SKRIFDEEL: Psalm 51
“Wees my genadig, o God, in u troue liefde…”
Good Company vertel die storie van `n ma wat by Napoleon I om genade vir haar seun gaan pleit het. Dit was die jongman se tweede oortreding en die keiser het besluit hy is die doodstraf skuldig. Die ma se pleidooi: “Ek vra nie geregtigheid nie. Ek vra genade vir my seun.” Die keiser het geantwoord: “Hy verdien nie genade nie.” “Maar, my heer,” roep die moeder huilend uit, “as hy dit verdien het, is dit nie genade nie. En wat ek vra is nie wat hy verdien nie, maar ek vra genade.” Die keiser het haar `n oomblik aangekyk en toe geantwoord: “Dan sal ek hom genadig wees. Hy hoef nie te sterf nie.”
Dit is ons posisie voor God. Ons is afhanklik van sy genade, dit wat ons nie verdien nie. Die misdadiger wat saam met Jesus gekruisig is, het geen geleentheid vir verdienste gehad nie. Aan die einde van `n skuldige lewe hang hy veroordeeld aan die kruis. Hy wend hom tot Jesus: “’Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:42,43). Die ander misdadiger het dieselfde geleentheid gehad, maar hy het dit, weggevoer deur die omstanders se boosheid, by hom verby laat gaan.
“Here, vandag pleit ek nie my verdienste nie. Ek vra genade om gered te word.”