Wo 12 Nov: Die Ou Ruwe Kruis

SKRIFDEEL: 1 Petrus 2: 18 – 25

“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees” (24).

George Bennard het sy werk as evan­gelie­prediker by die Heilsleër begin. Agt jaar later is hy in die Metodiste­kerk as leraar georden. Sy toege­wyde bedie­ning as evan­gelis in die kerk was vir baie jare hoog aan­ge­skryf. Een keer het Bennard met ’n bedrukte hart, weens persoon­li­ke beproe­wing, na sy huis in Albion, Michi­gan terugge­keer. Hy het die beteke­nis van die kruis van Christus ernstig oordink en wat Pau­lus in Filippense 3:10 bedoel het, waar hy praat van ge­meenskap met die lyding van Christus: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy ly­ding deur aan Hom gelyk te word…”. Hy het lang ure be­gin deurbring met Bybelstudie, gebed en oordenking. Op ’n dag het die lig vir hom deurgebreek. Hy skryf daarvan: “I saw the Christ of the cross as if I were seeing John 3:16 leave the printed page, take form and act out the mea­ning of redemption. The more I contemplated these truths the more convinced I became that the cross was far more than just a religious symbol but rather the very heart of the gospel.”

Tydens hierdie geestelike stryd in sy hart het die tema van “The Old Rugged Cross” in sy ge­dagte begin vorm. Op ’n dag begin die woorde en die melo­die van die lied in sy gemoed oopgaan. Die Heilige Gees maak die kruis vir ’n mens ’n groter en gro­ter werk­likheid, as ons deur gebed en Bybelstudie ons har­­te vir Hom open: “Die Gees staan ons ook in ons swak­heid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woor­de gesê word nie. En God, wat die harte deur­grond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God vir die gelowiges” (Rom.8:26). Binne ’n kort tyd het hy die woorde en die melodie geskryf en dit vir Charles Gabriel, ’n leidende liedskrywer, ge­stuur. Gabriel het vir hom, in eie woorde, terug laat weet: “You will centainly hear from this song, Mr. Bennard.” Dit was profetiese woorde, want hierdie lied het een van die be­kendste geestelike liedere geword.

O, die dierbare kruis, waar die uiterste prys,
Deur kosbare bloed is betaal;
Dáár is smarte gely en versoening verkry
Waar Jesus oorwinning behaal.

“Here, vandag aanskou ek U aan die ruwe kruis.”