Wo 10 Des: Elkeen 'n Sendeling

Lees Psalm 121: 1 – 8

“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem…en tot die uithoeke van die wêreld” (8).

Toe adml. Foote in Siam was, vertel Earnest Wor­­ker, het hy die koning met sy howelinge en amp­­te­na­re vir ’n ete na sy skip toe ge­nooi. Na almal plaas­ge­neem het, het adml. Foote, soos sy gewoonte was, die Here se seën oor die ete gevra. Die Siamese koning het sy verbasing uitgespreek: “Ek het gedink net die sen­de­linge doen dit!” “Dis waar,” antwoord adml. Foote, “maar elke Christen ís ’n sendeling.”

Ons gaan in ons nuwe jaar in verskillende om­ge­wings en omstandighede beland en met ver­skil­lende mense in aanraking kom, maar oral waar ons mag kom, moet ons deur ons gedrag, taal, hou­ding vir die Here getuies wees. ’n Jong meisie het eendag met haar dominee gaan praat. Sy werk in ’n fabriek saam met onverskillige mense, vertel sy hom. Dis vir haar swaar om daar haar Christenskap uit te leef. Dink hy nie sy moet, terwille van haar eie geestelike behoud, liewer an­der werk soek nie? Hy vra haar: “Waar het ’n mens lig nodig?” Sy het sy bedoeling verstaan. In die stikdonker is selfs ’n klein liggie baie werd. Sy het teruggegaan, haar getuienis uitgeleef en op ’n dag met ’n paar ander persone, wat ook in die fabriek werk, na die dominee toe teruggekeer. Haar be­sten­dige mooi le­we het op hulle indruk gemaak. Sy het hulle saam­ge­neem kerk toe en la­ter saam met hulle ’n werks­bid­uur begin. “Julle is die lig van die wêreld. Laat julle lig so voor die men­se skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader in die hemel, verheerlik” (Mat.5:14,`6).

Om te kan brand, moet ’n lig aan krag geskakel wees of die lamp moet vol lampolie wees. Ons het die inwoning van die Heilige Gees nodig om vir Christus getuies te kan wees. As ons ontrou is om Christus se getuies te wees of ons misluk in ons pogings en sien nooit vrug op ons taak nie, kan ons met vrymoedigheid met ons behoefte en te­leur­stel­ling na die Here toe gaan. ”…’n lamp­pit wat dof brand, sal Hy nie uitdoof nie” (Jes.42:3). Hy het ons te nodig. Hy wil ons graag bruikbaar vir sy koninkryk maak!

“Here, vandag wil ek met U krag Ugetuie wees.”