir hom. Hy probeer vasstel waar hy is. Met die pynklop in sy kop, is hy vanoggend besonder bewus van homself. Waar is hy? Hy lê langs lewe, want hy voel die beweging van asemhaling – en die vriendelike warmte. Hy steek sy hand uit en voel. Hy lê op strooi en – langs’n koei! Van alle plekke is hy in ’n stal. Hy glimlag wrang. Hy het darem diep geval. Nou kom die honger en hy dink aan ontbyt. Waar sal hy ietsie te ete kry? Gister is hy by ’n paar plekke weggejaag omdat hy vuil en half besope was. Sy soort is nêrens welkom nie. Hy is een van die diepgevallenes in die wêreld. Klokke begin beier. Hy hoor ook sang. Sang wat nader kom. Baie kinderstemme. Dit daal oor hom: dit is Kersfees. Trane brand in sy oë. Kersfees, en hy lê in ’n stal langs ’n koei! Kan enige mens dieper val? Die woor­de van die lied en die dinge van die Here wat hy as kind en jongmens in sy huis en in die kerk geleer het, kom brandende terug in sy hart: Die Heiland is gebo­re in stille Betlehem…So lief het God die wêreld ge­had dat Hy sy Seun, sy enige, gegee het as Midde­laar en Steun…Kom na die krip so needrig, daar lê die Kindjie teer…Word U uit sondaarsliefde ’n Kind­jie, swak en klein …Wou U uit gindse hemel op aard’ by ons kom woon – Dan bied ons nou ons harte U, die liewe Heer, tot troon!

Die sang word sagter, die singende kinders gaan verby, maar die woorde bly agter in die gedagte van die man wat in die strooi langs die herkouende koei lê. Hy, die Seun van God, het ook in ’n stal, in ‘n krip ge­lê! Die boemelaar begin snik. Hy kniel langs die koei in die strooi. Hy bedek sy gesig met sy hande en druk, knielende, sy kop teen die grond. “Ek het diep, diep geval, Here, maar U het tot in die stal by my gekom. Kom in my hart, Here Jesus, en maak dit u troon. Red my, Here…” Stilte kom in sy gemoed. Vrede kom in sy hart. Hy wat uit die hemel afgekom het tot in ’n stal, om te soek en te red dié wat verlore is, het tot by hierdie diepgevalle man in die stal gekom en hom gered en nuut gemaak. Niemand het ooit te laag gedaal dat Jesus, die Saligmaker, hom nie kan bereik nie. “Hy wat in die gestalte van God was het Homself verneder… ja, tot die dood aan die kruis” (Fil.2:6-8).

“Here, vandag glo ek U kom tot hier waar ek nóú is.”

Woens 24 Des: Maak Die Deur Oop

SKRIFDEEL: Hebreërs 2: 10 – 18

“Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword… daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy `n barmhartige en getroue Hoëprieser voor God kon wees…(14-17)

Baie jare gelede sit `n ou man met gehawende en stofbedekte klere aan, op die klipmuurtjie, wat om die Withuis, die woning van pres. Lincoln, loop. Sy gesig is nat van die trane. Hy maak `n droewige figuur van ellende uit. `n Seun wat `n metaalband voor hom uitrol, kom by die ou man tot stilstand. Hy wil weet wat fout is met die bejam­meringswaardige ou man. Die ou man kom regop. Hy vertel sy storie. Sy seun veg in die sg. American Army of the Potomac. Hy is van drostery aangekla en tot die dood veroordeel. Die pa wou met pre­si­dent Lincoln praat, sy seun se omstandighede verduidelik en genade vra, maar die wagte wil hom nie deurlaat na die president toe nie. “Ek sal jou na hom toe neem,” bied die seun aan. “Jy?” sê-vra die ou man verbaas. “Ja. Hy is my pa en hy laat my enige tyd by hom inkom.” So kry die ou man toe­gang tot die president deur dié se seun. Na hy sy eie seun se saak bepleit het, kry hy sy seun se vryspraak van sy doods­vonnis. Die verhaal eindig: “Thus, it is that through Jesus Christ, the Son, we have access to God the Father.”

Dit is die vooraand van Kersfees. Dit is wat Kers­fees vir ons beteken. Die Seun van God het soos ons mens geword om ons plek te kon inneem en later aan die kruis ons straf vir ons sondes te kon dra. Hierdie groot liefdesguns aan ons, moet deel wees van ons Kersvreugde. Kom ons dink daaraan en ons loof dit! “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom” (Joh.14:6).

­ “Here, vandag is U my oop deur na God toe.”

Dins 23 Des: Ons Kosbare Bybel

SKRIFDEEL: Romeine 10:13-21

“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (v17 Ou Vertaling).

Vyf honderd jaar gelede was dit in Engeland ’n mis­daad om ’n Bybel te besit. Gelukkig het ons in ons land nog nooit so ’n belewenis gehad nie! Die Bybel kon nog altyd vryelik gelees word. Tog het ’n paar man­ne in Engeland, gewaag om ten spyte van die verbanning van die Bybel, die Bybel in gewone men­se se hande te plaas. Sulke soort mense het die Bybel ook aan ons besorg.

Een van hulle was William Tyndale. Hy het hom­self aan God met ‘n eed verbind om in élke gewone mens se hande ’n Bybel te plaas. Sy bekende woor­de was: “Every ploughboy should know the Scrip­tures.” Hy is uit Engeland verban om nooit weer terug te keer nie. Op die Europese vasteland het hy jare gewerk om die Bybel in Engels te vertaal. Sy eerste Engelse Nuwe Testament is in 1525 gedruk. Met die behulp van vriende het hy duisende Bybels Enge­land ingesmokkel. Hy is in hegtenis geneem en in ’n koue sel in Vilvorde, België opgesluit. Daarna is hy op ’n brandstapel verbrand. William Tyndale het, in na­volging van sy Meester, sy lewe gegee om vir ons die Bybel te gee. Sy laaste woorde was: “O Lord, open Thou the King of Engeland’s eyes.” Sy gebed is sodanig beantwoord dat die tradisionele Engelse Bybel die “King James Version” genoem word.

Die toegang van die evangelie in hierdie wêreld word heftig deur Satan weerstaan. Deur die krag van die Heilige Gees oorwin Christus se koninkryk en die evangelie het sy loop. Die uitbreiding van God se koninkryk het egter ’n hoë prys. Ons dank God vir manne en vroue wat in die wêreld se geskiedenis, bereid was om die hoogste prys, hul lewe, te betaal om die evangelie uit te dra. Dit spreek ons eie hart aan? Wat maak ons met hierdie groot skat wat na ons toe oorgedra is? Satan kon die verpreiding van die Here se woord nie keer nie. Nou doen hy, vir hom, die tweede beste ding: hy keer dat mense hulle Bybel lees! Hoe slaag hy by u daarmee? Lees die Here se woord. Oordink sy woord. As ons met oop oë en oop hart die Bybel lees, groei ons in ons kennis van God se koninkryk en ons groei in ons geestelike lewe. Uit die Woord, deur die Heilige Gees se werking, leer ons die Here Jesus ken. “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:18 Ou Vertaling).

“Here, vandag dank ek U vir my Bybel en ek wil u Woord lees en oordink en onthou.”

Ma 22 Des: Modder word Droog

SKRIFDEEL: 2 Timoteus 2: 22 – 26

“`n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie… iemand wat onreg kan verdra. Met vriendelikheid moet hy sy teenstanders teregwys” (24,25).

“Father Graham was an old-fashioned gentleman, beloved by every one, and his influence in the little town was great, so good and active was he,” vertel ‘Our Young Covenanters’,” vir ons die storie. `n Jong­man in die dorpie is deur iemand erg beledig. Verontwaardig en woedend het hy na Father Gra­ham toe gekom vir raad. Hy is nou op pad na die persoon toe, vertel hy vir Father Graham, om dadelik `n behoorlike verskoning te eis. “Ou seun,” praat Father Graham met die ontstoke jongman, “laat `n ou man wat lief is vir vrede vir jou `n brokkie advies gee. `n Belediging is soos modder; dit borsel baie makliker af as dit droog is, as wanneer jy nat modder probeer skoonkry. Wag `n rukkie totdat julle albei se humeure afgekoel het, en dan gaan julle die saak mak­liker regmaak as wat nou kan gebeur. As jy nou gaan, gaan julle net baklei. Our Young Covenanters sluit die storie so af: “It is pleasant to be able to add that the young man took his advice, and before the next day was gone the insulting person came te beg fogiveness.”

Al verloop die uiteinde van `n twis nie so mooi en maklik soos hierdie een nie, is dit `n groot en verstandige waarheid. As kalmte van gemoedere in­getree het, kan enige saak makliker uitgepraat word as wanneer al die betrokkenes kwaad is. Laat die modder eers droog word.

Net so mooi is die storie van die dogtertjie wat oppad is skool toe. Alles aan haar is wit: wit rokkie, wit kousies, selfs wit skoentjies, en sy dra vir haar juffrou `n bossie wit blomme. Sy loop by `n seuntjie verby wat op die sypaadjie sy modderkoekies sit en maak. Toe sy by hom kom, gaan sy net so effens staan dat hy kan sien hoe mooi sy is. Hy kyk vir `n oomblik en toe tel hy `n modderkoekie op en gooi dit teen haar vas. Bederf is die wit rok! Vir `n oomblik kyk albei ewe verskrik na mekaar. Toe breek sy een van die wit blommetjies af en gooi dit op sy skoot. Hy gee net een skree, spring op en hardloop huis toe. Die ene trane land hy by sy ma en vertel wat gebeur het. Verstandig gaan die ma na die hui­lende dogtertjie toe, neem haar na haar eie huis toe en so saam-saam sorg die twee ma’s dat die wit uit­rusting herstel word. Die middag speel die kinders weer saam.

“Here, vandag loop ek saam met U die weg van vredemaak.”

Vry 19 Des: Brandende Lampe

SKRIFDEEL: Matteus 5: 13 – 16

“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik” (16).

Tydens `n hewige storm een aand, word die dok­ter in `n klein plattelandse dorpie, uitgeroep na `n siek kind­jie toe, op `n plaas, meer as 15 km. buite die dorp, skryf Christian Age die storie. Die kapok val vin­nig en maak die sig so swak, dat die dokter in ge­vaar is om met sy kapkar en perde die pad byster te raak. Hy bereik `n plaas­huis langs die pad. Per telefoon vra hy die volgende plaas­huis se mense om `n branden­de lantern uit te hang om hom koers te gee. Húlle vra weer die vol­gende bure om dieselfde te doen, en so gaan die bood­skap van plaas tot plaas, totdat `n ry lig­te die dok­ter in staat stel om, in die donker, die huis te bereik waar die kind­jie hom so dringend nodig het. Nie een van die mense van daardie omgewing kon vir kindjie iets doen nie, maar elkeen kon wel `n lamp op­steek, om die man wat die kindjie kón help, in staat te stel om hom te bereik. Elke lampopsteker het deel gehad aan die redding van die kindjie se lewe.

“Is not that a picture of the Christian life?” vra Christian Age. “We can each throw a light upon that part of the road that runs by our own door to make sure that no one shall miss the way because our light is not burning.” Die lig van Christus wat iemand kan red, lê nie in die groot dinge wat ons doen nie, maar in klein, daaglikse insidente, wat met die lig van Chris­­­tus se lewe gevul is: `n vriendelike woord, `n no­­dige guns, `n noodsaaklike bystand, `n opwek­kende be­moediging. Uit eie krag en eie wysheid het ons nie hierdie ligpunte, hierdie brandende lampe, in ons le­we nie. In ons goeie verhouding met Christus bring die Heilige Gees dit in ons lewe in. “Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het…julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword …met `n blydskap wat van die Heilige Gees kom… het julle `n voorbeeld geword vir al die gelowi­ges in Masedonië…Van julle af is die woord van die Here in Masedonië…verkondig…Die mense vertel self hoe julle…die lewende en ware God dien… en sy Seun uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom” (1 Tes.1:6-10).

