“Jesus het vir haar gesê: ‘Maria!’ Sy draai na Hom toe en sê…. vir Hom: ‘Rabboeni!’ Dit beteken leermeester” (16).
’n Handelsreisiger stap ’n winkel binne waar fyn glas verkoop word, vertel Gospel Herald. Vir die man agter die toonbank sê hy: “Ek wil graag al jou glase wat op die A-toon ingestem is, koop.” Die man glimlag: “Ek verkoop nie glase volgens hulle musiekwaarde nie. Ek sal die A-toon glase nie vir jou kan uitsoek nie.” Ongesteurd maak die handelsreisiger sy tas oop en haal ’n stemvurk uit. Hy kap die stemvurk teen die toonbank en dadelik is daar by sommige glase op die rak ’n weerklank. Daardie glase was, volgens die glashardheid waarmee hulle uit die fabriek gekom het, ingestem op die A-toon.
Dit is ook die geheim van Maria se onmiddellike reaksie op Jesus se stem. Haar hart was op sy stem ingestem. Christene word met wedergeboorte deur die Heilige Gees ingestem op ’n Jesustoon. Sy stem, sy boodskap, sy Naam, laat die hart vibreer. So ’n hart antwoord Jesus se roepstem. Dan wil ons Hom dien en wil Hom gehoorsaam. As so ’n glas ’n krakie gekry het, al is die krakie hoe gering, sal die A-toon verlore gaan. Afvalligheid in die Christen se hart, ’n bewuste sonde waaraan vasgehou word, ’n hardnekkige ongehoorsaameid, sal maak dat die weerklank op Jesus se roeping verdof of verdwyn. “Oppas dan dat julle nie ook saamgesleep word deur die dwaling van…slegte mense en julle vastigheid verloor nie. Julle moet ons Here en Redder, Jesus Christus, al beter leer ken en sy genade nog meer ondervind” (2 Pet.3:17).
Die klank van Jesus Naam is soet vir die gelowig’ hart;
Dit heel die wonde in ons gemoed,
verban ons vrees en smart.
“Here, vandag wil ek ingestem bly op u stem.”