Woens 31 Des: Die Winnende Krag

Lees Lukas 6:27-31

“…doen goed aan mense deur wie julle gehaat word…”(27).

Dr. Stuart J. Holden was beïndruk deur die toegewyde Christenskap van ’n sersant in die Britse Weermag. Hy het hom gevra hoe hy tot bekering gekom het. “Voor ons Egipte toe gestuur is, was ons in Malta,” vertel die sersant aan dr. Holden. “Een van die manskappe in my afdeling het tot be­ke­ring gekom en hy het geen doekies omgedraai dat hy ’n volgeling van Jesus Christus is nie. Sy ab­so­lute toegewyde lewe, en wat ons gedink het ’n dwepery is, het ons almal ontstig en ons het hom daarvoor laat boet. Hy het volhard in sy navolging van Jesus. Een nag het ons natgereën en moeg gesukkel na ons barakke toe teruggekeer. Ek het kort van draad nog in my bed probeer kom toe hy, sowaar, eers by sy bed kniel en begin bid. Dit was vir my net een te veel. My stewels was swaar van die nat modder. Ek het eers my een stewel geneem en hom teen sy kop gekap en toe die ander stewel geneem en hom teen die ander kant van sy kop ge­slaan. Hy het sy kop net tussen sy skouers ingetrek en verder gebid. Ek het omgedraai, ingekruip en dade­lik aan die slaap geraak. Toe ek die volgende oggend wakker word, staan my twee stewels langs my bed, netjies skoongemaak en blink gepoleer. Dít was my manskap se reaksie op my nydigheid. Dit het my gebreek. Ek het met die kapelaan gaan praat en my hart vir die Here gegee. Daarna het ek vir my manskap gaan vertel en verkoning gevra vir my gedrag. Ek wens jy kon sy blydskap sien!”

Dit is hierdie oorwinning van goedheid in antwoord op kwaad, waarmee Christene ander se har­te kan wen. As die Christen ander se onbe­skoft­heid in dieselfde munt terugbetaal, verloor sy getuie­nis krag. Dit is hoe Paulus en Silas in die tronk van Filippi die tronkbewaarder se hart gewen het. Met rûe stukkende geslaan, sing hulle lofliedere. Jesus het aan die kruis vir sy vyande gebid. Hy het ons geleer: draai die ander wang, antwoord haat met liefde, bevoordeel jou vyand. Dit verg meer as net menslike ordentlikheid en verdraagsaamheid om só ’n kwaliteit lewe te kan uitleef. Slegs as die Heilige Gees die le­we van Christus in ons openbaar kan ons hierdie soort Christenskap uitleef. Dit vra ’n “baie naby aan die Here bly” soort lewe.

“Here, vandag wil ek naby aan U kom, sodat ek u eie liefde in my gedrag teenoor ander kan betoon.”