“Here, vandag vra ek om my lamp helder te laat brand.”

Don 18 Des: Skynende Lig

SKRIFDEEL: Lukas 2: 8 – 20

“…die glans van die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn…die engel sê vir hulle ‘…ek bring vir julle `n goeie tyding van groot blydskap…Vannag is daar vir julle …die Verlosser gebore, Christus die Here!’” (10,11).

Twee jongmense loop met die paadjie wat aan die voet van Catskill Mountains, al langs die ri­vier kronkel, vertel Secret Place. Hulle praat oor `n jong­meisie wat hulle albei ken. Die jongman sê: “Sy het, wat ek sou noem, `n stra­lende per­soonlikheid.” “Dis waar,” stem sy vriendin saam. “Hoe sou jy dit ver­klaar?” Hulle stap `n endjie in stil­te, dan wys die jong­man na die oorkant van die ri­vier. “Sien jy daar­die ou kasteel? Toe ek `n seun­tjie was, was ek en my maats lief om hier op die rivier­wal te sit en na die kasteel te kyk. Ons kon sê wat in die kasteel aan­gaan volgens die ligte wat in die kasteel brand. As net die familie byme­kaar was, het net `n paar lig­te gebrand. As hulle gaste ont­haal, brand `n klomp ligte. Een keer het `n lid van die koninklike fa­milie daar besoek afgelê. En jy moes daardie aand die ligte kon sien! Ek het selde so `n glans en skit­tering in my lewe gesien.” Die gesprek keer te­rug na hulle vriendin toe. “Dít moet die oorsaak van haar skynende persoonlik­heid wees, dink ek,” be­sluit die jongmeisie. Ek haal haar eie woorde aan soos in Secret Place geskryf: “I think the only way her radiant personality can be explained is that she is constantly enter­tain­ing a Royal Guest.” Ko­ning Jesus woon in haar hart.

Dit is wat die eerste Kersnag gebeur het. Die Prins van die Hemel, die Here Jesus, het na hierdie wê­reld toe gekom. Die ligte van die hemel is aangesteek. In die Paleis van koning Herodes was dit egter donker, want toe hy by die Wyses uit die Ooste van die geboorte van die nuwe koning, hoor, het hy moord beplan. Al die klein seuntjies van die omgewing moes doodgemaak word. In die stal het dalk net `n lampie gebrand, want dit is waar die Koning van die hemel in híérdie wêreld gebore moes word. Daar was nie plék in die herberg nie! Hierdie wêreld het nie plek vir die Koning van die Hemel gehad nie, daarom het die heerlikheid van die hemel rondom die herders, buite in die veld geskyn. “…in die óóp veld…(het) die glans van die heerlikheid van die Here rondom hulle geskyn” (Luk.2:8,9). Die lig van die Koning van die Hemel skyn óók in harte wat aan Hom behoort en om is.

By ons Kersbome brand vanjaar ook weer pragtige lig­te. Steek ons dit aan omdat ons juig oor die koms van ons Koning? Die lig en vrolikheid om `n Kers­boom, sonder bewussyn van Jesus se teen­woor­digheid en verering, is `n hartseer ge­beur­tenis. Kom ons vier `n bly en pragtige verligte Kersfees, en kom ons vereer die Here Jesus, omdat Hy gekom het om ons te red en by ons te kom woon.

“Here, vandag juig ons oor u koms na ons toe.”

Woens 17 Des: Nooit Alleen Nie

SKRIFDEEL: Psalm 121

“Die Here beskerm jou” (5)

Dr. Tony Campolo skryf in sy boek A Dreamer for the Kingdom dat hy opgegroei het in ’n dig­be­volk­te, besige stad. Sy ma het ’n tienderjarige dogter, wat naby hulle gewoon het en ook skool toe moes loop, gevra om teen ’n nickle a day haar oog oor hom te hou as hy skool toe en terug loop. Die skool was agt blokke ver en hulle moes verskil­lende be­sige strate kruis om by die skool te kom. In sy twee­de skooljaar het Tony opstandig geraak dat hy elke dag saam met die buurdogter moet skool toe stap. Hy wou alleen loop. “Ek kan alleen loop. Ek belowe, ek sal baie versig­tig wees,” het hy gesoe­bat. Uitein­de­lik het sy ma toegegee. Vir die volgende twee jaar het Tony self skool toe en terug gestap. Hy was baie versigtig. Hy het nie met vreem­delinge ge­praat of nuuskierig agter ander dinge aange­gaan nie. Jare later, by ’n fa­mi­lie­sa­me­koms, het hy grootgepraat oor sy on­af­hank­lik­heid en sy familie her­inner aan sy self­stan­dig­heid toe hy as klein seuntjie die moeilike pad skool toe al­leen geloop het. Sy ma het gelag. “Dink jy regtig jy was al­leen?” vra sy. “Elke oggend as jy skool toe loop, het ek jou gevolg tot jy veilig by die skool aange­kom het. Elke middag as die skool moet uit­kom, het ek vir jou buite gewag, maar so dat jy my nie sou sien nie, en dan het ek weer agter jou aangeloop tot ons by die huis gekom het. Ek wou naby jou wees, as jy in daar­die besige strate my dalk sou nodig kry.”

Glo ons dat die Here elke dag naby ons was toe ons deur 2014 gestap het? Kom ons glo dit vir 2015. Je­sus het sy dissipels belowe: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wê­reld” (Mt.28:20). In die Here se Woord is God se nabyheid by ons ’n voortdurende belofte: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (9).

“Here, vandag rus ek in U teenwoordigheid”

Di 16 Des: Buig om te Drink

SKRIFDEEL: Jesaja 55: 1 – 6

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe…”(1)

’n Dorstige handelsreisiger het ’n Ameri­kaanse hotel­por­taal binnegestap. In die hoek was ’n meganiese fon­tein. Bokant die fontein het ’n uitnodiging gehang: “Buig en drink”. Toe hy dit bereik steek hy sy hand uit om die fon­tein oop te draai, maar daar was geen hand­vatsel nie. Toe soek hy ’n drukknoppie of ska­ke­laar. Geen. Hy lees weer die uitnodiging bokant die fontein. Met ’n verleë glimlaggie buig hy versigtig vorentoe. Nog ’n bietjie; nog ’n bietjie – en regtig, heerlike koue water begin vloei. Die fontein word deur ’n elektroniese “oog” be­heer. Sodra die buigende liggaam by die “oog” verby beweeg, laat die kraan die water vloei.

Die Bybel gebruik oorvloedig die beeld van water om geestelike lewe te beskryf. “…wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh.6:35). “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”(Joh.7:37). “…die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei…” (Openb.7:17). En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openb.22:17). Om by die water wat die Here Jesus gee, te kom, hoef ’n mens nie inspan­nend op te klim boontoe nie. Fonteinwater word bereik wanneer ’n mens laag buig, kniel. ’n Mens hoef nie eers iets lofwaar­digs of inspannends te doen, om die ewige lewe wat die Heilige Gees in die hart gee te ontvang nie. ’n Mens kom in gebed na die Here Jesus toe; vra, neem, glo. Hy gee vir ons die lewende water in die hart.

“Here, vandag buig ek en in geloof en neem ek en drink ek die water wat U gee.”

Ma 15 Des: Dieper Dors

SKRIFDEEL: Johannes 4:1 – 26

“Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee” (13,14)

’n Jong filmster het gewild geword en vinnig op­gang gemaak. Sy het vir haar ’n huis gekoop en die huis Satis genoem, afgelei van satisfied, om uit­druk­king te gee aan haar tevredenheid met haar lewe. Op ’n dag het hulle haar gevind, dood, opgehang aan een van die balke van Satis! ‘n Ander jong filmster het ‘n ander weg gevolg. Sy het ook be­langrik en gewild geword en sy het dieselfde in­ner­like leegheid ondervind. Iewers het sy met die bood­skap van Christus se verlossing te doen gekry – dalk ‘n oupa of ouma wat vir haar gebid het! Sy het uiteindelik na haar kamer toe gegaan, by haar bed gaan kniel en so gebid: “Here Jesus, gee vir my wat ek nie wil hê nie. Doen vir my wat ek nie vra nie. Maak my wat ek nie wil wees nie. Maar, asseblief, Here Jesus, red my!” Die Here het haar opregte gebed verhoor en vir haar die redding en Chris­ten­skap gegee wat haar lewe met ‘n vreug­devolle toekoms vervul het.

Die kerkvader, Augustinus, het gesê: “God het die mens vir Homself gemaak, daarom kan die menslike hart met niks minder as God self tevrede wees nie.” Totdat die hart rus vind in Christus se red­ding, bly dit soos ons van Noag se duif lees: “Noag het toe ‘n duif losgelaat om te probeer vasstel of die water al van die aarde af verdwyn het. Maar oral op die aarde was daar nog water, en die duif kon nie ‘n rusplekkie kry vir die holte van sy voet nie en het na Noag toe in die ark teruggekom. Hy het dit toe met sy hand gevang en in die ark teruggesit” (Gen.8:8,9). Dit was ook die Here Jesus se antwoord aan die duiwel toe dié Hom probeer versoek het: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Mat.4:4).

“Here, vandag soek ek die rykdom van u koninkryk in my hart.”

Sat 13 Des: Verstand Bestuur

SKRIFGEDEELTE: Galasiërs 6:7

"Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes."

Die bestuur van jou verstand behoort een van jou hoogste prioriteite te wees. Jou verstand is soos 'n rekenaar. Dit kan bloot vir jou data teruggee wat jy daar insit. Wenners werk hard om in die regte boustof vir hulself te belê.

Dr. Hans Selye het die Netvorming Aktivering Stelsel of NAS bestudeer en bekend gemaak. Hierdie is klein membraan in jou agterkop wat een hooffunksie het: Dit stuur jou in die rigting van jou huidige dominante gedagte. Ons reaggeer van nature op wat in ons verstand aangaan. Wanneer ons hammer op een gedagte. Ons reaggeer van nature op wat in ons verstand aangaan. Wanneer ons hammer op een gedagte, gaan ons wel daarvan werk maak. Dit verduidelik baie dinge die groot geneigdheid na geweld in mense tussen die ouderdomme 12 en 24. Teen daardie tyd het die gemiddelde jongmens meer as 4000 moorde gesien op TV, om nie eers van video speletjies te praat nie. Die Indiana Universiteit se Mediese Skool het 'n studie gemaak oor die impak wat visuele beelde op jou brein het. Tieners wat meer aan geweld blootgestel is het byvoorbeeld laer vlakke van kognitiewe funksies. Hoe meer geweld hulle gesien het, hoe minder dink-, leer-, redenasie- en emosionele stamina het hulle gehad. Die gemors wat hulle hulle verstand gevoer het, het 'n invloed op wat uitkom. Hulle rekenaars het die verkeerde inligting gestoor - nou kon hulle net die verkeerde terugvoer kry.

Die apostel Paulus het nie geweet van rekenaars nie, maar hy het geweet van landbou. "Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes." (Gal 6:8) So, bestuur jou verstand!

Vry 12 Des: Kom

SKRIFDEEL: Matteus 11: 25 – 30

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, … Ek sal julle rus gee…Ek is sagmoedig en nederig van hart” (28,29).

