“…die glans van die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn…die engel sê vir hulle ‘…ek bring vir julle `n goeie tyding van groot blydskap…Vannag is daar vir julle …die Verlosser gebore, Christus die Here!’” (10,11).
Twee jongmense loop met die paadjie wat aan die voet van Catskill Mountains, al langs die rivier kronkel, vertel Secret Place. Hulle praat oor `n jongmeisie wat hulle albei ken. Die jongman sê: “Sy het, wat ek sou noem, `n stralende persoonlikheid.” “Dis waar,” stem sy vriendin saam. “Hoe sou jy dit verklaar?” Hulle stap `n endjie in stilte, dan wys die jongman na die oorkant van die rivier. “Sien jy daardie ou kasteel? Toe ek `n seuntjie was, was ek en my maats lief om hier op die rivierwal te sit en na die kasteel te kyk. Ons kon sê wat in die kasteel aangaan volgens die ligte wat in die kasteel brand. As net die familie bymekaar was, het net `n paar ligte gebrand. As hulle gaste onthaal, brand `n klomp ligte. Een keer het `n lid van die koninklike familie daar besoek afgelê. En jy moes daardie aand die ligte kon sien! Ek het selde so `n glans en skittering in my lewe gesien.” Die gesprek keer terug na hulle vriendin toe. “Dít moet die oorsaak van haar skynende persoonlikheid wees, dink ek,” besluit die jongmeisie. Ek haal haar eie woorde aan soos in Secret Place geskryf: “I think the only way her radiant personality can be explained is that she is constantly entertaining a Royal Guest.” Koning Jesus woon in haar hart.
Dit is wat die eerste Kersnag gebeur het. Die Prins van die Hemel, die Here Jesus, het na hierdie wêreld toe gekom. Die ligte van die hemel is aangesteek. In die Paleis van koning Herodes was dit egter donker, want toe hy by die Wyses uit die Ooste van die geboorte van die nuwe koning, hoor, het hy moord beplan. Al die klein seuntjies van die omgewing moes doodgemaak word. In die stal het dalk net `n lampie gebrand, want dit is waar die Koning van die hemel in híérdie wêreld gebore moes word. Daar was nie plék in die herberg nie! Hierdie wêreld het nie plek vir die Koning van die Hemel gehad nie, daarom het die heerlikheid van die hemel rondom die herders, buite in die veld geskyn. “…in die óóp veld…(het) die glans van die heerlikheid van die Here rondom hulle geskyn” (Luk.2:8,9). Die lig van die Koning van die Hemel skyn óók in harte wat aan Hom behoort en om is.
By ons Kersbome brand vanjaar ook weer pragtige ligte. Steek ons dit aan omdat ons juig oor die koms van ons Koning? Die lig en vrolikheid om `n Kersboom, sonder bewussyn van Jesus se teenwoordigheid en verering, is `n hartseer gebeurtenis. Kom ons vier `n bly en pragtige verligte Kersfees, en kom ons vereer die Here Jesus, omdat Hy gekom het om ons te red en by ons te kom woon.
“Here, vandag juig ons oor u koms na ons toe.”