Di 11 Nov: Ook

SKRIFDEEL: Jesaja 1: 12 – 18

“’Kom nou en laat ons die saak uitmaak,’ sê die Here: ‘al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu…’” (18).

In die Reader’s Digest van Januarie 2006, ver­skyn ’n ar­tikel onder die opskrif: One French­woman Who Out­lived Six Billion People. Hierdie vrou, Jean­ne Calment, is die wêreld se oudste mens van wie daar bevestigde ge­boorte- en sterftegegewens be­staan. Sy is in 1997 op die ouderdom van 122 jaar oorlede. Oor haar skryf die Rea­der’s Digest: “A smo­er, Calment liked nothing more than a re­gu­lar glass of port wine. She rode bicycle at 100, made her film debut at 114 and remained lucid (duidelik – die rimpels ontbreek!) virtually until the day she died.” Sy het ’n goeie, vol, lang lewe gehad.

So interessant en lank as wat haar lewe ook was, op ’n dag, in 1997, het sy ook gesterf. Die dag wan­neer ’n mens gebore word, is belangrik, die dae wat ’n mens lewe, is belangrik, maar die dag wan­neer ’n mens sterf is uiters belangrik. Dan begin die ewig­heid vir `n mens sélf. In Jesus se gelykenis oor die arm man, Lasarus, en die ryk man, word hul sterfdae beklemtoon: “Toe die arm man te ster­we kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham…Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien Abraham in die verte…en hy roep… ek ly verskriklik in hierdie vuur” (Luk.16:22-24).

Elkéén van ons het ook `n sterfdag. Die Here Je­sus het ’n aaklige, bitter sterfdag gehad. Sy aard­se lewe van 33 jaar was ingestel op sy sterf­dag. Hy het met sy dissipels meer as een keer oor sy ko­mende sterfdag gepraat. Aan die einde van sy drie en ’n half jaar diens aan sy volk, toe Hy baie men­se genees en gered het, wou die Grieke Hom sien. Maar Hy sê vir Filippus en Andreas: “Die tyd het gekom…As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in…Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê?… Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hier­die uur…” (Joh.12:24-27). “Kyk, daar kom ’n tyd, en dit is noual hier…dat julle My alleen sal laat…” (Joh.16:32). “Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom…om drie-uur het Je­sus hardop uitgeroep: ‘Eloï, Eloï, lemá, sabag­tani?’…Dit betek­en: ‘My God, My God, waarom het U My verlaat?’…Daarna het Jesus hard uitgeroep… (Mark.15:33,34).”’Dit is volbring!’ Toe het Hy sy kop vooroor laat sak… en die laaste asem uitgeblaas… (Joh.19:29,30)” “Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur” (Mark.16:37,38). Die toegang na God toe het vir ons almal gekom.

Jesus het die weg na God vir óns, die skuldiges oopgemaak, sodat ons by God vergifnis kan kry en deel kan kry aan die ewige lewe en die hemel. Hiermee het Jesus die skrik van ons sterfuur weg­ge­neem. As ons dan ook die dag sterf, gaan ons hemel toe. Laat ons verseker sorg om tyd te maak om hierdie groot geskenk van God aan te neem, vóór ons die doodsdal betree!

“Here, vandag dink ek aan my verlede en ek dink aan die ewigheid. Ek bely U my sonde en vertrou in u kruisdood ook vir my.”