Die Christian Age vertel van ‘n geestelike oplewing wat in ‘n dorp begin het. Daar was krag in die prediking, mense het tot bekering gekom, ou geskille is bygelê, vervreemde vriende en familielede het mekaar opgesoek en is met mekaar versoen, in die vol kerke en bidure was daar vreugde en geesdrif, op straat en by werksplekke is oor die Here en die geestelike lewe gesels en getuig. In ‘n meubelfabriek het een van die ambagsmanne, Walter Jones, ‘n geloofsprobleem gehad. Mike Lund, sy baas, het ‘n tyd te vore ook tot bekering gekom en hy het Walter probeer help om in Christus te vertrou. Walter kon die geloofstap van in Christus as sy Verlosser te vertrou net nie snap nie. Dit het darem te maklik gelyk. Toe kry Mike ‘n plan. Terwyl Walter uit was om in ‘n huis ‘n tafel te gaan regmaak, het Mike vir hom op sy werksbank ‘n briefie gelaat: Kom sesuur vanmiddag na werk na my toe. Walter het stiptelik om sesuur, brief in die hand, by sy baas se huis opgedaag. “Wil jy my oor iets spreek?” vra Mike gemaak verbaas om sy werksman by sy huis te sien. Nou was Walter uit die veld geslaan. “Maar, ek het die briefie op my werksbank gekry, Meneer. Meneer het gesê ek moet kom.” Mike kyk Walter in die oë: “O, jy het die briefie gekry en jy het dit verstaan en geglo ek wil jou by my huis sien?” “Ja, sekerlik, Meneer. Is daar dalk ‘n probleem?” vra Walter onrustig. “Nee, daar is nie eintlik ‘n probleem nie,” antwoord Mike gerustellend. “Ek kan net nie sien hoe jy my brief so goed begryp het, en die ander brief kan jy nie verstaan nie.” “Watter ander brief, Meneer?” Mike hou ‘n velletjie papier na Walter toe uit. “Lees dit asb. hardop.” Walter neem dit en lees: “Kom-na-My-toe-almal-wat-vermoeid-en-belas-is-en-Ek-sal-julle-rus-gee…” Sy lippe begin bewe en sy oë word vol trane. Hy pluk ‘n groot, rooi sakdoek uit sy sak uit en hou dit oor sy gesig. ‘n Paar oomblikke staan hy so. “Ek dink ek begin verstaan, Meneer. Dit meen, soos ek sommer na u toe gekom het, moet ek ook sonder om baie daaroor te wonder sommer net na Jesus toe kom?” Self nou bewoë knik Mike. “Jy verstaan reg, Walter. Na my toe, het jy ook sommer dadelik gekom. Wil jy nie ook sommer nou na Jesus toe kom nie?” Walter knik. Saam kniel hulle. Walter bid kort: “Jesus, ek het nou gekom.” Toe bly hy stil en kyk verwonder na Mike. “Ek weet nou, Meneer. Jesus het my geneem. Hy haal die gewig van my hart af.” Vol blydskap voeg hy by: “Baie dankie, Here Jesus.”

“Here, vandag kom ek.”

Do 11 Des: Hoe kom ek Daar?

SKRIFDEEL: Handeling 4:8-13

“…dié Jesus, vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het …Hy bring die ver­lossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (10,12)

Baie jare gelede, ek was nog ’n jong man, bel die gemeente se koster my een oggend. Aan sy stem hoor ek hy is ontsteld. Hy wil nie oor die te­le­foon sy probleem vir my vertel nie. Ek skrik. So gou ek kon besoek ek hom. Hy en die tannie wag my op die voorstoep in. Ons het net in die sit­kamer gaan sit toe hy my sy moeilikheid vertel. “Ek het laas nag gedroom,” begin hy. “Ek droom ek klim met ’n touleer op hemel toe, maar nes ek halfpad kom, val ek af tot onder. Dan probeer ek weer op­klim, maar halfpad val ek af. Elke keer gebeur dit. Hoekom kan ek nie in die hemel kom nie? Ek en my ou vrou leef tog ’n skoon lewe. Ons leef vir die kerk. Ons probeer die Here dien. Hoekom val ek af? Hoe kom ek in die hemel?”

Ek het vir ’n paar oomblikke verslae gesit. Sover ek weet lei die oom regtig ’n onbesproke lewe. Dit is net ’n droom weet ek, maar ek weet ook: ’n mens droom die dinge wat mens in die hart kwel. Ek vra hom die enigste vraag waaraan ek kon dink. “Oom Hansie, het Oom al ooit die Here Jesus in Oom se hart as Verlosser aangeneem?” Vir ’n rukkie sit hy stil net na my en kyk. Ek word bang en dink ek het die oom met so ’n direkte vraag verneder. Maar hy het my vraag verstaan. Hy antwoord: “Ek glo en ek stem in met wat die Bybel van die Here Jesus Christus sê. Maar ek het Hom nog nooit definitief gevra om my te red nie.” “Is Oom gewillig en begerig om dit vanoggend te doen?” Dadelik knik hy met sy kop. Ek kniel saam met die twee ou mense by die rusbank. In ’n eenvoudige gebed dank oom Hansie eers sy Verlosser, die Here Jesus Christus, dat Hy vir hom aan die kruis gesterf het. En toe vra hy die Here om hom te red en sy sonde te vergewe. Na hom bid die tannie min of meer die­selfde woorde. ’n Tyd daarna sê oom Hansie een­dag vir my: “Ek kan nie verstaan dat die Here sy hand so­veel jare na my toe uitgehou het en ek dit nou eers geneem het nie.”

Geloofsekerheid kan in iemand se hart ontbreek omdat daar nooit ’n besliste geloofshandeling was om Chris­tus as Verlosser aan te neem nie. Die gebrek aan geloofsekerheid beteken nie noodwendig ’n ge­brek aan saligheid of vervreemding van God nie, maar dit kán ook verontrustende simptoom van ’n ver­lore toestand wees. Liewer moet mens seker maak en ’n definitiewe onderhandeling met die Here Jesus aan­gaan om Hom as Verlosser aan te neem. Dan ge­tuig mens daarvan teenoor ’n betroubare vriend wat dit sal verstaan of ’n mens se dominee. Die mon­delinge getuienis oor die geloofsposisie van persoon­like redding is vir ’n mens se eie geloof­sekerheid no­dig. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood op­ge­wek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word verygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. (Rom.10:9,10,13).

Die Engelse woorde van die 2de vers van die be­kende Hallelujalied: “O blye dag, waarop my siel deur Jesus bloed gereinig is” klink so: “It’s done, the great transaction’s done, I am the Lord’s and He is mine.”

“Here, vandag glo ek U is vir my sonde gekruisig.”

Wo 10 Des: Elkeen 'n Sendeling

Lees Psalm 121: 1 – 8

“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem…en tot die uithoeke van die wêreld” (8).

Toe adml. Foote in Siam was, vertel Earnest Wor­­ker, het hy die koning met sy howelinge en amp­­te­na­re vir ’n ete na sy skip toe ge­nooi. Na almal plaas­ge­neem het, het adml. Foote, soos sy gewoonte was, die Here se seën oor die ete gevra. Die Siamese koning het sy verbasing uitgespreek: “Ek het gedink net die sen­de­linge doen dit!” “Dis waar,” antwoord adml. Foote, “maar elke Christen ís ’n sendeling.”

Ons gaan in ons nuwe jaar in verskillende om­ge­wings en omstandighede beland en met ver­skil­lende mense in aanraking kom, maar oral waar ons mag kom, moet ons deur ons gedrag, taal, hou­ding vir die Here getuies wees. ’n Jong meisie het eendag met haar dominee gaan praat. Sy werk in ’n fabriek saam met onverskillige mense, vertel sy hom. Dis vir haar swaar om daar haar Christenskap uit te leef. Dink hy nie sy moet, terwille van haar eie geestelike behoud, liewer an­der werk soek nie? Hy vra haar: “Waar het ’n mens lig nodig?” Sy het sy bedoeling verstaan. In die stikdonker is selfs ’n klein liggie baie werd. Sy het teruggegaan, haar getuienis uitgeleef en op ’n dag met ’n paar ander persone, wat ook in die fabriek werk, na die dominee toe teruggekeer. Haar be­sten­dige mooi le­we het op hulle indruk gemaak. Sy het hulle saam­ge­neem kerk toe en la­ter saam met hulle ’n werks­bid­uur begin. “Julle is die lig van die wêreld. Laat julle lig so voor die men­se skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader in die hemel, verheerlik” (Mat.5:14,`6).

Om te kan brand, moet ’n lig aan krag geskakel wees of die lamp moet vol lampolie wees. Ons het die inwoning van die Heilige Gees nodig om vir Christus getuies te kan wees. As ons ontrou is om Christus se getuies te wees of ons misluk in ons pogings en sien nooit vrug op ons taak nie, kan ons met vrymoedigheid met ons behoefte en te­leur­stel­ling na die Here toe gaan. ”…’n lamp­pit wat dof brand, sal Hy nie uitdoof nie” (Jes.42:3). Hy het ons te nodig. Hy wil ons graag bruikbaar vir sy koninkryk maak!

“Here, vandag wil ek met U krag Ugetuie wees.”

Di 9 Des: 'n Saak van die Hart

Lees Johannes 12: 1 – 8

“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardus­­olie…op Jesus se voete uitge­giet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie” (3)

Michael LeBoeuf skryf in sy boek, How to Win Customers and Keep Them for Life, van die be­roemde New Yorkse diamanthandelaar, Harry Win­ston, wat ge­hoor het van ’n ryk Hollandse diamantversame­laar wat na ’n bepaalde diamant soek om by sy versameling te voeg. Winston het die Hollander gebel en vir hom gesê hy dink hy het dié bepaalde diamant. Die versamelaar het New York toe gevlieg en Winston se ver­koops­man het vir hom die diamant gewys en breed­voe­rig al die fyn tegniese eienskappe beskryf. Die ver­samelaar het belangstellend geluister, maar weg­­gedraai met die woorde: “Dit is ’n pragtige steen, maar nie presies waarna ek soek nie.”

Winston het op ’n afstand na hulle gestaan en luister. Toe die versamelaar wegdraai, keer Win­ston hom en vra: “Sal jy omgee as ek die diamant net weer vir jou wys?” Die versamelaar was da­de­­lik bereid. Winston het dieselfde diamant weer vir hom gewys, maar in plaas van op die tegniese aspekte te konstreer, het Winston spontaan oor sy eie bewondering vir die diamant en die treffen­de ele­men­te van die prag van die diamant ge­praat. Die versamelaar het dadelik van opinie ver­ander en die diamant gekoop. Terwyl hulle wag dat die diamant verpak word, vra die versamelaar vir Winston: “Hoe­kom het ek ingewillig om die dia­mant by jou te koop, terwyl ek na jou verkoops­man se praatjie dit nie wou koop nie?” “My verkoopsman ken di­a­­mante beter as ek,” antwoord Winston, “maar ek het diamante lief. Dit is vir my meer as net ’n verkoopsartikel. Dit is ’n wonderbare deel van die skepping.” LeBoeuf sluit af: “People are more persuaded by die depths of your beliefs and emotions than any amount of logic or knowledge you possess.”

Liefde en bewondering vir die Here Jesus, spreek duideliker tot ’n ander se hart, as die kennis wat ons van die Bybel of die geloofsleer het. Maria se daad uit liefde en bewondering vir die Hei­land het die huis met ’n soet geur gevul. Leer Hóm ken en laat die Heilige Gees die hart met liefde vir Hóm vul, en ons getuienis sal mense na Hom toe trek.

“Here, vandag bring ek my liefde en bewondering vir U na u voete toe.”

