Wo 3 Des: Christus se Houding

SKRIFDEEL: Matteus 11: 25 – 30

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (28-30).

Arthur Thorwalden, van Denemarke, het die Christusbeeld, “Kristus”, gemaak. Dit staan nou in die Kopenhagen-katedraal. Helen E. Sprin­ger vertel in Charles L. Wallis se boek “A Treasu­ry of Sermon Illustrations”, hoe ’n besoeker aan die Katedraal, die verhaal agter die standbeeld, aan­ge­hoor het.

Na Thorwalden die beeld, met koninklike, op­ge­­he­we kop en uitgestrekte, oorwinnende hande, wat seënend uitgestrek is, met plastiekklei ge­giet het, het hy dit op die voetstuk buite laat staan om droog en hard te word, voor dit in die Katedraal in­gedra sou word. Daardie nag het ’n digte, vogti­ge mis van die see se kant af ingewaai. Thorwal­den het met skok besef dit gaan sy beeld geruï­neer. So gou hy kon het hy na sy beeld gaan kyk. Die vog het die beeld laat smelt. Die kop wat oorwinnend en trots opgehef was – volgens Thor­walden se denke oor Christus – het nou afgebuig en onder toe gekyk. Die hande wat in ’n seën­groet opgehef was, het gesak en was nou uit­no­di­gend vorentoe uitgestrek. Hy het ‘n nuwe “Kris­tus” aanskou. Die natuurelemente wat deur God beheer word, het die trotse “Kristus”, volgens sy beskouing, die houding van ’n soekende, roe­pen­de Heiland gegee. Die beeld is net so in die Katedraal inge­neem. ’n Mens sou nou, in ant­woord op die uitgestrekte, uitnodigende hande, op jou knieë voor Christus moes gaan staan om in sy gesig op te kyk.

Die Here Jesus Christus ís die oorwinnende Ko­ning van die ganse wêreld, maar Hy bly steeds die roepende, liefdevolle Verlosser wat afkyk na die mens toe wat na Hom toe kom.

“Here, vandag kom ek vrymoedig met my laste en behoeftes na U toe.”