SKRIFDEEL: Lukas 23: 33 – 43
“Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar…gekruisig” (33)
Aatami Kuortti, `n Luteraanse pastor in Rusland, is tot 10 jaar hardepad in `n konsentrasiekamp gevonnis, omdat hy nie vir die Russe `n spioen wou wees nie. `n Groot aantal van die konsentrasiekamp se gevangenes was Christene. Hulle enigste misdaad was hulle Christenskap. Een van die Finse
gevangenes, Kajada, het `n pakkie van sy huis af ontvang; `n stukkie brood en `n paar appels. Die eerste ding waaraan hy dink is, of hulle dít nie kan gebruik om die Here se nagmaal te vier nie. Hy gaan vertel dit vir eerw. Kuortti. Die pastor dink dadelik dit is onmoontlik. “Die wagte sal inmeng,” sê hy. “Dit is alles al gereël,” antwoord Kajada. “Ek het die appels stukkend gedruk en die sap in `n beker gegooi en daar is genoeg broodstukkies om te gebruik. Ons hou dit in die hoek waar ek en my broer slaap. Die wagte sal dink ons drink tee. Later skryf eerw. Kuortti: “I gladly fell in with the proposal of the bretheren. After repetition of Scripture, I blessed the bread and the mug of apple juice, and we ate the Lord’s Holy Communion.” Die nagmaalstafel was `n vuil, growwe plank. “The pastor, as well as his flock, was in rags, yet we realized the presence of Christ.”
Ek wens Sunday School Times het iets meer van hierdie besondere nagmaalviering vertel. Maar ek wil glo die harte van almal wat deelgeneem het, se geloof is versterk. Die omstandighede was so op die peil van Jesus se smartlike dood daardie dag op die heuwel van Golgota: die haat en geskreeu van die omstanders, die ruwe kruis,die vloeiende bloed, die vrees in die dissipels se harte.
Nagmaal is een van die tasbare, herhaalbare tekens van Jesus se groot verlossingsdood. Laat ons daarvan gebruikmaak, so dikwels as wat ons kan. Ons ander tasbare bewys van Jesus se kruisdood, is die Bybel, veral die hoofstukke wat vertel van wat Hy moes deurmaak. Gisteraand het ek die kruisigingsverhaal in die Johannesevangelie gelees en laasnag het ek net na 1vm. wakkergeword, opgestaan en die opstandingsverhaal gelees. En hoe `n seën het dit in my hart gebring! Ek het daaraan behoefte gehad. Om so `n geheelstuk van Jesus se lewe te lees, het `n krag om Hom vir ons, deur die Heilige Gees se werking, `n lewende werklikheid te maak. “…sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde….ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp” (Fil.3:10-12).
“Here, vandag wil ek U in u woord raaksien.”