Ma 8 Des: 'n Emmer Water

SKRIFDEEL: Markus 9: 33 – 41

“Elkeen wat vir julle `n beker water te drinke sal gee… hy sal beslis die beloning daarvoor kry…(41)

Een hetige Augustusdag, kom `n kapkar, getrek deur twee uitgehongerde perde, voor `n huisie op die Kansas Prairie, tot stilstand. Die kardrywer is beso­pe, die vrou siek, vier kinders sit huilend op hulle sitplek. `n Jong meisie maak die huisdeur oop. “Eni­ge water vir ons?” kreun die besope drywer. Die werf se wa­ter­­put het in die droogte droog geraak, maar sy kry `n emmer vol water vir hulle bymekaar. Haar ouers was juis weg om te gaan water soek. Rachel dra die emmer water na hulle toe. Die dorstige gesin op die kar drink die hele emmer water leeg. Die siek ma sê vir die meisietjie: “Onthou, my kind, vir so ver jy dit aan die minste gedoen het…” Dit is `n aanha­ling van Matteus 10:42: “Wie aan een van hierdie ge­ringstes net `n beker koue water gee…” Die kar ry verder. Jare gaan verby en Rachel word `n waardige vrou. Op `n keer reël sy dat `n bekende ma­tig­heid­spreker in haar dorp `n lesing kom gee. Nou in The Illustrator se eie woorde: “’I love Kansas,’ the tem­pe­rance man began, ‘for on its plains I made my first temperance pledge.’ He told of the girl who gave them water and how his father threw away the whis­ky bottle as a thank offering, and he himself promised his mother to join the cold water army. As she listens to the testimony of the outcome of the bucket water she gave to the strangers, Rachel bow­ed her head to hide the glad tears.”

`n Goeie en helpende daad, in `n onbeplande oom­­blik, aan iemand, bekend of vreemd, het soms `n geseënde nadraai en vrug wat ons nooit sou kon voorsien nie. Laat ons gereed wees om in `n oom­blik van iemand se nood of verleëntheid, met die middele tot ons beskikking, hulp te verleen. Ons doen dit gehoorsaam aan die Here Jesus se woor­de. Die Samaritaanse vrou, in Johannes 4, het wel onder protes vir Jesus `n beker water gegee om te drink, maar dit het vir haar onbeskryflike seën gebring.

“Here, vandag wil ek opmerksaam wees hoe ek iemand kan help.”

Vry 5 Des: Die Prys

SKRIFDEEL: Johannes 3: 9 – 21

“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (16).

In die dae van die Goot Depressie was ’n man van Mis­souri, John Griffith, die kontroleur van die groot op­haalbrug oor die Mississippirivier, skryf D. James Kennedy in, Is It Nothing to You, van 19 Maart 1978. Een somerdag in 1937 wou John Griffith sy 8-jaar seuntjie, Greg, vermaak. Hy neem hom saam werk toe, sodat hy die groot verkeer en die werking van die ophaalbrug kan sien. Ná die oggendverkeer oor die brug, het John die brug opgehaal, sodat skepe met die ri­vier op en af kon vaar. Greg het met die middag­ete vol plesier op die waarnemingsdek by sy pa ge­­sit en eet. Die tyd het vinnig verby geglip. Skie­lik skrik John vir die gefluit van ’n aankomende trein. Hy kyk op sy horlosie en sien dis werklik al 1.07nm. en dit is die Memphis Express, met 400 pas­sasiers aanboord, wat aangestorm kom en die brug is nog opgehaal. Hy spring af van die waar­ne­mingsdek af en hardloop beheertoring toe om die brug betyds te laat sak vir die trein om oor die ri­vier te ry.

Net voor hy die hefboom oorgooi om die brug te laat sak, kyk John vinnig af om te sien of daar nie dalk ’n boot in die pad is nie. Hy sien ’n gesig wat sy hart in sy keel laat ruk van skrik. Greg het van die waarnemingsdek af gegly, en het in die massiewe ratte van die brug, bietjie laer af, be­land. Sy linkerbeen sit tussen die twee groot ratte wat die brug beheer, vas. John snak na asem. Hy dínk aan ’n plan om sy kind betyds uit die ratte, wat nou in werking gestel moet word, te red. Hy weet daar is geen uitweg nie. Óf die trein met sy 400 pas­sa­siers moet in die rivier beland, óf sy seun moet tussen die ratte vergruis word.

Die na­de­rende trein fluit weer. Hy hoor die ge­klik van die trein­wiele. Hy laat sak sy kop in sy lin­ker­arm en druk die hefboom vorentoe. Die mas­siewe brug sak in sy plek in en die vinnige trein jaag oor die brug verby. Met traanbedekte gesig kyk John op na die trein. Hy sien die passasiers agter die trein­ven­sters. Kennedy skryf: “There were businessmen cas­sually reading their af­ter­noon papers, finely dres­sed ladies in the dining car sipping coffee, and children laughingly push­ing long spoons into their dishes of ice cream No one looked at the con­trol house, and no one looked at the great blood­spattered gear­box. With wrenching agony, John Griffith cried out at the steel train: ‘I sacri­fic­ed my son for you people Don’t you care?’ The train rushed by, but nobody heard the father’s words.”

Hierdie pa se seun het per ongeluk in die brug se ratte beland. God het sy Seun uit liefde vir die wê­­reld gegee om in die wrede ratte van die straf op sonde vergruis te word. Paulus begin sy brief aan die Galasiërs met hierdie herinnering: “…die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te vol­bring” (Gal1:4). En hy beklemtoon dit aan die Efe­siërs: “…soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was” (Ef.5:2). Maar, soos die Memphis Express jaag die wêreld vrolik verby en dink nie aan die prys wat God en sy Seun, ons Here Jesus Christus, betaal het om ons van die verdoemenis te red nie. Kom ons bedink weer die evangelie en open ons harte dat die Heilige Gees die waarheid en betekenis in ons harte kan wakkermaak, en ons ons weer aan God kan toewy. Wat het die God gekos om my te red en vir my die ewige lewe te gee?

“Here, vandag oordink ek en loof ek U vir die groot prys wat U uit liefde vir my betaal het.”

Do 4 Des: Die Prent word Duideliker

SKRIFDEEL: Lukas 23: 32 – 43

“…hulle het Hom daar saam met die misdadigers gekruisig…Toe sê Jesus: ‘Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!’” (34).

In die boek “God Confronts Man in History” vertel Henry Sloane Coffin dat twee Japanese vroue ’n ver­oor­deelde moordenaar in sy sel besoek het. Hulle wou met hom oor vergifnis en die ewige lewe praat. Hy was totaal belangeloos. Hulle het ’n Nuwe Testament op die tafel neergesit en vertrek. Na sy doodsvonnis voltrek is, is die volgende brief in die Nuwe Testament gevind:

“Die Nuwe Testament het my nie genoeg beïndruk dat ek dit wou lees nie. Ek het dit in die rak gebêre. Toe ek na ’n ruk moeg was van niks doen, het ek dit weer geneem en begin lees. Hierdie keer lees ek hoe Jesus voor Pilatus gebring is, onskuldig tot die dood veroor­deel is en gekruisig is. Dit het my aan die dink gesit. Ek weet hoe dit voel om gevang en tot die dood veroordeel te word. My aandag het verskerp toe ek lees: ‘Jesus sê: Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.’ Ek het opgehou lees. Ek het gevoel ’n vyfduim­spyker slaan in my hart in. Wat het die vers aan my openbaar? Sal ek dit die liefde van die hart van Christus noem? Sal ek dit sy meegevoel noem? Ek weet nie wat om dit te noem nie. Ek weet net, ek het met ’n onuit­spreek­like dankbaarheid sy liefde en vergifnis geglo. Ek is gered voor ek tereggestel is.”

Die lees van daardie Nuwe Testament het vir hierdie man toenemende lig oor Jesus gebring. Die hoor en die lees van die Woord bring geloof in die hart. Ons leer die Persoon van die Here Jesus al dui­deliker ken namate die Here se woord ons hart verlig. Ons is bevoorreg om Bybels te hê waarin die pre­diking van die profete en apostels opgeteken is en wat ons kan lees. Die bron waaruit ons ons ge­loof skep om in Christus te glo, is byderhand. “Hoe kan hulle Hom aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie ge­hoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? Die geloof is dus uit die gehoor…en die gehoor is deur die woord van God”(Rom.10:14 OU VERT.).

“Here, vandag wil ek u woord lees en U beter leer ken.”

Wo 3 Des: Christus se Houding

SKRIFDEEL: Matteus 11: 25 – 30

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (28-30).

Arthur Thorwalden, van Denemarke, het die Christusbeeld, “Kristus”, gemaak. Dit staan nou in die Kopenhagen-katedraal. Helen E. Sprin­ger vertel in Charles L. Wallis se boek “A Treasu­ry of Sermon Illustrations”, hoe ’n besoeker aan die Katedraal, die verhaal agter die standbeeld, aan­ge­hoor het.

Na Thorwalden die beeld, met koninklike, op­ge­­he­we kop en uitgestrekte, oorwinnende hande, wat seënend uitgestrek is, met plastiekklei ge­giet het, het hy dit op die voetstuk buite laat staan om droog en hard te word, voor dit in die Katedraal in­gedra sou word. Daardie nag het ’n digte, vogti­ge mis van die see se kant af ingewaai. Thorwal­den het met skok besef dit gaan sy beeld geruï­neer. So gou hy kon het hy na sy beeld gaan kyk. Die vog het die beeld laat smelt. Die kop wat oorwinnend en trots opgehef was – volgens Thor­walden se denke oor Christus – het nou afgebuig en onder toe gekyk. Die hande wat in ’n seën­groet opgehef was, het gesak en was nou uit­no­di­gend vorentoe uitgestrek. Hy het ‘n nuwe “Kris­tus” aanskou. Die natuurelemente wat deur God beheer word, het die trotse “Kristus”, volgens sy beskouing, die houding van ’n soekende, roe­pen­de Heiland gegee. Die beeld is net so in die Katedraal inge­neem. ’n Mens sou nou, in ant­woord op die uitgestrekte, uitnodigende hande, op jou knieë voor Christus moes gaan staan om in sy gesig op te kyk.

Die Here Jesus Christus ís die oorwinnende Ko­ning van die ganse wêreld, maar Hy bly steeds die roepende, liefdevolle Verlosser wat afkyk na die mens toe wat na Hom toe kom.

“Here, vandag kom ek vrymoedig met my laste en behoeftes na U toe.”

Di 2 Des: Die gimnasium van die siel (2)

SKRIFGEDEELTE: 1 Timoteus 4:7

"Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe"

Godvresendheid was sentraal in die les van Paulus aan Timoteus. Vra gerus jou vriende wat hulle dink "Godvresendheid" beteken. Hulle sal dalk dink aan 'n monnik wat weg van die wêreld lewe, bid, mediteer en lofsange sing. Ander sien dit weer as 'n naïewe, Bybel-swaaiende, te-goe-om-waar-te-wees, irriterende vroom mens. Beide is verkeerd. Een geleerde definieer godvresendheid as volg: "Nie net oënskynlike aanbidding nie, ook nie bloot 'n konsep van wat God is nie, nie 'n deug of 'n ideaal teenstrydig met die Gnostiese filosofie van selfontneming wat skepping as sleg sien nie. Ware godvresendheid wat gebore is uit geloof omvat aaledaagse optrede wat God eer as die Skepper en Redder."

