“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, … Ek sal julle rus gee…Ek is sagmoedig en nederig van hart” (28,29).
Die Christian Age vertel van ‘n geestelike oplewing wat in ‘n dorp begin het. Daar was krag in die prediking, mense het tot bekering gekom, ou geskille is bygelê, vervreemde vriende en familielede het mekaar opgesoek en is met mekaar versoen, in die vol kerke en bidure was daar vreugde en geesdrif, op straat en by werksplekke is oor die Here en die geestelike lewe gesels en getuig. In ‘n meubelfabriek het een van die ambagsmanne, Walter Jones, ‘n geloofsprobleem gehad. Mike Lund, sy baas, het ‘n tyd te vore ook tot bekering gekom en hy het Walter probeer help om in Christus te vertrou. Walter kon die geloofstap van in Christus as sy Verlosser te vertrou net nie snap nie. Dit het darem te maklik gelyk. Toe kry Mike ‘n plan. Terwyl Walter uit was om in ‘n huis ‘n tafel te gaan regmaak, het Mike vir hom op sy werksbank ‘n briefie gelaat: Kom sesuur vanmiddag na werk na my toe. Walter het stiptelik om sesuur, brief in die hand, by sy baas se huis opgedaag. “Wil jy my oor iets spreek?” vra Mike gemaak verbaas om sy werksman by sy huis te sien. Nou was Walter uit die veld geslaan. “Maar, ek het die briefie op my werksbank gekry, Meneer. Meneer het gesê ek moet kom.” Mike kyk Walter in die oë: “O, jy het die briefie gekry en jy het dit verstaan en geglo ek wil jou by my huis sien?” “Ja, sekerlik, Meneer. Is daar dalk ‘n probleem?” vra Walter onrustig. “Nee, daar is nie eintlik ‘n probleem nie,” antwoord Mike gerustellend. “Ek kan net nie sien hoe jy my brief so goed begryp het, en die ander brief kan jy nie verstaan nie.” “Watter ander brief, Meneer?” Mike hou ‘n velletjie papier na Walter toe uit. “Lees dit asb. hardop.” Walter neem dit en lees: “Kom-na-My-toe-almal-wat-vermoeid-en-belas-is-en-Ek-sal-julle-rus-gee…” Sy lippe begin bewe en sy oë word vol trane. Hy pluk ‘n groot, rooi sakdoek uit sy sak uit en hou dit oor sy gesig. ‘n Paar oomblikke staan hy so. “Ek dink ek begin verstaan, Meneer. Dit meen, soos ek sommer na u toe gekom het, moet ek ook sonder om baie daaroor te wonder sommer net na Jesus toe kom?” Self nou bewoë knik Mike. “Jy verstaan reg, Walter. Na my toe, het jy ook sommer dadelik gekom. Wil jy nie ook sommer nou na Jesus toe kom nie?” Walter knik. Saam kniel hulle. Walter bid kort: “Jesus, ek het nou gekom.” Toe bly hy stil en kyk verwonder na Mike. “Ek weet nou, Meneer. Jesus het my geneem. Hy haal die gewig van my hart af.” Vol blydskap voeg hy by: “Baie dankie, Here Jesus.”
“Here, vandag kom ek.”