“’…ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.’ Verder sê hy: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus antwoord hom: ‘…vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.’” (40-42)
In die Reader’s Digest van Januarie 2004 word die interessante, maar tragiese verhaal van die popsanger, Elvis Presley, deur Alanna Nash vertel. Sy verlange na iets meer as die roem en rykdom wat hom te beurt geval het, kom aan die lig in ’n gesprek met sy beste vriend, Larry Geller. Daar moet tog ’n doel met sy lewe wees, het hy sy hart vir Geller oopgemaak. Ek haal aan uit die artikel in Reader’s Digest bladsy 140 : Geller had tried to help Presley in his quest to find the divinity within, sharing books and spiritual advice. At one point, Elvis told his friend that he wanted to quit show business and do something important with his life. “In fact, Larry,” Elvis said, “I want you to find me a monastery.”
Die raad en bemoediging wat Elvis by sy vriend gekry het, het hom nie heeltemaal gehelp nie. Op 16 Augustus 1977, wou hy die dag in die bed deurbring om uitgerus te wees vir sy optrede die aand, want hy was baie ontsteld. Hy het vier slaappille gedrink, na ’n rukkie gevolg deur nog so ’n dosis en bietjie later weer. Hy kon nie aan die slaap raak nie. Hy het vir sy bedmaat, die 22-jarige Ginger, skoonheidskoningin van Memphis, gesê hy gaan in die badkamer lees. Hy het die boek The Scientific Search for the Face of Jesus, ’n boek oor die sogenaamde Shroud of Turin, saamgeneem. Om 2 nm. het Ginger wakker geword en badkamer toe gegaan om te sien hoe dit met Elvis gaan. Sy het hom in knielende posisie op die vloer gevind, sy hande onder sy gesig asof hy bid. Hy het onnatuurlik stil gelê. Sy het aan hom geraak. Hy was koud. Elvis het heengegaan.
In my eie hart het die vraag ontstaan: Wat sou Elvis se lewensverloop gewees het, as sy vriend, Larry Geller, Elvis se sielenood met ’n openhartige, evangeliese gesprek kon antwoord. Nog ’n gedagte in my eie hart: Het die moontlike, miskien skrapse, evangeliese verwysing in The Scientific Search for the Face of Jesus, wat Elvis by hom gehad het, hom gehelp om tog redding te vind, soos die moordenaar dit op die laaste oomblik so wonderbaarlik aan die kruis gevind het? Want redding kom in antwoord op ’n enkele uitroep om hulp tot ons Verlosser, Jesus, en is nie ’n beloning vir ’n prestasie van vroomheid nie: “Maar al is die mens se sondes baie, die goedheid van God is nog groter”(Rom.5:20). “Dit is net omdat God vir ons so goed is dat Hy ons gered het. Ons kon onsself nie red nie, maar God gee dit vir ons verniet as ons op Jesus Christus vertrou. ’n Mens kan nie gered word deur iets wat jyself doen nie, en daarom is dit nooit jou eie prestasie waaroor jy kan spog nie” (Ef.2:8-9). “Hy het ons gered, maar dit was nie omdat ons vooraf iets gedoen het wat reg was nie; dit was omdat Hy vir ons jammer was. Hy het ons gered toe Hy ons sondes afgewas en ons ’n nuwe geboorte gegee het, toe die Heilige gees ons nuut gemaak het” (Tit.3:5,6) – Skrifaanhalings uit die Lewende Bybel. “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word” (Rom.10.13).
“Here, vandag roep ek: Red my!”