Sommige welmenende mense dink dat ons daarna moet streef om perfek te wees as ons soos Christus wil wees. Vir hulle is geestelike dissiplines soos opstote en opsitte, godsdienstige oefeninge om hul liggame en siele in onderdanigheid in te boender. Dit is meer Gnosties as Christelik. As jy bloot beheer soek oor jou begeertes of net meer kalmte nastreef sal enige mediterende geloof jou help. Wa die Christendom onderskei van ander gelowe, is dat ons die doel het om Jesus te ken en soos Hy te word. Ons streef nie bloot na morele volmaaktheid (al sal dit jou karakter bou), of kalmte (al maak dit jou lewe heelwat meer rustig) nie. Omdat ons die genade van Christus het sal hierdie dissiplines ons nie meer aanvaarbaar maak voor God nie. Jesus het dit alreeds namens ons gedoen. Nee, 'n vroom mens is een wat ophou om self-gefokus te wees en wat Christus-gefokus word. Christus het mens geword en as gevolg van sy aardse prediking kan ons sien hoe God wil hê ons moet leef. Jesus is ons vlekkelose voorbeeld van Godvresendheid. So, om "Godvresend" te word beteken eenvoudig om meer soos Christus te wees

Ma 1 Des: Die gimansium van die siel (1)

SKRIFGEDEELTE: 1 Timoteus 4:7

"Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe"

Toe die Dallas Cowboys se afrigter, Tom Landry, gevra was hoe bou 'n mens 'n wenspan het hy geantwoord: "My werk is om mense te kry om te doen wat hulle nie wil nie, sodat hulle kan bereik wat hulle nog altyd wou." Wat wou hierdie voetbalspelers bereik? Oorwinning in die Super Bowl. Wat wou hulle nie doen nie? Die harde werk wat dit sou verg om daar te kom! Om bo uit te kom verg dissipline - vasbeslote, doelbewuste, daaglikse definieerbare aksies met 'n duidelike doel voor oë. Paulus het vir Timoteus afgerig en vir hom gesê: "Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe." Timoteus was die leraar van die Kerk in Efese, 'n stad soortgelyk aan een van ons groot stede soos Johannesburg, New York of Las Vegas. Dit was 'n besige, ryk en wellustige stad. Paulus het geweet dat dit nie maklik sou wees om daar sukses te behaal nie en maak dus gebruik van die Griekse term waarvan ons die woord gymnasium kry. Dit is hoekom Paulus skryf: "Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe." Let op twee woorde: (1) Oefen - dit verg herhaalde oefening vir jou verstand en verskillende spiergroepe om in refleks en automaties saam te werk. Dit verenig uithouvermoë en vaardigheid. Oefening is wat die vermoë om te wen, omskep in 'n gewoonte. (2) Jy self - Niemand anders kan dit namens jou doen nie. Kyk in die telefoonboek, daar is nie "Huur 'n Hardloper" of "Leen 'n Tennisspeler" nie. Nee dit hang alles van jouself af. Hoekom oefen? Om soos Christus te word! Deur die lewe te leef soos wat Hy het en deur die Heilige Gees toe te laat om jou deur Sy dissipline van binne af te vorm. So sal jy hierdie doel bereik. Met ander woorde, spandeer meer tyd in die gymnasium van die siel.

Vry 28 Nov: Vra Genade

SKRIFDEEL: Psalm 51

“Wees my genadig, o God, in u troue liefde…”

Good Company vertel die storie van `n ma wat by Napoleon I om genade vir haar seun gaan pleit het. Dit was die jongman se tweede oor­treding en die keiser het besluit hy is die doodstraf skuldig. Die ma se pleidooi: “Ek vra nie geregtigheid nie. Ek vra genade vir my seun.” Die keiser het geantwoord: “Hy verdien nie genade nie.” “Maar, my heer,” roep die moe­der huilend uit, “as hy dit verdien het, is dit nie genade nie. En wat ek vra is nie wat hy verdien nie, maar ek vra genade.” Die keiser het haar `n oomblik aangekyk en toe geantwoord: “Dan sal ek hom genadig wees. Hy hoef nie te sterf nie.”

Dit is ons posisie voor God. Ons is afhanklik van sy genade, dit wat ons nie verdien nie. Die mis­dadiger wat saam met Jesus gekruisig is, het geen geleentheid vir verdienste gehad nie. Aan die einde van `n skuldige lewe hang hy veroor­deeld aan die kruis. Hy wend hom tot Jesus: “’Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:42,43). Die ander misdadiger het dieselfde geleentheid gehad, maar hy het dit, weggevoer deur die omstanders se boosheid, by hom verby laat gaan.

“Here, vandag pleit ek nie my verdienste nie. Ek vra genade om gered te word.”

Do 27 Nov: Omgekeerde Waarde

SKRIFDEEL: Johannes 13: 1 – 17

“Hy het sy eie mense wat in die wêreld is liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad” (1)

`n Goeie en gerespekteerde man in die omge­wing was siek, vertel Christian Herald die storie. Sy vriende het gekom om hom te troos en te be­moe­dig. Hulle het sy goeie lewe in gedagte gehad, sy goeie dade en hoe hy prakties en aktief in die kerk­like lewe deelneem om Christus se volgelinge te be­­skerm en op te bou. Toe hulle wou vertrek bid een van hulle vir hom. “Here”, bid die man, “U weet hoe lief hy U het.” “Nee, vriende,” praat die man van sy bed af, “moet dit nie so sê nie. Toe Marta en Ma­ria die boodskap oor Lasarus se siekte na Jesus toe gestuur het, het hulle nie laat weet: ‘Here, hy wat vir U liefhet is siek nie.’ Hulle het laat weet: ‘He­re, hy vír wie U liefhet is siek.’” Dit is nie my ge­brek­kige liefde vir Jesus wat my moed gee nie, maar sy groot liefde vir my. Dít is my krag en vashou­plek.”

Dit is ook die raad wat die groot prediker Mark Guy Pearse, vir `n bekommerde jong meisie gegee het. Sy het met haar geestelike behoefte na hom toe gegaan. “Ek weet ek het Jesus in my lewe aan­geneem,” kla sy, “maar ek kry nie reg om Hom regtig lief te hê nie.” Mark Pearse het haar geant­woord: “My dogter, moenie aan jóú liefde vir Jesus aanhou dink nie. Sê oor en oor vir jouself: ‘Jesus het my lief.’ Kom sien my weer môreoggend.” Chris­tian Herald skryf: “When she came to see Mr. Pearse the next day there was no need to tell him of the change that had taken place. Her face was ra­diant. The love of God had been shed abroad in her heart by the Holy Spirit.”

Jesus het vir sy dissipels vertel Hy het hulle lief. Dit is die geloofselement wat ons no­dig het. Glo Jesus se liefde. Sê dit in eie hart. Die Heilige Gees sal sy stempel daarop druk en in die hart oorwinning bring.

“Here, vandag glo ek U het my lief.”

Wo 26 Nov: Hy laat my sien

SKRIFDEEL: 2 Korintiërs 4: 1 – 6

“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duis­ternis’, het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (6).

’n Man het weens sy besondere intellek­tu­ele ver­moë ’n hoë geleerdheid bekom en ’n uit­ne­­men­de posisie in die samelewing bereik, maar hy was blind. Hy is blind gebore. ’n Ewe talentvolle vrou het sy lewensmaat geword. Sy was vir hom ’n wa­re geesgenoot. Hulle prag­tige huwelik is verryk met drie, ewe talentvolle, kinders. Hy het die be­proe­wing van sy blindheid opgeweeg teen die seëninge wat die Here hom gegee het en daar­­om was hy, ten spy­te van sy blindheid, ’n dank­bare mens. Hy het jaarliks ’n oogarts besoek om te sorg vir die gesondheid van sy blinde oë. So ge­beur dit dat hy op ’n keer onder die aandag van ’n beroemde oogarts kom. Na die ondersoek sê dié dokter vir hom sy blindheid is te wyte aan ’n op­pervlakkige oorsaak. ”As ek twintig jaar ge­le­de jou oë kon opereer, sou ek byna seker jou sig kon herstel. Nou kan ons probeer, maar ek kan jou nie be­loof jy sal kan sien nie en dit kan vir jou on­no­di­ge lyding veroorsaak.” ”Die lyding sal ek ver­duur,” roep die blinde man hartstogtelik uit, ”maar pro­beer tog net om my te laat sien!” Die operasie is ge­doen en dit was ’n wonderlike sukses. Ver­won­derd het die man na alles om hom gekyk. Sy vrou en kin­ders was by toe die verbande verwyder is. Hy het na hulle gekyk asof hy nie genoeg kon kry om hulle te sien nie. Toe roep hy skielik uit: ”Hoe kon ek eerste na ander dinge kyk? Waar is die man wat my laat sien. Wys my my dokter. Ek wil hom graagste sien!”

Dit moet die hartstogte­li­ke taal van die verloste mens wees. “Ek wil Jesus sien! Ek wil Hom bewonder!” Ons kan Hom nie fi­sies sien nie, maar die geestelike aanskouing van Chris­tus in sy Woord en deur die werk van die Hei­li­ge Gees, maak Hom vir ons ‘n werklikheid, sodat ons na die belewing van sy teenwoordigheid ver­lang. ”Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is.” (1 Pet.1:9,9). Om deur bekering geestelik siende te word, open vir ons ’n wye geestelike wêreld. ”Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet wat­ter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (Ef.1:18,19).

“Here, vandag wil ek tyd neem om U te aanskou.”

Di 25 Nov: Ons Bid na Behoefte

SKRIFDEEL: Lukas 18: 35 – 43

“Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: ‘Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?’ En hy antwoord: ‘Here, dat ek kan sien.’” (40,41).

Theodore Monod was eendag besig om vir ’n seun die verhaal van die blinde man by Jerigo te vertel, skryf Sunday School Cronicle. Die seun­ luister met stralende gesig en wakker ogies na dié storie. “En wat,” vra Monod vir die seuntjie, “sou jy van Jesus gevra het as jy blind was?” Dadelik ant­woord hy: “Ek sou vir ’n mooi hond met nekband en ketting gevra het, so­dat hy my oral waar ek wil wees kan lei.” Monod merk hieroor op: “How often do we ask for the blind man’s dog instead of the seeing man’s eyes.”

Die seun het wakker, sienende oë gehad en daar­om kon dit nie deel van sy gebed uitmaak nie. Hoe sterker ons van ’n behoefte bewus word, hoe meer kleur dit ook ons gebed. On­be­taal­de skuld by winkels en ’n oortrokke bank­re­kening laat ons vir geld bid, ’n kwellende kwaal laat ons vir gesond­heid bid en bewuste gees­te­li­ke behoefte laat ons volgens ons geestelike be­hoefte bid. Die blinde man se blindheid en Je­sus se nabyheid en vrien­delike vraag: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” het hom so duidelik volgens sy ware be­hoefte laat bid: “Here, dat ek mag sien.” `n Bewuste behoefte, ‘n wete wat God beloof en ’n bewus­syn van die Here se na­by­heid rig ons gebed. Soos die blinde man laat dit ons bid: ”Here Jesus, in u Naam, doen dít, of, gee dít (volgens my eie behoefte) vir my.”

“Here, vandag bid ek vir my behoefte en ek glo.”

Ma 24 Nov: Dadelik

SKRIFDEEL: Psalm 22

“My God, ek roep bedags en U antwoord nie…(3)

Die volgende gebeurtenis word vertel deur Dr. H. Clay Trumbull wat vir jare die redakteur van The Sun­day School Times was. `n Vriend van hom moes een­keer vir `n nag van die huis af wees. Hy het sy vrou en kinders en `n invalide vriendin van sy vrou, vir die nag alleen tuis ge­laat. In die middel van die nag word sy vrou wak­ker van `n geluid wat sy herken as die venster­gren­del wat beweeg word. Sy besef dit is `n in­bre­ker. Wat moet sy doen? Ek haal Arnold’s Com­men­tary aan: “It was about the time that Professor Huxley had been lecturing and writing on the folly of expecting direct answers to pray­er. She thought of this, but it was immediately fol­lowed with the thought, ‘God can help me now, and I will pray to Him.’ She fervently pray­ed: ‘Lord, send me a policeman to our rescue.’” Skielik knal pistoolskote buitekant. Sy hardloop ven­ster toe en sien `n man in die skaduwees verdwyn. Oomblikke later klop `n polisie­man aan die deur en vra toegang. Hy vertel haar hy het net kort te vore by die huis verbygestap, maar al­les het vir hom pluis gelyk. Maar net toe hy verder om die hoek wil stap, is dit of iemand vir hom sê hy moet teruggaan en weer kyk. En so kom hy af op die mis­dadiger wat by die venster probeer inkom.

