“Wie luister na wat Ek sê, en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe…hy word nie veroordeel nie…tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” (24,40).
Tom M. Olson stap ’n haarkappersalon binne. Hy hoor ’n man sê: “Ek is ’n sondaar gebore. Ek kon dit nie verhelp nie en daarom is dit nie my skuld nie. As ek nou sonde doen, is dit nie my skuld nie en God kan my nie daarvoor veroordeel nie, al sê die predikers ook wat!” Olsen gereageer dadelik daarop. “Vriend, die Bybel sê nêrens Hy sal jou veroordeel omdat jy ’n sondaar gebore is nie, maar omdat jy ’n sondaar bly, omdat jy die Verlosser wat Hy gestuur het, verwerp.” Hy kom agter al die manne in die winkel luister na hom. Hy gebruik ’n illustrasie: “Veronderstel iemand loop in die middel van die nag by jou huis verby en sien jou huis is aan die brand. Hy maak jou wakker en waarsku jou. Maar jy jaag hom weg en sê jy het nie die brand veroorsaak nie en daarom is jy nie verantwoordelik daarvoor as jy doodbrand nie. Die brandweer daag op met klokkegelui en skreeuende sirenes, maar jy hou daarby, jy het nie die brand veroorsaak nie en hulle moet jou uitlos. As jy doodbrand: wie se skuld gaan dit wees?” “Die een wat die gebou aan die brand gesteek het,” volhard die man. “Nee, ou maat,” sê ’n man uit die stoel langs hom. “Dit gaan jóú skuld wees. Jy het kans gehad om gered te word en jy het geweier.” Daar was algemene instemming. Die oorspronklike prater gee halfhartig toe, betaal vir die haarsny, neem sy kleingeld en gee pad.
Dit is ’n gevaarlike koers om God se duidelike boodskap oor ons redding en die ewigheid te weier: “Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie…hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie…” (Heb.12:25).
“Here, vandag luister ek as U met my praat.”