Ma 17 Nov: Die Hart van Die Verlosser

SKRIFDEEL: Psalm 22

“My God, ek roep bedags en U antwoord nie…(3)

C. H. Spur­geon het ’n kom­men­taar, bestaande uit drie dik vo­lu­mes oor die Psalms ge­skryf. In 1975 het ek die hele stel van drie, nuut, vir R38,85 gekoop. Eenkeer, voor ’n nag­maals­diens, het ek be­­hoef­te ge­had om my hart vir die her­denk­­ing van die Here Jesus se kruisiging voor te berei. Ek het Spurgeon se kommentaar oor Psalm 22 gelees. In die evangelies het ons die beskrywing van Jesus se kruisdood. In Psalm 22 het ons dieselfde beskry­wing asof Dawid self by Gol­go­ta gestaan het. Die verskil tussen die evangelies se beskry­wings en Psalm 22 is: die evan­­gelies beskryf aan­gry­pend die gebeurtenis se uiterlike ontvouing, en Psalm 22 bring die lydende Messias se gevoelens en gedag­tes gedurende daar­die krui­sig­ings­ure na ons harte toe. Die Gees van die Messias vertolk in Dawid se menslike hart Getsé­mane en Golgota soos Je­sus dit beleef het: sy eensaamheid, sy ver­skrik­king, sy pyn.

Nou volg ons Spurgeon se spore (kortpad) deur Psalm 22. “Vir die koorleier (Chief Musician)”. So ’n verhewe lied kan nie deur ’n mindere hanteer word nie. Je­sus is soos ’n wildsbok gejag: “Op die wysie van die wildsbok…” (v.1). Jesus se gevoel van diepe verla­ten­heid: “My God, my God, waar­om het U my verlaat en bly ver as ek om hulp roep?” (v.2). Sy hewige onrus: “My God, ek roep be­dags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie (v.3). Sy verwarring: “Op U het ons voorvaders vertrou…U het hulle gered… hulle het na U om hulp geroep…en hulle is nie beskaam nie (4-6)”. Hoekom kry Hy nie antwoord nie? Sy ver­nedering: “Maar ek is ’n wurm…Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: ‘Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red… (7-9)’” Sy her­in­ne­ringe: “Van my geboorte af is ek onder u sorg…is U my God (v10,11). Sy angs: “…die nood is naby …’n wreedaardige klomp mense het my omsing­el…soos verskeurende leeus…ek smelt weg…ek is so min werd as ’n potskerf…soos honde om­singel hulle my (12-17)”. Sy vernietiging: “…hulle het my hande en voete deurgrawe…hulle ver­deel my klere onder mekaar en trek loot­jies oor my mantel…help my tog gou! Red my…kosbare lewe…Red my…! (v17-22) Sy oorwinning: “U het my gebed verhoor! Ek sal U…in die volle vergadering prys…(23-27)”. Sy versoening: “Men­se oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer …Alle volke sal Hom as koning erken… Hy heers oor die volke…(28-30)”. Sy verkon­diging: “Die nageslag sal Hom dien… sal van die Here vertel…aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossings­daad getuig: die Here het dit gedoen (31-32)”.

“Here, vandag dank ek U vir u soenoffer.”