God kan ons dadelik antwoord as ons in `n nood­­si­tu­asie tot Hom roep. Hy het die krag om te ant­woord, en die liefde om te wil antwoord. “Die Here – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is…” (2 Kron.16:9). Jesus het ons in sy gelykenisse geleer, tyd kan ook omgaan voor God ons verhoor: “En Hy het ook aan hulle `n gelykenis vertel met die oog daarop dat `n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie….” ‘Sal God dan nie regdoen aan sy uitverkore­nes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?’ (Luk.18:1,7 Ou Vert.).”

“Here, vandag wil ek aanhou bid vir my behoefte.”

Vry 21 Nov: 'n Ander Telegraafgebruik

SKRIFDEEL: Psalm 65: 1 – 12

“Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat naderkom…” (5).

In `n gesprek met Prof. S. F. B. Morse, ontdek­ker van die telegrafiewetenskap, vra Rev. George W. Hervey hom: “Prof Morse, toe u u studie en eksperimente daar in u kamers in die universiteit gedoen het, het u ooit voor `n probleem te staan gekom waarvoor u nie `n oplossing gehad het nie?” Die professor het geantwoord: “O, ja, meer as een keer, ver­seker.” “En in sulke omstandighede, wat was u oplossing?” In die professor se woorde: “I may answer you in confidence, sir, but it is a matter of which the public knows nothing. I prayed for more light.” “En het die lig ge­woon­lik gekom?” Weer die professor se woorde: “Yes. And may I tell you that when flattering honors came to me from America and Europe on account of the invention which bears my name, I never felt I deserve them. I had made a valuable application of electricity, not be­cause I was superior to the other men, but sole­ly because God, who meant it for mankind, must reveal it to someone, and was pleased to reveal it to me.” Die professor se eerste tele­graaf­bood­skap, na instelling van sy uitvinding, was dié woorde: “What hath God wrought!”

Drie belangrike houdinge gaan saam met ge­bed: Nood of behoefte wat ons in woorde vir God sê; Nederigheid, wat nie terugleun op eie verdien­ste of belangrikheid nie. Ons vertrou in die weg wat die Here Jesus vir ons na God toe geopen het; Dankbaarheid en erkenning vir die hulp wat God vir ons gestuur het. Dawid se Psalms is vol met uit­roepe om hulp na God toe. Hy het vir God `n eie naam gehad: Hoorder van die gebed (Ps.65:3 – Ou Vert.)

“Here, vandag bid ek oor my nood.”

Do 20 Nov: Deur GOD Gestuur

SKRIFDEEL: Psalm 18:1-7

“In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep…en hy luister na my” (7)

Die naamlose skrywer van die volgende insident sê daar­oor: “’n Hooglandherder op my oom se plaas by Arridilly staan in vir die waarheid van hierdie storie wat hy vir my vertel het.”

’n Weduwee wat alleen teen die hang van ’n bult, ver van ander huise af, gewoon het, het die belofte in Psalm 146 haar lewenskuiling gemaak: “Die Here het die hemel en die aarde gemaak…Hy bly vir altyd getrou, Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan die hongeres…en help weeskinders en weduwees…” Een winter het haar beperkte kos­voor­raad laag gedaal, want weens die voortdurende ongure weer kon sy nie uitgaan om te gaan werk en inkomste verdien nie. Toe breek die dag aan dat sy die laaste handvol meel uit die meelblik skep. Sy het gaan slaap met die voorneme om die volgende dag plan te maak om kos in die hande te kry. Die oggend het onder ’n sneeustorm aangebreek. Die pad op na haar huisie toe was toegesneeu. Dit was buite die kwessie om met haar tenger liggaam die geweld van die storm te trot­seer. In haar huis was nou geen kos nie. Sy besluit om weer haar toevlug tot haar troue Vriend in al haar nood te neem. Sy het die pappot met water gevul en op die vuur gesit, sout inge­gooi en die deksel opgesit. Op haar Skotse manier het sy vir haarself gesê: “Noo, I’ll jist gang ben and ask t’ Lord for t’ meal.” Sy het na haar slaapkamer toe gegaan en met danksegging en lof haar behoefte aan die Here bekend ge­maak. Sy het net ’n rukkie gebid toe ’n harde geklop aan die deur haar gebed onderbreek. Weer praat sy op Skotse manier met haarself: “No an, Lord, Thou canst no hae sent the answer sae soon.” Die geklop hou aan en sy gaan maak die deur oop. In die deur staan die mollige dogter van ’n ewe stewige buur­man. Die dogter gooi ’n sak meel op die grond neer en voeg met breë Skot­se aksent by: “Father sent ye that. Whatever pos­sessed him I dint know, but all morning he has been dinning into me about that sack o’ meal and I must fetch it to ye!” Met traangevulde oë gooi die vrou haar hande in die lug en roep uit: “He’s aye the same, Jeanie! Mony a long year hae I trusted Hom and I ne’er found Hom fail; and He’s nae failed me noo. Sae I was jist asking the Lord to send the meal when I heard ye knock’n at the door.”

“Here, ek kom vandag my dringende nood aan U vertel”

Wo 19 Nov: Vaderliefde

SKRIFDEEL: Lukas 15: 17 – 24

“…sy pa het hom innig jammer gekry…omhels hom en soen hom” (20)

In sy boek, Cameos, skryf H. Weigle saam met C. H. Spurgeon: “In a home in Manchester, England, there was a wayward son and brother. The mother was dead and the father and the family were heart-stricken with grief over the boy.” Die verhaal wy dan uit oor al die pogings wat die broers en susters aan­gewend het om die seun tot beter insig te bring. “One Christmas morning the boy came home after a dreadful debauch. The brothers and sisters were shocked, disgraced, and out of all patience.” Die broers en susters het besluit daar is net een uitweg: die seun moet uit die huis verban word. Daardie aand het die pa met elkeen van sy seuns en dogters `n aparte gesprek gevoer. Die gevoel was by almal ewe sterk: die dranklustige seun moet uit die huis gestuur word. Hy is nie meer deel van die gesin nie. Na sy gesprek met sy kinders, roep die pa die seun. Ek haal nou die boek se eie woorde aan, want my vertaling sal nie reg laat geskied aan die betekenis wat dit het nie. “Henry, your sisters say you should be put out of the house, your brothers say you should be put out;’ Then going over to the boy he said: ‘My son, I shall never put you out of the home.’ This loving word of his father woke up his soul. He reformed and became converted, and was none other than the Rev. Henry Moorehouse of Manchester.”

So `n gebeurtenis laat ons opnuut God, ons Vader, se groot liefde vir óns besef. Glo ons, weet ons, dat God ons met `n groot liefde lief het? “God het die wêreld – vir my, vir jou – so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Glo dit. Aanvaar dit. Dank God daarvoor. “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh.3:17).

“Here, vandag weet ek uit u Woord U het my lief.”

Di 18 Nov: Langs Mekaar

SKRIFDEEL: Lukas 19: 1 – 10

“Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan…hy het Jesus met blydskap ontvang” (5)

`n Misdadiger het in `n tronk op die voltrekking van sy doodstraf gesit en wag, vertel The Presby­terian. `n Predikant het hom besoek en hom probeer help om tot bekering te kom. Hy kon net nie by die man ingang vind nie. Op pad terug huistoe, loop die dominee `n bejaarde lidmaat van hom raak, wat vir sy toegewydheid aan die Here bekend was. Hy vra die man om met die misdadiger te gaan praat. By die misdadiger in sy sel aangekom, gaan hy langs die man sit, neem sy hand in sy eie hand en sê met groot gevoel en eenvoud: “Is dit nie wonderlik dat God in sy groot liefde vir ons, sy Seun gestuur het om vir sondaars soos ek en jy te kom sterf nie.” Binne oomblikke breek die man se hart oop en begin hy huil. Later het hy gesê: “Toe die predikant met my gepraat het, het dit gevoel soos iemand wat van ver bo my met my praat. Maar toe die ou man inkom en langs my kom sit en hom met my klas deur te sê: ‘Was dit nie `n groot liefde van God om sy Seun in die wêreld te stuur om vir sondaars soos ek en jy te sterf nie, kon ek dit nie meer uithou nie. Ek het my hart vir die Here oopgemaak en ek gaan nou met moed my slegte straf tegemoet.”

`n Nederige houding en groot meegevoel vind ingang by mense. Dit is hoe Jesus self met mense omgegaan het: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee…want Ek is sagmoedig en nederig van hart….” (Mat.11:28).

“Here, vandag wil ek vir U bruikbaar wees.”

Ma 17 Nov: Die Hart van Die Verlosser

SKRIFDEEL: Psalm 22

“My God, ek roep bedags en U antwoord nie…(3)

C. H. Spur­geon het ’n kom­men­taar, bestaande uit drie dik vo­lu­mes oor die Psalms ge­skryf. In 1975 het ek die hele stel van drie, nuut, vir R38,85 gekoop. Eenkeer, voor ’n nag­maals­diens, het ek be­­hoef­te ge­had om my hart vir die her­denk­­ing van die Here Jesus se kruisiging voor te berei. Ek het Spurgeon se kommentaar oor Psalm 22 gelees. In die evangelies het ons die beskrywing van Jesus se kruisdood. In Psalm 22 het ons dieselfde beskry­wing asof Dawid self by Gol­go­ta gestaan het. Die verskil tussen die evangelies se beskry­wings en Psalm 22 is: die evan­­gelies beskryf aan­gry­pend die gebeurtenis se uiterlike ontvouing, en Psalm 22 bring die lydende Messias se gevoelens en gedag­tes gedurende daar­die krui­sig­ings­ure na ons harte toe. Die Gees van die Messias vertolk in Dawid se menslike hart Getsé­mane en Golgota soos Je­sus dit beleef het: sy eensaamheid, sy ver­skrik­king, sy pyn.

Nou volg ons Spurgeon se spore (kortpad) deur Psalm 22. “Vir die koorleier (Chief Musician)”. So ’n verhewe lied kan nie deur ’n mindere hanteer word nie. Je­sus is soos ’n wildsbok gejag: “Op die wysie van die wildsbok…” (v.1). Jesus se gevoel van diepe verla­ten­heid: “My God, my God, waar­om het U my verlaat en bly ver as ek om hulp roep?” (v.2). Sy hewige onrus: “My God, ek roep be­dags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie (v.3). Sy verwarring: “Op U het ons voorvaders vertrou…U het hulle gered… hulle het na U om hulp geroep…en hulle is nie beskaam nie (4-6)”. Hoekom kry Hy nie antwoord nie? Sy ver­nedering: “Maar ek is ’n wurm…Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: ‘Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red… (7-9)’” Sy her­in­ne­ringe: “Van my geboorte af is ek onder u sorg…is U my God (v10,11). Sy angs: “…die nood is naby …’n wreedaardige klomp mense het my omsing­el…soos verskeurende leeus…ek smelt weg…ek is so min werd as ’n potskerf…soos honde om­singel hulle my (12-17)”. Sy vernietiging: “…hulle het my hande en voete deurgrawe…hulle ver­deel my klere onder mekaar en trek loot­jies oor my mantel…help my tog gou! Red my…kosbare lewe…Red my…! (v17-22) Sy oorwinning: “U het my gebed verhoor! Ek sal U…in die volle vergadering prys…(23-27)”. Sy versoening: “Men­se oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer …Alle volke sal Hom as koning erken… Hy heers oor die volke…(28-30)”. Sy verkon­diging: “Die nageslag sal Hom dien… sal van die Here vertel…aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossings­daad getuig: die Here het dit gedoen (31-32)”.

