Di 25 Nov: Ons Bid na Behoefte

SKRIFDEEL: Lukas 18: 35 – 43

“Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: ‘Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?’ En hy antwoord: ‘Here, dat ek kan sien.’” (40,41).

Theodore Monod was eendag besig om vir ’n seun die verhaal van die blinde man by Jerigo te vertel, skryf Sunday School Cronicle. Die seun­ luister met stralende gesig en wakker ogies na dié storie. “En wat,” vra Monod vir die seuntjie, “sou jy van Jesus gevra het as jy blind was?” Dadelik ant­woord hy: “Ek sou vir ’n mooi hond met nekband en ketting gevra het, so­dat hy my oral waar ek wil wees kan lei.” Monod merk hieroor op: “How often do we ask for the blind man’s dog instead of the seeing man’s eyes.”

Die seun het wakker, sienende oë gehad en daar­om kon dit nie deel van sy gebed uitmaak nie. Hoe sterker ons van ’n behoefte bewus word, hoe meer kleur dit ook ons gebed. On­be­taal­de skuld by winkels en ’n oortrokke bank­re­kening laat ons vir geld bid, ’n kwellende kwaal laat ons vir gesond­heid bid en bewuste gees­te­li­ke behoefte laat ons volgens ons geestelike be­hoefte bid. Die blinde man se blindheid en Je­sus se nabyheid en vrien­delike vraag: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” het hom so duidelik volgens sy ware be­hoefte laat bid: “Here, dat ek mag sien.” `n Bewuste behoefte, ‘n wete wat God beloof en ’n bewus­syn van die Here se na­by­heid rig ons gebed. Soos die blinde man laat dit ons bid: ”Here Jesus, in u Naam, doen dít, of, gee dít (volgens my eie behoefte) vir my.”

“Here, vandag bid ek vir my behoefte en ek glo.”