“Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê… So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra” (13,16).
Joseph Scriven was ‘n ryk en geleerde jongman in Ierland. Die nag voor sy troue het sy verloofde in ‘n rivierongeluk verdrink. “In his deep sorrow, Joseph realized that he could find the solace and support he needed only in his dearest friend, Jesus”, skryf Kenneth Osbeck, in sy boek Amazing Grace. Kort na die tragedie het Scriven in 1845 geëmigreer Kanada toe, waar hy in Port Hope gaan woon het. Sy voorneme was om sy lewe aan Christus toe te wy deur ander te help, soos Jesus sy dissipels geleer het: “Gee en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol…met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word” (Luk.6:42). Hy het geld en klere aan mense wat dit nodig gehad het gegee, vir ander het hy sonder vergoeding take verrig, en bekend geword as die Goeie Samaritaan van Port Hope.
Hy het eenkeer self siek geword. ‘n Vriend het hom besoek en `n gedig se woorde op ‘n los vel papier, langs die bed, gesien. “Wie het dit geskryf?” wou die verbaasde vriend weet. “Ek en die Here het dit saam geskryf,” het Scriven geantwoord. Dit was die woorde van die lied wat ons ken en sing: Wat `n Vriend het ons in Jesus.”
Scriven is op 66-jarige ouderdom dood. Sy graf, met die lied se woorde op die grafsteen, is te sien naby Peterborough, Ontario. Die gedig is later deur Charles C. Converse getoonset.
Die rykste aardse vrug van Joseph Scriven se beproewing en toewyding daarna, is die waarde wat hierdie lied die afgelope byna ‘n eeu en ‘n half vir gelowiges gehad het. Dit inspireer geloof en bring vrede vir die hart. Die lied vertel van die grootste beskutting wat ons in hierdie lewe het: om Jesus as vriend te ken.
Wat ‘n vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan;
Wat ‘n voorreg om gedurig tot Gods troon deur Hom te gaan!
Hoe verbeur ons tog die vrede, ag, hoe dikwels ly ons smart,
Net omdat ons nie ons node uitstort in Gods Vaderhart!
Is ons swak, gedruk deur laste, onder kommer neergebuk,
Dierb’re Heiland, onse Toevlug, o bevry ons weer van druk!
As ons vriende ons versaak het, soek ons in gebed die Heer,
Aan sy boesem is ons veilig, Hy vertroos ons keer op keer.
“Here, vandag ken ek U as my beste Vriend.”