“Here, vandag dank ek U vir u soenoffer.”

Vry 14 Nov: Daardie Nagmaal

SKRIFDEEL: Lukas 23: 33 – 43

“Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar…gekruisig” (33)

Aatami Kuortti, `n Luteraanse pastor in Rusland, is tot 10 jaar hardepad in `n konsentrasiekamp gevonnis, omdat hy nie vir die Russe `n spioen wou wees nie. `n Groot aantal van die konsentrasie­kamp se gevangenes was Christene. Hulle enigste mis­daad was hulle Christenskap. Een van die Finse

gevangenes, Kajada, het `n pakkie van sy huis af ontvang; `n stukkie brood en `n paar appels. Die eerste ding waaraan hy dink is, of hulle dít nie kan gebruik om die Here se nagmaal te vier nie. Hy gaan vertel dit vir eerw. Kuortti. Die pastor dink da­de­lik dit is onmoontlik. “Die wagte sal inmeng,” sê hy. “Dit is alles al gereël,” antwoord Kajada. “Ek het die appels stukkend gedruk en die sap in `n beker gegooi en daar is genoeg broodstukkies om te ge­bruik. Ons hou dit in die hoek waar ek en my broer slaap. Die wagte sal dink ons drink tee. Later skryf eerw. Kuortti: “I gladly fell in with the proposal of the bretheren. After repetition of Scripture, I blessed the bread and the mug of apple juice, and we ate the Lord’s Holy Communion.” Die nagmaalstafel was `n vuil, growwe plank. “The pastor, as well as his flock, was in rags, yet we realized the presence of Christ.”

Ek wens Sunday School Times het iets meer van hierdie besondere nagmaalviering vertel. Maar ek wil glo die harte van almal wat deelgeneem het, se geloof is versterk. Die omstandighede was so op die peil van Jesus se smartlike dood daardie dag op die heuwel van Golgota: die haat en geskreeu van die omstanders, die ruwe kruis,die vloeiende bloed, die vrees in die dissipels se harte.

Nagmaal is een van die tasbare, herhaalbare te­kens van Jesus se groot verlossingsdood. Laat ons daarvan gebruikmaak, so dikwels as wat ons kan. Ons ander tasbare bewys van Jesus se kruisdood, is die Bybel, veral die hoofstukke wat vertel van wat Hy moes deurmaak. Gisteraand het ek die kruisig­ings­­verhaal in die ­Johannes­evan­ge­lie gelees en laasnag het ek net na 1vm. wakkergeword, opge­staan en die opstandingsverhaal gelees. En hoe `n seën het dit in my hart gebring! Ek het daaraan behoefte gehad. Om so `n geheelstuk van Jesus se lewe te lees, het `n krag om Hom vir ons, deur die Heilige Gees se werk­ing, `n lewende werklikheid te maak. “…sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde….ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp” (Fil.3:10-12).

“Here, vandag wil ek U in u woord raaksien.”

Do 13 Nov: 'n Gerusstellende Sekerheid

SKRIFDEEL: Johannes 11: 1 – 16

“Here, hy vir wie u lief is, is siek” (3)

Kenneth Osbeck vertel van die professor van die Prince­ton kweekskool wat gewoond was om sy klas af te sluit met die woorde: “Gentlemen, there is still much in this world and in the Bible that I do not understand, but of one thing I am certain – ‘Jesus loves me, this I know for the Bible tells me so’ – and gentlemen, that is sufficient!” Hy het die woor­de aan­ge­haal van die lied wat veral deur kinders gesing word, maar vir ons net so troosvol is: “Jesus min my, salig lot! Dit leer my die woord van God; Al is ek ook swak en blind, Nogtans noem Hy my sy kind.” Vir Marta en Maria was dit ‘n groot troos oor hulle broer wat siek gelê het: Jesus het hom lief ge­had. Die onmiddellike verloop van sake het dit weer­spreek, want Jesus het gewag totdat Lasarus dood en begrawe was voor Hy na hulle toe gegaan het. Die uiteinde van hulle vertroue in Jesus, al het hulle ver­troue ook gewankel, was goed en het op ‘n feesmaal uitgeloop. Dwars­­deur ons beproewings moet ons net daaraan vashou: Jesus het ons lief. Hy sal vir die beste op­lossing sorg.

Die lied is in 1860 deur Anna B. Warner, met die sa­­mewerking van haar suster Susan geskryf. Dit was deel van ‘n roman, Say and Seal, wat hulle ge­skryf het en wat in daardie tyd ook ‘n blitsverkoper was. In die boek ontvou ‘n roerende toneel. Een van die karakters in die boek, Mr. Linden, troos ‘n sterwende seuntjie, Johnny Fax, deur vir hom hier­die lied te sing. William Bradbury het die melody in 1861 ge­kom­poneer en die koortjie by Anna Warner se vier verse gevoeg:

Ja, Jesus min my! Ja, Jesus min my!
Ja, Jesus min my! Ek weet dit uit Gods Woord.

“Here, vandag weet ek uit u Woord U het my lief.”

Wo 12 Nov: Die Ou Ruwe Kruis

SKRIFDEEL: 1 Petrus 2: 18 – 25

“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees” (24).

George Bennard het sy werk as evan­gelie­prediker by die Heilsleër begin. Agt jaar later is hy in die Metodiste­kerk as leraar georden. Sy toege­wyde bedie­ning as evan­gelis in die kerk was vir baie jare hoog aan­ge­skryf. Een keer het Bennard met ’n bedrukte hart, weens persoon­li­ke beproe­wing, na sy huis in Albion, Michi­gan terugge­keer. Hy het die beteke­nis van die kruis van Christus ernstig oordink en wat Pau­lus in Filippense 3:10 bedoel het, waar hy praat van ge­meenskap met die lyding van Christus: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy ly­ding deur aan Hom gelyk te word…”. Hy het lang ure be­gin deurbring met Bybelstudie, gebed en oordenking. Op ’n dag het die lig vir hom deurgebreek. Hy skryf daarvan: “I saw the Christ of the cross as if I were seeing John 3:16 leave the printed page, take form and act out the mea­ning of redemption. The more I contemplated these truths the more convinced I became that the cross was far more than just a religious symbol but rather the very heart of the gospel.”

Tydens hierdie geestelike stryd in sy hart het die tema van “The Old Rugged Cross” in sy ge­dagte begin vorm. Op ’n dag begin die woorde en die melo­die van die lied in sy gemoed oopgaan. Die Heilige Gees maak die kruis vir ’n mens ’n groter en gro­ter werk­likheid, as ons deur gebed en Bybelstudie ons har­­te vir Hom open: “Die Gees staan ons ook in ons swak­heid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woor­de gesê word nie. En God, wat die harte deur­grond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God vir die gelowiges” (Rom.8:26). Binne ’n kort tyd het hy die woorde en die melodie geskryf en dit vir Charles Gabriel, ’n leidende liedskrywer, ge­stuur. Gabriel het vir hom, in eie woorde, terug laat weet: “You will centainly hear from this song, Mr. Bennard.” Dit was profetiese woorde, want hierdie lied het een van die be­kendste geestelike liedere geword.

O, die dierbare kruis, waar die uiterste prys,
Deur kosbare bloed is betaal;
Dáár is smarte gely en versoening verkry
Waar Jesus oorwinning behaal.

“Here, vandag aanskou ek U aan die ruwe kruis.”

Di 11 Nov: Ook

SKRIFDEEL: Jesaja 1: 12 – 18

“’Kom nou en laat ons die saak uitmaak,’ sê die Here: ‘al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu…’” (18).

In die Reader’s Digest van Januarie 2006, ver­skyn ’n ar­tikel onder die opskrif: One French­woman Who Out­lived Six Billion People. Hierdie vrou, Jean­ne Calment, is die wêreld se oudste mens van wie daar bevestigde ge­boorte- en sterftegegewens be­staan. Sy is in 1997 op die ouderdom van 122 jaar oorlede. Oor haar skryf die Rea­der’s Digest: “A smo­er, Calment liked nothing more than a re­gu­lar glass of port wine. She rode bicycle at 100, made her film debut at 114 and remained lucid (duidelik – die rimpels ontbreek!) virtually until the day she died.” Sy het ’n goeie, vol, lang lewe gehad.

So interessant en lank as wat haar lewe ook was, op ’n dag, in 1997, het sy ook gesterf. Die dag wan­neer ’n mens gebore word, is belangrik, die dae wat ’n mens lewe, is belangrik, maar die dag wan­neer ’n mens sterf is uiters belangrik. Dan begin die ewig­heid vir `n mens sélf. In Jesus se gelykenis oor die arm man, Lasarus, en die ryk man, word hul sterfdae beklemtoon: “Toe die arm man te ster­we kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham…Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien Abraham in die verte…en hy roep… ek ly verskriklik in hierdie vuur” (Luk.16:22-24).

Elkéén van ons het ook `n sterfdag. Die Here Je­sus het ’n aaklige, bitter sterfdag gehad. Sy aard­se lewe van 33 jaar was ingestel op sy sterf­dag. Hy het met sy dissipels meer as een keer oor sy ko­mende sterfdag gepraat. Aan die einde van sy drie en ’n half jaar diens aan sy volk, toe Hy baie men­se genees en gered het, wou die Grieke Hom sien. Maar Hy sê vir Filippus en Andreas: “Die tyd het gekom…As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in…Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê?… Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hier­die uur…” (Joh.12:24-27). “Kyk, daar kom ’n tyd, en dit is noual hier…dat julle My alleen sal laat…” (Joh.16:32). “Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom…om drie-uur het Je­sus hardop uitgeroep: ‘Eloï, Eloï, lemá, sabag­tani?’…Dit betek­en: ‘My God, My God, waarom het U My verlaat?’…Daarna het Jesus hard uitgeroep… (Mark.15:33,34).”’Dit is volbring!’ Toe het Hy sy kop vooroor laat sak… en die laaste asem uitgeblaas… (Joh.19:29,30)” “Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur” (Mark.16:37,38). Die toegang na God toe het vir ons almal gekom.

Jesus het die weg na God vir óns, die skuldiges oopgemaak, sodat ons by God vergifnis kan kry en deel kan kry aan die ewige lewe en die hemel. Hiermee het Jesus die skrik van ons sterfuur weg­ge­neem. As ons dan ook die dag sterf, gaan ons hemel toe. Laat ons verseker sorg om tyd te maak om hierdie groot geskenk van God aan te neem, vóór ons die doodsdal betree!

“Here, vandag dink ek aan my verlede en ek dink aan die ewigheid. Ek bely U my sonde en vertrou in u kruisdood ook vir my.”

Ma 10 Nov: Wees Daardie Dag Daar

SKRIFDEEL: 1 Tessalonisense 4: 13 – 18

“Wanneer… die trom­­­pet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Chris­tus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weg­ge­voer word, die lug in, die Here tegemoet” (16,17)

James Black was ’n ywerige en aktiewe wer­ker en prediker in die Metodiste kerk, ’n sogenaamde Me­thodist layman, ’n musiekonderwyser en kom­ponis en uitgewer van talle evangeliese liedere, gospel songs. Hy het ook as Sondagskoolonder­wyser en leier van ’n jeuggroep onder kinders en jongmense gewerk. Eendag loop hy ‘n 14-jarige dog­ter raak. Sy was ar­moe­dig geklee en die kind van ’n dranksugtige man. Op Black se aandrang het sy Sondagskool begin by­woon en by die jeug­groep aan­ge­sluit. Een aand, by ’n toewydings­ver­ga­­de­ring van die jeuggroep, moes die jongmense met ’n teksvers ant­woord as hulle name uitgelees word, die sogenaamde roll call. Toe die dog­ter se naam ge­­lees word, is daar net stilte. Sy was nie daar nie! James Black gebruik toe die ge­leent­­heid om te praat oor hoe hartseer dit sal wees as iemand se naam die dag met die opening van die Lam se Boek van die Lewe uit­ge­lees word en die persoon is nie daar nie. Dit het gelei tot een van sy treffende liedere. Black skryf: “When I reached my home, my wife saw that I was deeply troubled. Then the words in the first stanza came to me in full. In fifteen minutes more, I had composed the other two verses. Going to the piano, I played the music as it is found today in the hymnbooks:

When the trumpet of the Lord shall sound
and time shall be no more
And the morning breaks eternal, bright and fair –
When the saved of earth shall gather over on the other shore,
And the roll is called up yonder, I ‘ll be there.”

Die volgende dag moes Black uitvind, die dogter was nie daar nie, omdat sy siek lê aan longont­steking. Hy skryf: “The subsequent death of the missing girl from pneu­monia, after an illness of just ten days, fur­nished the dramatic finale to this account and gives a poignancy to the ‘roll call’ song.”

Na hierdie lied in 1894 verskyn het, word mense daar­deur aangegryp. Ons het dit in Afrikaans: “As die boeke oopgemaak word, is ek daar?”

“Here, vandag weet ek my naam is in u Boek van die Lewe geskryf, want U is my Saligmaker.”

Vry 7 Nov: Die Beste Vriend

SKRIFDEEL Johannes 15: 9 – 17

“Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê… So sal die Va­der aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra” (13,16).

Joseph Scriven was ‘n ryk en geleerde jong­man in Ierland. Die nag voor sy troue het sy ver­loof­­de in ‘n rivierongeluk verdrink. “In his deep sor­row, Jo­seph realized that he could find the so­lace and sup­port he needed only in his dearest friend, Jesus”, skryf Kenneth Osbeck, in sy boek Amazing Grace. Kort na die tragedie het Scriven in 1845 geëmigreer Kanada toe, waar hy in Port Hope gaan woon het. Sy voorneme was om sy lewe aan Christus toe te wy deur ander te help, soos Jesus sy dis­sipels geleer het: “Gee en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol…met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word” (Luk.6:42). Hy het geld en klere aan mense wat dit nodig ge­had het gegee, vir an­der het hy sonder vergoeding ta­ke verrig, en bekend geword as die Goeie Samari­taan van Port Hope.

Hy het eenkeer self siek geword. ‘n Vriend het hom besoek en `n gedig se woorde op ‘n los vel papier, langs die bed, ge­sien. “Wie het dit geskryf?” wou die verbaasde vriend weet. “Ek en die Here het dit saam geskryf,” het Scriven geantwoord. Dit was die woorde van die lied wat ons ken en sing: Wat `n Vriend het ons in Jesus.”

Scriven is op 66-jarige ouderdom dood. Sy graf, met die lied se woorde op die grafsteen, is te sien naby Peterborough, Ontario. Die gedig is later deur Charles C. Converse getoonset.

Die rykste aardse vrug van Joseph Scriven se be­proewing en toewyding daarna, is die waarde wat hier­die lied die afgelope byna ‘n eeu en ‘n half vir gelowi­ges ge­had het. Dit inspireer geloof en bring vrede vir die hart. Die lied vertel van die grootste beskutting wat ons in hier­die lewe het: om Jesus as vriend te ken.

Wat ‘n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan;
Wat ‘n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan!
Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart,
Net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!

Is ons swak, gedruk deur laste, onder kommer neergebuk,
Dierb’re Heiland, onse Toevlug, o bevry ons weer van druk!
As ons vriende ons versaak het, soek ons in gebed die Heer,
Aan sy boesem is ons veilig, Hy vertroos ons keer op keer.

“Here, vandag ken ek U as my beste Vriend.”

Do 6 Nov: Die Noodroep

SKRIFDEEL: Lukas 23: 33 – 43

“’…ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.’ Verder sê hy: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘…vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.’” (40-42)

In die Reader’s Digest van Januarie 2004 word die interessante, maar tragiese verhaal van die popsanger, Elvis Presley, deur Alanna Nash vertel. Sy verlange na iets meer as die roem en rykdom wat hom te beurt geval het, kom aan die lig in ’n gesprek met sy beste vriend, Larry Geller. Daar moet tog ’n doel met sy lewe wees, het hy sy hart vir Geller oopgemaak. Ek haal aan uit die artikel in Reader’s Digest bladsy 140 : Geller had tried to help Presley in his quest to find the divinity within, sharing books and spiritual advice. At one point, Elvis told his friend that he wanted to quit show business and do some­thing important with his life. “In fact, Larry,” Elvis said, “I want you to find me a monastery.”

Die raad en bemoediging wat Elvis by sy vriend gekry het, het hom nie heeltemaal gehelp nie. Op 16 Augustus 1977, wou hy die dag in die bed deurbring om uitgerus te wees vir sy optrede die aand, want hy was baie ontsteld. Hy het vier slaappille gedrink, na ’n rukkie gevolg deur nog so ’n dosis en bietjie later weer. Hy kon nie aan die slaap raak nie. Hy het vir sy bedmaat, die 22-jarige Ginger, skoonheidskoningin van Memphis, gesê hy gaan in die badkamer lees. Hy het die boek The Scientific Search for the Face of Jesus, ’n boek oor die sogenaamde Shroud of Turin, saamgeneem. Om 2 nm. het Ginger wakker geword en badkamer toe gegaan om te sien hoe dit met Elvis gaan. Sy het hom in knielende posisie op die vloer gevind, sy hande onder sy gesig asof hy bid. Hy het onnatuurlik stil gelê. Sy het aan hom geraak. Hy was koud. Elvis het heengegaan.

In my eie hart het die vraag ontstaan: Wat sou Elvis se lewensverloop gewees het, as sy vriend, Larry Geller, Elvis se sielenood met ’n openhartige, evangeliese gesprek kon antwoord. Nog ’n gedagte in my eie hart: Het die moontlike, miskien skrapse, evangeliese verwysing in The Scientific Search for the Face of Jesus, wat Elvis by hom gehad het, hom gehelp om tog redding te vind, soos die moordenaar dit op die laaste oomblik so wonderbaarlik aan die kruis gevind het? Want redding kom in antwoord op ’n enkele uitroep om hulp tot ons Verlosser, Jesus, en is nie ’n beloning vir ’n prestasie van vroomheid nie: “Maar al is die mens se sondes baie, die goedheid van God is nog groter”(Rom.5:20). “Dit is net omdat God vir ons so goed is dat Hy ons gered het. Ons kon onsself nie red nie, maar God gee dit vir ons verniet as ons op Jesus Christus vertrou. ’n Mens kan nie gered word deur iets wat jyself doen nie, en daarom is dit nooit jou eie prestasie waaroor jy kan spog nie” (Ef.2:8-9). “Hy het ons gered, maar dit was nie omdat ons vooraf iets gedoen het wat reg was nie; dit was omdat Hy vir ons jammer was. Hy het ons gered toe Hy ons sondes afgewas en ons ’n nuwe geboorte gegee het, toe die Heilige gees ons nuut gemaak het” (Tit.3:5,6) – Skrifaanhalings uit die Lewende Bybel. “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word” (Rom.10.13).

“Here, vandag roep ek: Red my!”

Wo 5 Nov: Eie Verantwoordelikheid

SKRIFDEEL: Johannes 5: 24 – 29; 39 – 40
“Wie luister na wat Ek sê, en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe…hy word nie veroordeel nie…tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” (24,40).

Tom M. Olson stap ’n haarkappersalon binne. Hy hoor ’n man sê: “Ek is ’n sondaar gebore. Ek kon dit nie verhelp nie en daarom is dit nie my skuld nie. As ek nou sonde doen, is dit nie my skuld nie en God kan my nie daarvoor veroordeel nie, al sê die predikers ook wat!” Olsen gereageer dadelik daar­op. “Vriend, die Bybel sê nêrens Hy sal jou veroordeel omdat jy ’n sondaar gebore is nie, maar omdat jy ’n sondaar bly, omdat jy die Verlosser wat Hy gestuur het, verwerp.” Hy kom agter al die manne in die winkel luister na hom. Hy gebruik ’n illustrasie: “Veronderstel iemand loop in die middel van die nag by jou huis verby en sien jou huis is aan die brand. Hy maak jou wakker en waarsku jou. Maar jy jaag hom weg en sê jy het nie die brand veroorsaak nie en daarom is jy nie verantwoordelik daarvoor as jy doodbrand nie. Die brandweer daag op met klokkegelui en skreeuende sirenes, maar jy hou daarby, jy het nie die brand veroorsaak nie en hulle moet jou uitlos. As jy doodbrand: wie se skuld gaan dit wees?” “Die een wat die gebou aan die brand gesteek het,” volhard die man. “Nee, ou maat,” sê ’n man uit die stoel langs hom. “Dit gaan jóú skuld wees. Jy het kans gehad om gered te word en jy het geweier.” Daar was algemene in­stem­ming. Die oorspronklike prater gee halfhartig toe, betaal vir die haarsny, neem sy kleingeld en gee pad.
Dit is ’n gevaarlike koers om God se duidelike boodskap oor ons redding en die ewigheid te weier: “Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie…hoeveel minder sal ons ont­kom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie…” (Heb.12:25).

“Here, vandag luister ek as U met my praat.”

Di 4 Nov: Die Veilige Plek

SKRIFDEEL: Deuteronomium 33: 26 – 29

“… God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou” (27).

In die Bible Expositor and Illuminator vertel die skrywer van sy vriend wat ‘n pragtige vrou en lieflike 3-jarige dogtertjie gehad het. Donker hartseer het skielik oor die huisgesin gekom toe die vrou een middag in ‘n motorongeluk dood is. Die aand na die begrafnis sit die jong pa sy dogtertjie in die bed en terwyl hy met onhandige vingers sukkel om die nagklere se knope vas te maak, gaan die hele huis se ligte dood. Dadelik vermoed hy ‘n sekering het uitgebrand. Die skakelbord is in die kelder en hy wil gaan kyk wat verkeerd is. Hy sê vir sy dogtertjie: “Lê net so stil in jou bedjie. Pappa gaan net gou die lig regmaak. Ek is nou weer terug by jou.” Verskrik wil sy begin huil oor die gedagte om so alleen in die donker agtergelaat te word. “Saamgaan, Pappa! Saamgaan!” begin sy kerm. Hy tel haar op in sy arms en so in die donker begin hy deur die huis loop, versigtig af met die trappe. Sy dogtertjie wikkel haar dieper in sy arms in en druk haar gesiggie in sy nek. “Donker, Pappa,” sug sy. “Ek nie bang nie, Pappa, by my.” ‘n Snik skeur uit sy hart uit en hy druk sy gesig in haar hare. “Ja, liefstetjie,” snik hy sag, “dit is baie donker, maar ek is ook nie meer bang nie. My Vader is by my en Hy hou my ook in sy arms vas.”

Het ons ook al so ‘n pikdonker in ons lewe er­vaar? Is dit nou dalk so donker? Daar is net een se­ker, veilige, troostende toevlug en dit is ‘n bewussyn van God en sy liefde. “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here God gekies as my toevlug” (Ps.73:28). “…my God gee lig as dit donker is om my”(Ps.18:29). Die Here Jesus Christus, as ons Hoëpriester, het vir ons die weg groot oopgemaak na God se genadetroon toe, waar ons troos en krag en vrede kan vind. “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie… Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb.4:15,16).

“Here, vandag is dit donker. Ek soek U lig en naby­heid.”